Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Naaldekoker-studie bied hulpmiddel om stand van varswaterbronne in Afrika te ontleed
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 22/11/2018

Beplanners en bewaringslui het nou toegang tot ’n nuwe hulpmiddel wat naaldekokers inspan as aanduiderspesies om die stand van varswaterbronne in Afrika mee te bepaal.


Die hulpmiddel genaamd die Afrika-naaldekoker- biotiese indeks (ANBI) is ontwikkel deur Carlien Vorster as deel van haar PhD-studie. Sy is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit van AgriWetenskappe in die Departement van Bewaringsekologie en Entomologie. Vorster behaal in Desember haar doktorsgraad (in bewaringsekologie).


“ANBI is ’n praktiese hulpmidddel om die stand van varswaterbronne en biodiversiteit op die kontinentale skaal te ontleed,” het sy gesê. Die indeks is gegrond op inligting oor die geografiese verspreiding, bedreigingsvlak en ’n spesie-kwesbaarheidsindeks van die 604 naaldekokerspesies wat bestudeer is. ANBI is geskoei op die Suider-Afrikaanse biotiese indeks van naaldekokers (NBI) as vertrekpunt. Prof Michael Samways en Dr John Simaika, onderskeidelik Vorster se studieleier en mede-studieleier, het gehelp om hierdie indeks te ontwikkel.


Die insekorde Odonata (“ware” naaldekokers en waterjuffers), word kollektief na verwys as naaldekokers. Hierdie groep insekte word beskou as ’n taksonomiese groep wat kan dien as aanduider van omgewingsveranderings en ekologiese welstand.


“Naaldekokers word wêreldwyd as uitstekende aanduiderspesies beskou. Hulle is helderkleurig, kleurvol en opvallend,” sê Vorster. “Hulle is ook taamlik maklik om in die natuur te identifiseer en taksonomies ook redelik bekend.”


Hierdie insekte benodig verskillende soorte habitat wat kenmerkend is van die verskillende varswaterstelsels waarin hulle aangetref word. “Naaldekokers is ook hoogs beweeglik en reageer gou op veranderde watertoestande, hetsy om nader daaraan of verder daarvan te beweeg,” het Vorster verduidelik.


Vorster het hierdie hulpmiddel ontwikkel om besluitnemers gemoeid met die bestuur en bewaring van varswaterstelsels en biodiversiteit se hand te sterk. “ANBI bied bewaringslui en beplanners ’n vars perspektief op die stand van riviere, poele en vleilande,” het sy gesê.


Die indeks kan gebruik word om die ekologiese welstand van stilstaande en vloeiende varswaterbronne te bepaal. ANBI fokus op naaldekokers binne geografiese gebiede eerder as om die data oor hulle in terme van vasgestelde landgrense te ontleed. Dit word ook gegrond op ontledings van ’n insekgroep wat in varswaterekosisteme en ekosisteme op land voorkom.


ANBI-puntetellings vir spesies wissel van “laag” tot “hoog”. Vorster verduidelik dit soos volg: “ ’n Naaldekokerspesie wat wydverspreid voorkom, nie bedreig word nie en habitatversteurings kan weerstaan, kry lae punte in terme van die indeks en word as ‘generaliste’ (wat algemeen veelsydig is) bestempel. Hierteenoor kry spesies met ’n beperkte verspreidingsgebied, wat hoogs bedreig en besonder sensitief is vir habitatversteurings, hoër punte op die indeks. Hulle word as ‘spesialiste’ beskou.”


Skoon varswaterbronne en die (natuur se) produkte en ekosisteemdienste wat daardeur gelewer word, is noodsaaklik vir die voortbestaan van mense en die natuur. Varswaterstelsels is egter ook die mees bedreigde van alle ekosisteme ter wêreld. Afrika se varswaterbronne is ook onder toenemend edruk. “Afrika se droë en dikwels onvoorspelbare klimaat, tesame met die snelle bevolkingsgroeikoers (op die vasteland), kan moontlik die toekomstige impak op varswaterekosisteme vererger,” het Vorster gesê.


Sy glo dit is belangrik om die stand en ekologiese welstand van varswaterstelsels behoorlik te begryp vir beplannings- en bewaringsdoeldoeleindes, asook (klimaatsverwante) aanpassings, met inagneming van die toename in waterrisiko’s. “Betroubare inligting is nodig om ingeligte besluite oor varswaterbronne in Afrika te neem,” het Vorster gesê. “Pogings om begrip oor en die monitering van varswaterbronne te verbeter, is van kernbelang om (habitat)verval te begryp, asook om bewaringsuksesse aan te dui.”


Vorster het sowat 115 000 verspreidingsrekords van naaldekokers van die Odonata-databasis vir Afrika gebruik. Sy het ook ANBI se punte vir elke spesie wat bestudeer is in aanmerking geneem om te bepaal hoe doeltreffend hierdie indeks in Afrika-lande en die vasteland se ekogebiede sal wees. “Die studie was soos ’n enorme legkaart met duisende stuke wat ek bymekaar moes sit,” het Vorster gesê.


Vorster se proefskrif van bykans 500 bladsye bied ’n bloudruk vir lande soos Zimbabwe, Kameroen en Gaboen om nou hul eie (nasionale) naaldekoker-indeks te ontwikkel. “ANBI kan help om faktore wat varswaterbronne bedreig te identifiseer en help verseker dat toepaslike bewaringsaksies volg,” het Vorster gesê.


Ongeveer 91% (93 uit 102) van die landgebaseerde ekogebiede wat bestudeer is, huisves naaldekokerspesies wat algemeen veelsydig is. Hierteenoor kom “spesialiste” voor in gemiddeld 28% (29 van 102) van die ekogebiede wat bestudeer is (op land). Altesame 97% van die varswater-ekogebiede in Afrika wat bestudeer is (75 van 78) huisves algemeen veelsydige spesies (“generaliste”), terwyl 32% (25 uit 78) ekogebiede spesialiste huisves. Beide landgebaseerde en varswater-ekogebiede kan gevolglik gebruik word om die stand van varswaterstelsels plaaslik te bepaal.


Die projek is gefinansier deur die JRS Biodiversiteitstigting en die MONDI-groep. Vorster se tweede mede-studieleier is Dr Klaas-Douwe B. Dijkstra.​


Medianavrae:

Carlien Vorster

Departement van Bewaringsekologie en Entomologie

Fakulteit van AgriWetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Kontak: cvorster@sun.ac.za

 

Prof Michael Samways

Kontak: 0218083728 of samways@sun.ac.za