Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voormalige SciMathUS-student behaal uitnemendheid met PhD
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 12/12/2018

“Jy kan nie buitengewone resultate met gewone pogings behaal nie. Jy moet die ekstra myl loop. Wees sterk en vind daardie een ding wat vir jou 'n aansporing is."

Dit is die advies van Claudia Ntsapi wat op Dinsdag 11 Desember 2018 haar PhD in Fisiologie by die US-gradeplegtigheid vir die Fakulteit Natuurwetenskappe ontvang.

Ntsapi het in die woonbuurt Eldorado Park in Johannesburg grootgeword. Terwyl die meeste van haar hoërskoolvriende besluit het om hul tersiêre opleiding in Johannesburg te deurloop, het sy besluit om eerder Stellenbosch toe te kom nadat sy foto's van die pragtige kampus gesien het.

“Die eerste keer wat ek van die Universiteit Stellenbosch gehoor het, was in graad 11, deur my voorligtingsonderwyser, wat Teologie op Stellenbosch studeer het. Hy het ons van die Universiteit vertel en ek dink toe ek die foto's van die omgewing sien, het ek daarop verlief geraak, nog voor die werklike plek, en ek het net geweet dis waarheen ek wil gaan. Ek het nêrens anders aansoek gedoen nie. Omdat ek geweet het dis waar ek moet wees, het ek net by die US aansoek gedoen."

Nadat sy in 2007 aan die Sekondêre Skool Kliptown gematrikuleer het, wou Ntsapi vir 'n graad in Chemiese Ingenieurswese inskryf, maar sy moes eers haar punte verbeter. Gelukkig hoor sy toe van die oorbruggingsprogram SciMathUS, oftewel Wetenskap en Wiskunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy het suksesvol vir die program ingeskryf en baie goed gevaar, maar gou besef sy wil eintlik BSc, en nie Ingenieurswese nie, studeer.

“Toe ek op skool was, het ek nie geweet daar is soveel verskillende variasies van wetenskap nie. Ek het geweet ek wou iets in die wetenskapveld doen, en toe die SciMathUS-program ons aan meer opsies bekend stel, het ek geweet dis wat ek wil doen. SciMathUS het deure vir my oopgemaak; dit het my 'n tweede kans gegee om my ware passie te ontdek."

Claudia 02.jpeg

Ntsapi sê sy het nooit gedink sy sal tot op PhD-vlak vorder nie. Sy is die eerste persoon in haar gesin wat 'n voorgraadse graad behaal het, iets waarop haar ouers geweldig trots is. “My gesin was nog altyd baie ondersteunend oor wat ek doen, al verstaan hulle nie heeltemal waaroor my navorsing gaan nie. Met my nagraadse studie moes ek baie gesinsvakansies inboet, maar ek het altyd onthou dat ek met iets groters as myself besig is."

Ntsapi se PhD-navorsing fokus op “self-eet"-selle wat met Alzheimersiekte verband hou en hoe dit potensieel beheer kan word om hierdie verwoestende neurodegeneratiewe siekte te bestry. Ntsapi sê dit was die belangrike menslike hoek wat haar tydens haar MSc-graad, gerig op Parkinson se siekte, gemotiveer het om met navorsingswerk voort te gaan.

“Hierdie tipe navorsingswerk kan soms baie eensaam raak en jy sien nie onmiddellik die resultate nie, of die eksperimente is nie altyd suksesvol nie, maar jy moet positief bly en aanhou werk. Ek het vroeg reeds besef daar is werklik mense wat geraak word deur die werk wat ek doen. Jy doen iets wat groter is as jouself. Hierdie besef het my dryfkrag geword om met my laboratorium-navorsingstudie voort te gaan. Dalk is ek nie die een wat die kuur vir 'n siekte ontdek nie, maar ek voel ons voeg elkeen 'n stukkie van die legkaart by om die volledige en groter prentjie te kan sien, die probleem te ontrafel, en uiteindelik resultate te behaal."

Foto deur Stefan Els.