Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Rugby wen tweede agtereenvolgende Varsitybeker-titel
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 17/04/2019

Maties Rugby het die gesogte dubbele titel in die Varsitybeker-kompetisie vir 'n tweede jaar agtereenvolgens gewen.

Nes in 2018, het sowel die Maties Varsitybeker- as die Maties Young Guns-span hul onderskeie finale in die Varsitybeker-kompetisie gewen.

Maties het Tuks Maandag 34-12 verslaan in 'n volgepakte Danie Craven-stadion om hul tweede titel in twee jaar en hul vyfde titel in die kompetisie te wen.

Vroeër die dag het Maties Young Guns Pukke 32-22 gewen vir hul tweede titel nadat hulle die beker verlede jaar vir die eerste keer gewen het.

“Dit is fantasties dat ons ons dubbele oorwinning in die 2019-seisoen kon herhaal," het Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, gesê.

“Erkenning moet gaan aan ons Maties Sport Hoëprestasie-eenheid, die Maties Rugbyklub-kantoor, uitvoerende komitee, afrigters, steundienspersoneel en laaste maar nie die minste nie, aan ons spelers wat ons in sowel die Young Guns- as die Varsitybeker-kompetisie verteenwoordig het. Dit is selfs nog meer spesiaal dat ons die titels tuis kon verower, want nou deel ons dit met ons universiteitskollegas en mede-studente, families, vriende, borge, donateurs, alumni en die groter Stellenbosch-gemeenskap. Ons is almal trotse Maties!"

Volgens Maties se afrigter, Hawies Fourie, het die spelers die 2019-seisoen beskou as 'n geleentheid om die titel weer te wen, en dit nie bloot net te verdedig nie.

Chris Massyn is as die speler van die finaal aangewys. Chris Smit is vir sy ongelooflike prestasies deur die loop van die toernooi beloon deur as die speler van die toernooi gekroon te word. Edwill van der Merwe – die voorste drieëdrukker in Varsitybeker-geskiedenis nadat hy onlangs sy 23ste drie gedruk het – is as die agterspeler van die toernooi aangewys.

Hierdie drie spelers, saam met ander Matie-staatmakers soos Johan Momsen, Stephan Streicher en Brendon Nell, het vir die laaste keer vir Maties uitgedraf.

Maandag se wedstryd was Maties se 20ste onoorwonne Varsitybeker-wedstryd sedert die finaal in 2017.

Die Young Guns was ook onoorwonne in 2019. Kaptein Marcel Theunissen is as die speler van die finaal aangewys. Hy was ook deel van die wenspan in 2018. 

Fotokrediet: Varsity Cup