Rekenaarsagteware kan ʼn waardevolle hulpmiddel wees vir persone met gestremdhede, veral blindes of dowes.
Dit was die mening van prof Lynette van Zijl van die Departement Rekenaarwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) op Maandag (6 Oktober 2014). Sy was die spreker by die vyfde Stellenbosch Forum lesing van 2014.
Die Stellenbosch Forum lesingsreeks bied gereelde geleenthede vir personeel en studente aan die US, sowel as belangstellendes vanuit die publiek, om meer te leer oor die relevante en wêreldklas-navorsing wat aan die US gedoen word.
Van Zijl het gepraat oor hoe rekenaarsagteware help om kommunikasie vir blindes en dowes te fasiliteer. Sy het ook sommige wanopvattings oor beide die moontlikhede en beperkinge van rekenaarsagteware in die verband uitgelig.
Van Zijl het gesê sagteware kan met beperkte sukses gebruik word vir vertaling van en na gebaretaal.
"Dit is moontlik om videos of avatars (visuele beelde) van individuele tekens en woorde- en fraseboeke te skep."
"Dit bly ʼn uitdaging om sagteware te gebruik om videos of avatars vir die erkenning van gesigsuitdrukkings en die kontinuïteit tussen sinne te skep."
Sy het genoem dat dit besonders moeilik is om posisionele voornaamwoorde en gesigsuitdrukkings in gebaretaal te vertaal.
Van Zijl het bygevoeg dat dit nie tans moontlik is om gesprekke vir wetlike en opvoedkundige doeleindes te vertaal nie.
Sy het gesê gebaretaal is inherent moeilik om te vertaal en dit is nie moontlik om absoluut korrekte vertalings, soos in die reg en opvoeding vereis word, te verseker nie.
Met verwysing na die gebruik van sagteware om blindes te help, het Van Zilj gesê dit is redelik maklik om gewone teks in Braille om te skakel.
Sy het bygevoeg dat in plaas van Braille, blindes ook van skermlesers vir gewone tekste kan gebruik sonder diagramme en formules.
Van Zijl het genoem dat dit moeilik, maar nie ontmoonlik is nie om diagramme en kantlyne van akademiese tekste te skei sodat dit makliker is om ʼn skermleser te volg.
Sy het onlangs aan ʼn projek gewerk wat dit moontlik maak om deur klank toegang tot virtuele wêrelde te verkry. Op dié wyse kan blindes ook aan rekenaarspeletjies deelneem en visuele wêrelde betree.
Benewens persone met gestremdhede, kan diegene met sielkundige probleme ook baat by rekenaarsagteware, het Van Zijl gesê.
"Mense wat stemme hoor wat nie daar is nie kan die sagteware gebruik om ʼn visuele beeld of avatar van die persoon agter die stem te skep. Die terapeut sal dan in ʼn aparte vertrek deur middel van die avatar met die pasiënt praat, en só die persoon aanmoedig om die avatar te konfronteer."
Van Zijl het ook genoem dat ʼn virtuele klaskamer geskep is vir studente wat dit stresvol vind om in ʼn groot groep te wees.
"Die virtuele klaskamer bied ʼn interaktiewe klaservaring met byna 90% van die studente wat aangedui het dat hulle meer gemaklik voel om vrae te vra."
- Foto: Prof Lynette van Zijl aan die woord by die vyfde Stellenbosch Forum-lesing.
- Fotograaf: Justin Alberts