Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
£20 miljoen navorsingsnaaf kan Afrika-tieners help om potensiaal te bereik
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 29/01/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) is betrokke by ʼn langtermyn-inisiatief wat voorgestaan word deur die Verenigde Koningryk se Navorsing- en Innovasieraad (UKRI) wat ten doel het om die gesondheid en lewensvooruitsigte van ʼn generasie van Afrika-jeug, drasties te verbeter.

Die projek word gelei deur prof Lucie Cluver van Oxford-universiteit, en bestaan uit 12 individuele studies wat onderneem word as deel van die nuwe UKRI Globale Navorsingsnaaf. Prof Mark Tomlinson, ʼn professor in Globale Gesondheid aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is ʼn mede-ondersoeker van die inisiatief. Tesame met dr Sarah Skeen, ook van die US se Departement Globale Gesondheid, sal Tomlinson betrokke wees by een gedeelte van die groter projek – die “Child Community Care Study" waarby kohorte kinders van Zambië, Malawi en Suid-Afrika opgevolg sal word in samewerking met die Universiteit Kollege Londen.

Die inisiatief word finansieel ondersteun deur die Globale Uitdagings Navorsingsfonds (GCRF), wat ongeveer £200 miljoen vir die inisiatief beskikbaar gestel het – die grootse enkele belegging nog deur die UKRI. Die GCRF-befondsing is ʼn belangrike aspek van die VK se bystandstrategie, en posisioneer dit Britse navorsing om die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD) aan te spreek.

Die UKRI GCRF Naaf vir die Versnelling van Sukses vir Afrika Adolessente word gelei deur ʼn interdissiplinêre span by Oxford-universiteit en die Universiteit van Kaapstad, met verskeie universiteit-vennote in Afrika, vanaf Suid-Sudan en die Demokratiese Republiek van Kongo, tot Lesotho en Tanzanië. Dit neem die VN se Ontwikkelingsprogram se sentrale konsepte van 'versnellers' – beleide of programme wat verskeie VODs aanspreek – een stap verder.

Teen 2050 sal daar half ʼn miljard tieners in Afrika wees. Ten spyte van die ongelooflike potensiaal wat so ʼn uiteenlopende groep jongmense inhou, sal baie van hierdie tieners reeds vasgevang wees in ʼn siklus van armoede, geweld, lae vlakke van onderrig en swak gesondheid, teen die tyd wat hulle adolessensie bereik. Hierdie nuwe naaf poog om hulle te help om hul doelwitte en aspirasies te bereik.

Navorsers van Oxford se Departemente van Sosiale Beleid en Intervensie, Tropiese Geneeskunde, die Blavatnik Skool vir Regering, Engels, Ekonomie en Psigiatrie sal met internasionale vennote saamwerk, insluitende UNDP, UNICEF en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), Afrika-regerings, befondsers soos die Global Fund en PEPFAR, NRGs en jongmense, om ʼn reeks 'versneller sinergie' dienskombinasies vanuit die gesondheid-, opvoeding-, welsyn- en ekonomiese sektors te identifiseer en te toets. Sodoende sal hulle bepaal watter kombinasies, soos malariavoorkoming, besigheidsvaardighede en geweldvoorkoming, tieners in Afrika die beste geleenthede bied om beter, veiliger lewens te lei.

Prof Lucie Cluver, ʼn professor van Kinder- en Gesingswelsynwerk by Oxford se Departement Sosiale Beleid en Intervensies, sê: “Ons was gelukkig om vir baie jare saam te werk met regerings van oor Afrika, VN-agentskappe en befondsers. Hulle wil adolessente help om die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te bereik, maar dit is ʼn groot uitdaging met finansiële hulpbronne en globale bystand wat kwyn. Hierdie naaf poog om aan hulle behoeftes te voorsien: om te bepaal watter eenvoudige kombinasie van dienste is bekostigbaar en sal gesondheid, opvoeding, werksgeleenthede en veiligheid verbeter.

Die span se vorige werk sluit in 'kontant plus versorgingsprogramme' wat nou meer as twee miljoen kinders in Afrika bereik, en die opetoegang 'Ouerskap vir Lewenslange Gesondheid' programme saam met UNICEF and die WGO, wat aan 20 lande in die Globale Suide gelewer word.

Oor die volgende vyf jaar sal die UKRI Globale Navorsingsnaaf saam met regerings, internasionale agentskappe, NROs en gemeenskapsgroepe in die ontwikkelende wêreld werk. Hierdie streke sluit die Afrika-kontinent, Suid-Amerika, Suid-Oos Asië en die Karibies in, waar hulle sal werk om kreatiewe en volhoubare oplossing te vind vir elke streek se spesifieke gemeenskapsprobleme.

Die Naaf sal op van die wêreld se grootste uitdagings fokus, van die verbetering van menslike gesondheid en die bevordering van geslagsgelykheid en sosialegeregtigheid, tot die versterking van ekologiese sisteme en biodiversiteit op land en in die see. Ander projektemas sluit in die ontwikkeling van landboukundige volhoubaarheid en weerstand teen natuurlike rampe. Die oorhoofse doelwit is om die wêreld veiliger, gesonder en meer welvarend te maak.

UKRI se Uitvoerende Hoof, Sir Mark Walport, sê: “Vanaf die vasvat van klimaatsverandering tot die voorkoming en behandeling van infeksiesiektes, die soektog na kennis is ʼn globale onderneming wat samewerking vereis tussen die wêreld se beste kenners.

“Die Fonds vir Internasionale Samewerking en die skep van 12 globale navorsingsnawe is bewyse van die VK se toegewyding om te verseker dat ons navorsers en innoveerders saam met hulle eweknieë oor die wêreld heen kan werk om belangrike vrae aan te spreek."

Onderskrif: Tiener-adviseursgroep in Sierra Leone.

Foto: Inge Wessels