Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matia Mukana gaan US by nasionale FameLab-kompetisie verteenwoordig
Outeur: Author: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 05/02/2019

Matia Mukama, 'n doktorale student in Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), is Vrydag (1 Februarie) as wenner van die US-uitdunronde van die 2019 FameLab wetenskapkommunikasie- en redenaarskompetisie aangewys. Carla Snyman, 'n doktorale student by die Instituut vir Wynbiotegnologie, en George Teke, 'n meestersgraadstudent in Chemiese Ingenieurswese, het onderskeidelik tweede en derde geëindig.

By die geleentheid in die Wilcocks-gebou op die US-kampus het Mukama en 16 ander nagraadse studente elkeen net drie minute gekry om hul navorsingswerk met die gehoor te deel. As wenner van die plaaslike ronde sal Mukama die US in Mei vanjaar in die eindronde in Gauteng verteenwoordig. Hier sal hy teen die wenners van die uitdunrondes wat by ander Suid-Afrikaanse universiteite gehou is, te staan kom. 

Die US FameLab-uitdun is deur Jive Media gereël en is gesamentlik deur die Nagraadse Kantoor en die Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap, Evaluasie en Tegnologie (SENWET) aan die US geborg. Die beoordelaars was dr Palesa Mothapo van die Departement Plant- en Dierkunde, dr Gillian Arendse van die Afdeling Studentewerwing en Loopbaanvoorligting en dr Marina Joubert van SENWET. 

Mukama, wat nuwe kartonhouers ontwerp om die rakleeftyd van granate te verleng en ook uitvoere te verhoog en arbeidkoste te verminder, het in reaksie op sy oorwinning gesê hy is baie lief vir wetenskap en navorsing. “Daarom voel ek baie opgewonde en dankbaar dat ek my werk binne drie minute op 'n eenvoudige en verstaanbare wyse kon oordra. Ek wil die afrigters, beoordelaars, gehoor en mededeelnemers bedank omdat hulle in my geglo het. FameLab is een van die grootste wetenskapkommunikasiekompetisies in die wêreld; daarom is dit 'n uitsonderlike ondervinding om een van hul kompetisies te wen." 

Mukama het gesê hy sien uit daarna om die US by die nasionale eindronde te verteenwoordig en dat hy sy bes sal doen om die Universiteit rede te gee om trots te wees. 

Al die finaliste sal bykomende afrigting in wetenskapkommunikasie ontvang. Dit word deur die Britse Raad en die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Wetenskap- en Tegnologiebevordering geborg. Die wenner van die Suid-Afrikaanse eindronde sal in Junie vanjaar teen deelnemers uit 30 lande te staan kom by die internasionale FameLab-kompetisie wat in Cheltenham in die Verenigde Koninkryk gehou word. 

  • Foto: Matia Mukama (middel), George Teke en Carla Snyman by die FameLab US-uitdunronde.
  • Fotograaf: Hennie Rudman