Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika-universiteitedag vier jongmense
Outeur: Amanda Tongha & Refiloe Nkhasi
Gepubliseer: 30/11/2018

Die jeug behoort die middelpunt van Afrika se ontwikkeling te wees. Dít was die kernboodskap met die Universiteit Stellenbosch (US) se vieringe van Afrika-universiteitedag 2018. Hoëronderwysinstellings op die vasteland vier dié dag op 12 November elke jaar en herdenk so ook die totstandkoming van die Vereniging van Afrika-universiteite in 1967. Vanjaar se tema was “Bou die Afrika wat ons wil hê: Die rol van jongmense". By die US het die vieringe oor twee dae gestrek en 'n seminaar, rolprentaand en galadinee ingesluit.

“Afrika het die grootste jeugbevolking ter wêreld. As ons 'n volhoubare en voorspoedige Afrika wil hê, moet ons sorg dat die jeug by daardie voorspoed betrek word," het Farai Mubaiwa, medestigter van die jeuggedrewe organisasie Africa Matters en een van drie paneellede by die seminaar vir Afrika-universiteitedag op 15 November, gesê. Spreker na spreker het hierdie boodskap benadruk, en was dit eens dat jeugbetrokkenheid maatskaplike kwessies soos ongelykheid en werkloosheid kan help hanteer.

Met 'n bepaalde klem op die uitdaging van werkloosheid het dr Nyambura Mwagiru, koördineerder van internasionale aangeleenthede vir pasgemaakte akademiese programme by die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool, soos volg opgemerk: “Ons het 'n punt bereik waar ons nie anders kan as om Afrika se jongmense te betrek nie. In plaas daarvan om jongmense te vertel dat hulle dit kán doen en dat hulle die toekoms is, het ons nou 'n geleentheid om hulle dit regtig te láát doen."

'n Ander paneellid, Eduard Beukman, 'n lid van die Studenteraad (SR) en die voorsitter van die US se Akademiese Belangeraad, het 'n behoefte uitgespreek aan 'n Afrika waar “ontwikkeling om mense draai, en staatmaak op die potensiaal wat mense, veral vroue en jongmense, bied". In dié verband het Beukman gevra: “Rus ons onderrig- en leerstelsels individue toe met die vaardighede om die komplekse probleme van die 21ste eeu die hoof te bied? Hedendaagse uitdagings verg transdissiplinêre en deelnemende onderwys."

Studente is ná die seminaar op 'n Afrikarolprentaand getrakteer. 'n Geesdriftige groep het in die Pulp-rolprentteater bymekaargekom om na die prente Five fingers for Marseilles en Half of a Yellow Sun te kyk.

Vir die kleurryke galadinee die volgende aand het studente van verskillende nasionaliteite in die VV-saal in die Neelsie-studentesentrum byeengekom. Die geleentheid, wat deur US Internasionaal en die Afrikastudenteraad aangebied is, was 'n vertoonvenster vir die beste van Afrika – van kuns en poësie, tot mode en musiek.

Die gala is afgesluit met 'n erkenningsplegtigheid waar Josephine Chileshe en Pamela Ncube, albei lede van die navorsingsgroep oor gasheerpatogeen-mikobaktomika in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Afrikaleierskapsbeurse van US Internasionaal ontvang het. Die beurs word toegeken aan Afrikastudente wat in die akademie sowel as op ko-kurrikulêre gebied toewyding en leierskap aan die dag lê. Josephine was 'n kernrolspeler in die skep van die portefeulje vir internasionale studenteverteenwoordiging in die nagraadse studenteraad by Tygerberg, en was ook die heel eerste bekleër van hierdie portefeulje. Pamela het op haar beurt in 2015/16 as borgskap- en geleentheidsbestuurder in die SR-portefeulje vir kuns en kultuur gedien, is 'n lid van die TH-kinderstigting, en tree op as 'n tutor by 'n skool in Kayamandi.

Kyk hier na 'n video van US se Afrika-universiteitedag vieringe.