'n Rekenaarwetenskapstudent van die Universiteit Stellenbosch, Cameron Raven, het 'n sagtewareprogram ontwikkel wat bladmusiek na Braille, en omgekeerd, kan vertaal.
Cameron het die stelsel spesifiek vir die onderrig van musiek tot op Graad 3-vlak vir die Pionier Skool vir Siggestremdes in Worcester ontwikkel. Die projek was deel van sy BSc Honneursprojek in Rekenaarwetenskap onder die leiding van prof. Lynette van Zijl, alombekend vir haar bydraes op die gebied van rekenaargebaseerde tegnologie vir sig- en gehoorgestremdes.
Cameron sê sy program verskil van bestaande stelsels deurdat dit direk in die klaskamer gebruik kan word: “Die onderwyser kan 'n pdf van die bladmusiek na Braille vertaal en die lêer via 'n plaaslike network na die leerders se Apex-masjiene op hul lessenaars stuur. Die Apex-masjien lees en interpreteer die inligting sodat die leerder die ooreenstemmende Braille Musieknotasie kan lees gebruik," verduidelik hy.
Die leerders kan dan hul eie musiek op hul Apex-masjien skryf, dit in Braille stoor en na die onderwyser terugstuur. Die musiek word dan weer terug na bladmusiek vertaal vir die onderwyser om te lees.
Mnr. Hannes Byleveldt, adjunkhoof by die Pionier Skool, sê musiek as vak word al sedert die skool se ontstaan in 1877 aangebied: “Musiek is een van die belangrikste boustene in blinde leerders se ontwikkeling en is die bron van baie vreugde en sin in hul lewens. Verskeie van ons leerders volg ook die UNISA-kurrikulum, wat beteken dat hulle na skool verder kan studeer."
Een so voormalige leerling is Michelle Nell, tans ingeskryf vir 'n meestersgraad in musiekonderrig by die US.
Die skool is die enigste in die Suidelike Halfrond met 'n musiekbiblioteek vir blindes. Met bykans 1 300 titels, van eenvoudige musiekstukke vir beginners tot die mees komplekse stukkie van komponiste soos Beethoven en Liszt, bedien dit gebruikers vanoor die hele Afrika.
Vroeër vanjaar het die US en die Pionier Skool 'n samewerkingsooreenkoms onderteken met die doel om e-leer en die kwaliteit van onderrig by die skool te ondersteun.
“Met Stellenbosch Universiteit se hulp wil ons tegnologie gebruik om ons aan die voorpunt te plaas in die onderrig en gebruik van Braille," sê mnr. Byleveldt.
As deel van die samewerkingsooreenkoms het die Rekenaarwetenskapafdeling ook ses Lenovo rekenaars aan die skool geskenk. Mnr. Andrew Collett, senior tegniese beampte in die afdeling en 'n MSc-student, het die rekenaars gebruiksgereed gemaak.
“Nou moet hulle net sê wat die volgende projek op hul wenslysie is!" voeg prof. Van Zijl by.
O p die foto, van links na regs, me. Elizma Berlyn (bemarking), BSc-student Cameron Raven, prof. Lynette van Zijl, mnr. Andrew Collett, mnr. Hannes Byleveldt (adjunkhoof) en mnr. Michael Bredenkamp, hoof van Pioner Skool.