Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
BSc Aardwetenskap-student kry graad ná baie swaarkry
Outeur: Asiphe Nombewu
Gepubliseer: 05/04/2019

​Nadat hy vir baie jare moes toesien hoe sy enkelma sukkel om hom en sy vier sibbe te onderhou, het Andile Mkandla (24) van die Strand die skool verlaat nadat hy Graad 10 voltooi het. Hy het toe by konstruksiemaatskappye en die gemeenskap se skrootwerf gaan werk en het later selfs as tuinier gewerk in 'n poging om sy ma finansieel by te staan en om geld te spaar vir skool.

“Daar is een spesifieke dag wat ek nooit sal vergeet nie. Ek was besig in die tuin toe my werkgewer my vra om saam met hom kom te sit vir 'n vinnige geselsie terwyl ons eet. Ek het 'n blom in sy tuin gepluk en met hom begin praat oor bestuiwing en oor alles wat ek op skool oor blomme en plante geleer het."

Andile sê sy werkgewer het vir hom hoop gegee en gesê dit is nooit te laat om terug te keer skool toe nie. Van daardie dag af het hy begin geld spaar vir sy skoolgeld en skoolklere. “Ek is die volgende jaar terug skool toe en danksy my goeie punte, het ek 'n prys van R700 by Rusthof Sekondêre Skool gewen as top presteerder. Ek het die geld gebruik om my skoolgeld vir graad 12 te betaal."

Hoewel hy terug was op die skoolbanke, het Andile voortgegaan om na skool en naweke by die skrootwerf te werk vir 'n klein inkomstetjie om sy ma met noodsaaklikhede vir die huishouding soos elektrisiteit en kos te help.

“Ek het ongelooflike onderwysers gehad – een van my onderwysers het selfs vir my soos 'n ma geword. Die situasie tuis was baie erg en ons plakkershut was te klein vir ons almal. My onderwyser was gaaf genoeg om my by haar aan huis te laat bly vir die duur van my graad 12-eksamen en ons het soos familie geword."

Andile se inspirerende storie is 'n bewys dat uitgestelde drome nie noodwendige afgestelde drome hoef te word nie – hy is een van die honderde studente wat by een van die Universiteit Stellenbosch (US) se April 2019-gradeplegtighede sy graad sal ontvang.

“My studies by die US het baie deure vir my oopgemaak. Ek het in 2017 by Ithema-laboratoriums (Nasionale Navorsingstigting) gewerk en het motiveringspraatjies aangebied en was 'n mentor vir van die leerders wat hul Wiskunde en Wetenskap-klasse bygewoon het. Ek het selfs aan 'n ekskursie na Antarktika deelgeneem in 2017; dit was 'n geleentheid wat 'n mens net een keer in 'n leeftyd kry."

Maar dit was nie altyd maklik nie. “Ek het baie gesukkel in my eerstejaar. Ek het gesukkel om my pad op die kampus te vind en weens finansiële beperkinge het ek gesukkel om die nodige handboeke in die hande te kry."

Andile sê egter hy het baie uit sy gesukkel geleer en dit het hom aangemoedig om met sy eie inisiatief te begin om as mentor vir eerstejaarstudente op te tree en om handboeke van gewese studente bymekaar te maak om dit weer aan diegene wat nie het nie, te gee.

“Omdat ek deur al die harde dinge gegaan het, wil ek nie hê die volgende persoon moet dit ook beleef nie, want dit was die moeilikste tyd van my akademiese loopbaan. Ek was gelukkig genoeg om mense te hê wat my help en probeer het om dinge vir my makliker te maak, mense soos die Whitefield-stigting wat vir my 'n beurs aangebied het. En ek het hulle almal na my gradeplegtigheid genooi."

Andile wil graag sy MSc in Aardwetenskap doen om sy navorsingsvaardighede te verbeter om sodoende by te dra tot die daarstelling van 'n volhoubare en omgewingsvriendelike toekoms. ​