Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA vleisproduseerders gee 'n miljoen aan US se Sentrum vir Voedselveiligheid
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 22/02/2019

Die Suid-Afrikaanse Vleisverwerkersvereniging (South African Meat Processors Association of SAMPA) het R1 miljoen aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Voedselveiligheid geskenk. Die skenking sal navorsing en projekte rondom voedselveiligheid wat by die US gedoen word, ondersteun. Die US se Sentrum vir Voedselveiligheid is in November 2018 gestig.

Die skenking is by 'n geleentheid by die US deur SAMPA-verteenwoordigers oorhandig.

“Dis is 'n groot verantwoordelikheid om te sorg dat kos veilig is om te eet. Daarvoor het die industrie effektiewe regulering, kapasiteit en deursigtigheid nodig," sê voedselmikrobioloog prof Pieter Gouws, direkteur van die US Sentrum vir Voedselveiligheid. “Die gesamentlike benadering wat deur die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Voedelveiligheid gevolg word, is daarop gemik om die nodige stelsels in Suid-Afrika te versterk en sodoende verbruikers te beskerm."

Hy hoop dat die Sentrum toenemend 'n rol sal speel in die opvoeding van verbruikers oor voedselverwante kwessies.

Die Sentrum vir Voedselveiligheid is gesetel in die US Departement Voedselwetenskap in die Fakulteit AgriWetenskappe. Dit is die enigste van sy soort in die land, en fokus op praktiese navorsing oor voedselveiligheid op grondvlak. Dit kyk ook na sake wat verband hou met voedselbeveiliging of voedselverwerking. Dit is verlede jaar deur 'n gesamentlike inisiatief tussen die Universiteit Stellenbosch en die kosbedryf gestig.

Personeel verskaf sedertdien kundige advies en akademiese ondersteuning aan die bedryf en doen navorsing oor relevante kwessies. Die Sentrum streef daarna om danksy bewese wetenskaplike bevindinge die regulasies wat deur die regering rondom voedselveiligheid en oorweeg word te beïnvloed. Werk word gedoen tesame met bedryfsleiers en navorsers.

"Voedselverwante siektes het 'n beduidende impak op verbruikersgesondheid en die lewensvatbaarheid van die voedselbedryf," reken prof Gouws.

Hy sê voedselverwante siektes en die onttrekking van produkte vanaf die rakke is 'n wêreldwye probleem en beslis nie uniek aan ontwikkelende lande nie.

Oor die Sentrum vir Voedselveiligheid sê hy: "Dis 'n onafhanklike entiteit. Die mandaat is om oor alle fakulteite en dissiplines binne die Universiteit en ander entiteite, instellings, nasionale en internasionale instellings van hoër onderwys heen te werk, en openbare en private ondernemings in Suid-Afrika en in die buiteland daarby in te sluit."

Volgens SAMPA se president, Andrew Cocks, is dit noodsaaklik dat die bedryf wetenskaplike navorsing ondersteun, soos deur die Sentrum vir Voedselveiligheid gedoen word.

"Vir SAMPA is dit uiters belangrik dat Suid-Afrika se voedselbestuurstelsel verbeter. Dit kan gedoen word deur beter integrasie en samewerking tussen rolspelers, insluitend voedselvervaardigers, die regering en die akademie," het hy gesê.

Arnold Prinsloo, vise-voorsitter van SAMPA, het die Universiteit en prof Gouws veral bedank vir die waardevolle hulp en kundigheid wat tydens die onlangse landwye listeriose-uitbraak aan die bedryf verleen is.

"Dit het vir ons gewys dat ons meer interaksie tussen industrie en navorsers nodig het. Ons moet seker maak dat so iets geensins weer gebeur nie, "het Andrew Cocks bygevoeg. "Voedselveiligheid is 'n generiese probleem, en nie net beperk tot een maatskappy of een fabriek nie. Ons moet dit reg doen, want dis beter vir die hele bedryf, en vir ons kliënte."

Die US visekanselier, prof Wim de Villiers, het SAMPA bedank vir die skenking aan die Sentrum vir Voedselveiligheid. Volgens hom is dit belangrik dat universiteite en industrieë saamwerk in belang van landsburgers.

"Die insameling van kennis en die toepassing daarvan in die 21ste eeu word gekenmerk deur samewerking. Universiteite het insette uit die industrie nodig om seker te maak ons navorsing werklike behoeftes aanspreek, en dat ons studente weet wat op hulle wag wanneer hulle die werksmag betree," het hy gesê.

Oor SAMPA:

Die Suid-Afrikaanse Vleisverwerkersvereniging (South African Meat Processors Association of SAMPA) is in 1945 gestig en is 'n vrywillige vereniging van belanghebbendes in die vleisverwerkings- en verwante sektore. Dit dien op nasionale vlak as die skakel tussen owerhede en die sektor. Dit help om vrywillige standaarde in die bedryf om te skakel na verpligte regulasies om seker te maak dat verbruikers beskerm word, voedsel veilig is en kwaliteit produkte gelewer word. SAMPA-lede is verbind daartoe om produkte te lewer wat veilig is om te eet, wat voedsaam is, waarde vir geld is en in lyn is met vereistes rondom etikettering.

Media navrae:

Prof Pieter Gouws

Direkteur: Sentrum vir Voedselveiligheid

Departement Voedselwetenskap, Universiteit Stellenbosch

pgouws@sun.ac.za

+27 (21) 808 2609

Peter Gordon

Uitvoerende hoof: SAMPA

peter@savam.co.za

+27 (21) 83 255 3486

Foto onderskrif:
'n Skenking van R1 miljoen is aan die viserektor van die Universiteit Stellenbosch, prof Wim de Villiers (voor, naaslinks) oorhandig deur verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Vleisverwerkersvereniging (South African Meat Processors Association of SAMPA). Dit ondersteun die werk wat deur die Sentrum vir Voedselveiligheid gedoen word onder leiding van prof Pieter Gouws (links voor). Onder die SAMPA-bestuurslede teenwoordig was Wesley de Jager (links agter), Bruce Smit (naasregs, agter), Alistair Hayward (regs agter), (voor) Arnold Prinsloo (vise-voorsitter), Peter Gordon (hoof-uitvoerende beampte: SAMPA), Andrew Cocks (president: SAMPA) en Melindi Wyma. Saam met hulle is (middel agter) prof Gunnar Sigge (voorsitter: US Departement Voedselwetenskap), prof Danie Brink (dekaan: US Fakulteit AgriWetenskappe). Fotograaf: Anton Jordaan