Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente-entrepreneur ding om wêreldeer mee
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 23/04/2019

​Keaton Harris, ʼn mediese student van die Universiteit Stellenbosch is weer eens vereer vir sy innoverende nuwe onderneming, InforMED. 

Hierdie keer is hy bo van die land se top- nuwe ondernemings as die Suid-Afrikaanse kampioen van die Global Student Entrepreneur Awards gekroon. 

Harris se InforMED is ʼn “aflyn mobiele vertalingstoepassing wat gesondheidsorgberoepslui help om ʼn meer akkurate differensiële diagnose voor die fisiese ondersoek te maak".

Die toekennings word bestuur deur die Entrepreneurs' Organisation (EO) – ʼn globale sakenetwerk wat oor meer as 50 lande strek en entrepreneurs in staat stel om by mekaar te leer en hul ondernemings te laat groei. Hierdie jaarlikse studentekompetisie gee erkenning aan studente wat ʼn onderneming kan bedryf terwyl hulle heeltyds studeer. 

Die toekenningseremonie in Kaapstad het ná ʼn beoordelingsproses van vier ure plaasgevind. Harris het teen vyf ander finaliste meegeding wat van oor Suid-Afrika heen gekies is. Hul ondernemings het gewissel van horlosievervaardiging tot veldwedloopbyeenkomste en ʼn platform wat ten doel het om talent in Suid-Afrika te hou. 

Verlede jaar was Harris ʼn lid van ʼn span wat ʼn globale kompetisie van die Young Sustainable Impact Innovation Program gewen het vir hul ontwerpersprototipe wat ten doel het om taalhindernisse in die gesondheidsektor te bowe te kom. Die span het ʼn aflyn mobiele vertalingstoepassing geskep wat die taalhindernis tussen gesondheidswerkers en pasiënte afbreek. 

As die wenner van die Suid-Afrikaanse been van die Global Student Entrepreneur Awards gaan Harris in April na Maucau, China vlieg om Suid-Afrika in die wêreldeindronde te verteenwoordig. Hy het ook ʼn kontantprys gewen, asook die geleentheid om deur ʼn verskeidenheid van Suid-Afrikaanse entrepreneurs gementor te word. 

Volgens Harris was hy aanvanklik senuweeagtig om teen sulke uitstaande entrepreneurstalent mee te ding. 

“ʼn Gevoel van totale surrealisme het my oorweldig toe ek as wenner aangewys is, omdat ek besef het ek het teen die beste nuwe studente-ondernemings reg oor die land meegeding en het sowaar as wenner uit die stryd getree. Dit het my gemotiveer om selfs harder te wil werk in alles wat ek doen ­en dit kan net ʼn positiewe impak op my hê op ʼn persoonlike, emosionele en professionele vlak. 

“In China gaan ek teen die wenners van lande van reg oor die wêreld meeding. Ek is geweldig opgewonde om met almal te netwerk en lewenslange internasionale vriendskappe te smee – terwyl ek InforMED Global ontwikkel om die aangesig van geneeskunde soos ons dit ken, te verander."