Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US steun menseregte
Outeur: Content Hub/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 20/03/2019

​Die Universiteit Stellenbosch (US) gedenk elke jaar op 21 Maart Menseregtedag saam met die res van die land as deel van die instelling se verbintenis tot die Suid-Afrikaanse Handves van Regte en dus ook studente en personeel se reg tot menswaardigheid, gelykheid en vryheid.

In aansluiting by die US se spesifieke waardes van respek, billikheid en deernis, streef die Universiteit daarna om te verseker dat personeel en studente se reg op toegang tot hoër onderwys en om ingesluit te word by die algehele transformerende ondervinding – akademies en ook komplementerende aktiwiteite – gerespekteer word.

In ooreenstemming met Menseregtedag op 21 Maart, fokus die US vandeesmaand op sosiale geregtigheid. Dit is volgens die 'Raamwerk vir skakeling met US-belanghebbendes in 2019' wat deur die Rektoraat op 5 Februarie goedgekeur is (klik op die titel-skakel hierbo om dokument af te laai).

“Die tema van sosiale geregtigheid weerklink ook in die US se oorhoofse rigtinggewende dokument, Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024, wat in Junie verlede jaar deur die Raad goedgekeur is en van vanjaar af geïmplementeer word," het die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, gesê.

“In terme van ons Visie 2040, is een van die formele aspirasies van die Universiteit om 'n getransformeerde en geïntegreerde akademiese gemeenskap te word wat kritiese denke, wat kritiese denke vier, gesprekvoering bevorder en tot demokrasie, menseregte en sosiale geregtigheid verbind is.

“Een van die ses nuwe kern strategiese temas wat by die hele instelling geïmplementeer word, is om 'n florerende Universiteit Stellenbosch te bou. Die Strategiese Raamwerk dui agt institusionele doelwitte vir hierdie tema aan, waarvan die eerste is om 'n US te kweek wat gekenmerk word deur inklusiwiteit, diep en doelbewuste transformasie, en diversiteit.

“Een van die Universiteit se vyf nuwe waardes is billikheid, wat by die US soos volg gedefinieer word (volgens Visie 2040): “Restitusie in reaksie op ons vorige nalatenskap en regverdigheid in ons strewes.

Toe hulle uitgevra is oor hul siening van menseregte, het personeellede en studente die volgende te sê gehad:

  • Prof Sandra Liebenberg, houer van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregte en visepresident van die Verenigde Nasies se Komitee vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte: “Armoede en ongelykheid is twee van die grootste uitdagings wat die menseregtebeweging in Suid-Afrika en in die res van die wêreld in die gesig staar. Die groeiende kloof tussen ryk en arm ondermyn nie net burgerlike en politieke regte nie, maar ook ekonomiese, sosiale en kulturele regte. Ons moet vinnig beleidsantwoorde vind wat hierdie onderlinge uitdagings kan aanspreek deur die menseregtebeginsels van deelname, verantwoordbaarheid, nie-diskriminasie, deursigtigheid en respek vir menswaardigheid te gebruik."
     
  • Prof Hester C Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, Universiteit Stellenbosch: “Ons gedenk Menseregtedag terwyl die res van die wêreld nog in skok is ná die gruwelike en voorbedagte moord op Moslems in Christchurch, Nieu-Seeland. En op 'n baie ironiese en surrealistiese manier roep hierdie voorval weer die grusame beelde van Sharpeville en die afgryslikhede van 'n ellendige tyd in ons land se geskiedenis te voorskyn. Maar nog meer paradoksaal is die feit dat ons in ons soeke na sosiale en herstellende geregtigheid Boipatong, Marikana, die Life Esidimeni-ramp en voortslepende moorde in Glebelands beleef, almal groteske skendings van menseregte. Die gemeenskaplike faktor in al hierdie voorvalle is menselewens wat verwoes en vernietig word op die altaar van politieke en ekonomiese gerief. Kom laat ons op hierdie Menseregtedag nadink oor en oorweging skenk aan ons verbintenis tot 'n regverdige samelewing wat gekenmerk en gelei word deur die onskendbaarheid van lewe, die waarde wat ons aan ons gemeenskaplike menslikheid heg en die onbeperkte potensiaal van die menslike aard om goed te doen."
     
  • Dr Chris Jones, Eenheid vir Morele Leierskap: “As ons terugkyk oor die afgelope 25 jaar, moet ons die bevordering en beskerming van menseregte vier; ons moet eerbied betoon aan diegene wat vir ons vryheid geveg het en ons moet die regte en die Grondwet wat ons vandag geniet, gedenk."

     
  • Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel: “Wanneer ons Menseregtedag gedenk en vier, moet ons ons visie van 'n samelewing waar regte in diens van waardigheid, genesing, regverdigheid, vryheid en gelykheid aangewend word, onthou."

     
  • Prof Juliana Claassens, Voorsitter van die Departement Ou en Nuwe Testament en Hoof van die Gender-eenheid: “Namate meer mans en vroue opstaan en 'n standpunt inneem, moet ons nie net een keer per jaar nie, maar een keer per week, daaraan herinner word dat ons nie daarin sal slaag het om 'n kultuur van menseregte te vestig alvorens ons nie aanvaar het dat menseregte ook genderregte insluit nie."
     
  • Mnr Bongani Mgijima, Direkteur: US-museum: “Menseregtedag herinner my altyd aan die onselfsugtige opofferings wat die manne en vroue wat voor ons hier was, gemaak het. 'n Groot prys is vir ons vryheid betaal en ons moet daarna streef om al die middele tot ons beskikking te gebruik om 'n nie-rassige, nie-seksistiese samelewing te skep."
     
  • Mnr Leighton September, sekretaris-generaal: Studenteraad: My definisie van menseregte is dat elke mens die reg het op gelyke behandeling en om gerespekteer te word vir wie en wat hulle is. Soos ek dit verstaan, kan sosiale geregtigheid nie bestaan sonder sy teenbeeld, sosiale ongeregtigheid, nie. Dit beteken ons moet die ongeregtighede van die verlede en van ons huidige situasie aanspreek indien ons vorentoe wil beweeg om eendag in 'n samelewing te woon wat werklik gelyk is."