Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Drie natuurwetenskaplikes ontvang Kansellierstoekennings
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 16/01/2019

Drie akademici in die Fakulteit Natuurwetenskappe is met die Universiteit Stellenbosch se Kansellierstoekenning vereer vir hul prestasie in navorsing en leer en onderrig. Die toekennings is tydens die Desember 2018 gradeplegtigheid oorhandig.

Prof. Jannie Hofmeyr en prof. Emile van Zyl het erkenning ontvang vir volgehoue uitmuntende navorsing gedurende hul loopbane, terwyl prof. Ingrid Rewitzky die toekenning vir uitstaande leer en onderrig ontvang het. Die doel van die Kanselierstoekennings is om erkenning te gee aan personeellede wie se loopbane deurlopend van volgehoue prestasie getuig en word beperk tot net 15 toekennings per jaar in navorsing, onderrig en leer, en gemeenskapsdiens.

Prof. Jannie Hofmeyr word beskou as 'n wêreldleier op die vakgebied van sisteembiologie en biokompleksiteit en het internasionale erkenning ontvang vir sy bydraes tot dié spesialisvelde. Hy doen navorsing oor die regulatoriese ontwerp van die metabolisme en het verskeie fundamentele bydraes tot rekenaarmatige sisteembiologie gemaak. Meer onlangs fokus sy navorsing op komplekse sisteme en biokompleksiteit. Hy is die ontvanger van die Harry Oppenheimer-genootskap, die Beckman-Coulter Goue-medalje van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Biochemie en Molekulêre Biologie, en was 'n genoot van die Wissenschaftskolleg zu Berlin. Hy is lid van die Academy of Science of South Africa en 'n genoot en president van die Royal Society of South Africa.  Hy is tans direkteur van die Sentrum vir die Bestudering van Komplekse Sisteme in Transisie by die US.

Prof. Emile van Zyl van die Departement Mikrobiologie is 'n kundige in gis-biotegnologie. Sy navorsing oor omgewingsvriendelike alternatiewe vir fossielbrandstowwe, deur van rekombinante tegnologie gebruik te maak, het tot internasionale erkenning gelei. Hy bestudeer die mikrobiese degradering van plantmateriaal met die doel om die afbraakprodukte as roumateriaal vir die produksie van biobrandstof te gebruik. In 2007 is die SARChl leerstoel vir biobrandstof en ander alternatiewe skoon brandstowwe aan hom toegeken en die toekenning is drie keer hernu. Sy navorsingsgroep het 22 patente geregistreer, en hy het meer as 140 navorsingsartikels gepubliseer. Hy is die ontvanger van die Silwer-medalje van die die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mikrobiologie en die Havenga-toekenning vir Lewenswetenskappe.

As Visedekaan vir Onderrig en Leer, was prof. Ingrid Rewitzky instrumenteel in die fasilitering en ondersteuning van 'n akademiese benadering tot onderrig en leer in die Fakulteit Natuurwetenskappe. Dit sluit onder meer in die daarstelling van 'n aktiewe Hub vir Onderrig en Leer en 'n gedifferensieerde ondersteuningsprogram vir voorgraadse studente. Die impak van hierdie inisiatiewe kan gesien word in die verhoogde slaagsyfer van voorgraadse studente, en die toename in deelname van akademiese personeel in alle aspekte van onderrig en leer. In haar eie vakgebied, Wiskunde, het sy die ontwikkeling van aanlyn interaktiewe inhoud geïnspireer om die gaping tussen skool en universiteit te oorbrug, sowel as voortdurende hernuwing van programme en modules. Sy is tans ook hoof van die Departement Wiskundige Wetenskappe by die US.

Op die foto, van links na regs, prof. Emile van Zyl, prof. Ingrid Rewitzky en Prof Jannie Hofmeyr (ver regs) saam met Prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe.