Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit verwelkom PhD-studente
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 30/01/2019

Die Nagraadse Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het ʼn nuwe groep PhD-studente by 'n funksie in Stellenbosch op Dinsdag, 29 Januarie 2019​ verwelkom. Die Skool het nou 30 voltydse studente uit 17 lande, terwyl 21 personeellede vir die deeltydse program ingeskryf is.

Die skool is gestig as deel van die fakulteit se navorsingstrategie en is die tuiste van 'n voltydse, residensiёle doktorsgraadprogram. Die eerste voltydse PhD-studente het in 2014 met hul drie jaar lange navorsingsprojekte begin. Die inisiatief is die jaar daarna uitgebrei om ook 'n Nagraadse Skool vir Personeel in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe in te sluit.

"Die eerste personeellid wat sal gradueer, is me Samantha Adams van die Departement Bedryfsielkunde, wat haar PhD-graad gedurende die April-gradeplegtigheid gaan ontvang," sê dr Jaco Franken, bestuurder van die skool.

Die skool bied finansiёle hulp wat aan 'n gedeeltelik gestruktureerde ondersteuningsprogram gekoppel is en help studente met die kern van hul studies om hul sodoende in staat te stel om 'n PhD-graad binne drie jaar te behaal. Die nagraadse skool vir personeel bied 'n soortgelyke ondersteuningsprogram wat personeel van die fakulteit die geleentheid gee om vir vier tot vyf jaar deeltyds aan hul PhD-grade te werk.

“Die feit dat die program beurse vir voltydse studie van drie jaar aanbied, dra aansienlik by tot die sukses daarvan," verduidelik dr. Franken. “Dit beteken egter ook dat daar 'n voortgesette behoefte aan befondsing is."

Hoewel die meeste voltydse studente uit Afrikalande afkomstig is, het studente uit Sjina, Oostenryk, Nederland, Duitsland en die Verenigde Koninkryk ook al by die skool studeer.

  • Banierfoto: Voltydse en deeltydse PhD-studente van die Nagraadse Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het 'n verwelkomingsfunksie by Middelvlei Landgoed te Stellenbosch bygewoon. Van hul studieleiers was ook teenwoordig.