Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jy kan nog steeds #Move4Food in 2019
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 05/02/2019

"Kom ons hou aan #Move4Food!" Dit is die boodskap van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) wat weereens gereed maak om die 2019 Kaapstadse Fietstoer aan te pak in sy voortgesette ondersteuning van die student-gedrewe #Move4Food-veldtog.

Die veldtog het in Augustus 2018 afgeskop met 'n ambiseuse insamelingsteiken van R10 miljoen (kontant en goedere). Die doel is om voedselbanke op die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse te vestig om te verseker dat geen Matie-student vir die volgende drie jaar moet honger ly nie.

Tot op hede is meer as R1 miljoen in skenkings en goedere ingesamel. Die veldtog eindig op 19 April 2019.

Sedert die bekendstelling van #Move4Food, het studente, personeel, alumni en vriende van die Universiteit die veldtog op verskeie maniere ondersteun. "Ons is so dankbaar vir almal wat besluit het om te #Move4Food en ons moedig ander aan om die uitdaging te aanvaar en ons studente te help om hul doelwit van R10 miljoen te bereik," het Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge gesê.

Prof De Villiers het sy steun vir hierdie veldtog getoon deur in September verlede jaar die volle Sanlam Kaapstadse marathon van 42,2 km te hardloop. Prof De Villiers, wat al meer as R152 000 ingesamel het, was een van 110 personeellede, alumni, studente en vriende van die US wat as deel van die #Move4Food-veldtog aan verskillende wedlope onder die vaandel van die Sanlam Kaapstad-marathon deelgeneem het.

“Dit is bemoedigend om die passie en entoesiasme van ons personeel, studente en alumni te sien om studentesukses by die US te bevorder," het De Villiers gesê.

Terwyl sommige die marathon aangepak het, het ander hul steun op verskillende maniere gewys. Alumnus, Folkers Tullki-Williams, wat deesdae in Helsinki woon, het die 375km oor Estland gestap om R10 000 vir #Move4Food in te samel, terwyl personeellid Desmond Thompson aan die Coast2Karoo Cycle Race deelgeneem het. 

Afdelings binne die US het nie-bederfbare kositems bymekaargemaak en selfs 'n Zumbathon-sessie aangebied.

Studente het op hul beurt 'n 24-uur spin-a-thon op 12 stilstaande fietse in die Neelsie aangebied en 'n hele dag en nag meer as 8 000 kilometer met behulp van musiek, energie en passie afgelê. Daardie geleentheid het ook die aandag gevestig op die reuse-kosblik wat die studentevereniging, Engineers Without Borders Maties, gebou het.

Altesaam 15 095 nie-bederfbare kos items is oor daardie 24 uur in die kosblik geplaas wat die teiken van 15 000 oorskry het. 'n Groot bydrae van 10 800 maaltye van die PPS-stigting, tesame met 'n  beduidende bydrae van produkte deur die Spar in die Neelsie, het gesorg vir 'n groot hupstoot.

In Desember 2018 het 'n span studente van die mediese kampus 'n ambisieuse 902km fietstoer van Vioolsdrift aan die Namibiese grens tot by Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van Afrika, aangepak as deel van #Move4Food. Die groep, Breda Reed, Mias Marais, Luke Titus, Christoff Greyling en Wonderboy Nkosi het daarin geslaag om meer as R57 000 in te samel. Jy kan hulle nog steeds ondersteun deur hier te skenk: https://www.givengain.com/a/hippocampusfund/.

"Ons het reeds 'n lang pad gekom - maar daar is nog steeds 'n lang pad om te gaan. Help ons studente om hul eindstreep te bereik deur die #Move4Food-veldtog te ondersteun," het prof De Villiers gesê.

Hou gerus hierdie spasie dop vir #Move4Food geleenthede wat oor die volgende twee maande sal plaasvind of stuur 'n e-pos aan Candice Egan by eganc@sun.ac.za indien jy betrokkke wil raak.