Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Industrievennote steun fakulteit se beursfonds
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 19/11/2018

Steun van industrievennote en ander ondersteuners van die Fakulteit AgriWetenskappe se gholfdag sterk dié fakulteit se beursfonds waarby behoeftige studente direk baat.

 

Só sê prof Danie Brink, dekaan van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe. “In ons eeufeesjaar dink ons graag vooruit oor hoe ons gehalte-onderrig kan lewer en toegang daartoe kan verbreed." Die fakulteit gebruik dié beursfonds om finansiële ondersteuning te bied aan akademiese verdienstelike studente. “Sonder hierdie finansiële hupstoot kan baie studente eenvoudig nie hul studies voortsit nie," sê hy.

 

Die fakulteit se jaarlikse gholfdag het gister (Donderdag, 15 November) plaasgevind. Dit is op die De Zalze-gholflandgoed aangebied en sowat 120 mense het daaraan deelgeneem. Vanjaar se hoofborge vir dié fondsinsamelingsgeleentheid was Yara Africa Fertilizer en Van Loveren Familie Wingerde.

​Yara is 'n gereelde ondersteuner van die fakulteit se gholfdag. Jurie de Kock, Yara se kommersiële bestuurder, sê dié maatskappy sterk graag die fakulteit se hand. “Deur die fakulteit se beursfonds te steun, help bou ons aan 'n sektor wat vooruit kan en wil boer," sê hy. De Kock glo die beursfonds help verseker dat US-gegradueerdes goed toegerus word vir die werksplek. Dit help ook voorsien in die kennisbasis wat benodig word om vooruitgaing in die landbousektor te verseker.

Dit is vanjaar die vierde keer dat Yara dié gholfdag borg. Die onderneming het onlangs ook drie nagraadse beurse geborg vir studente in die Departement Agronomie en Hortologie (twee in 2017 en een vanjaar). Yara ondersteun ook projekte van dié departemente wat praktykgerigte navorsing behels, hoofsaaklik oor kalsiumvoeding in die vrugtebedryf. Voorts borg Yara al die kunsmis wat jaarliks deur die Departement Agronomie in sy kweekhuise benodig word.

Yara verskaf plantvoedingsprodukte in meer as 150 lande. Dit het 'n bemarkingsnetwerk vir produkte en dienste vir alle gewastipes regoor die Wes-Kaap asook in ander dele van die land.

Op sy beurt sê Phillip Retief van die bekende Van Loveren-familiewynlandgoed dit is belangrik vir industrievennote om te help bou aan 'n kundigheidsbasis in die sektor. “Ons beskou die fakulteit as 'n belangrike vennoot om kennis- en kundigheidsvlakke uit te brei." Retief glo dat Van Loveren se ondersteuning van die gholfdag – en daardeur dus ook die fakulteit se beursfonds – sal bydra tot gehalte-onderrig. “Die borgskap bied ons ook die geleentheid om ons handelsmerk te bevorder en vennootskappe te vestig deur netwerke te bou."

 

Van Loveren, geleë in die Robertson-vallei, word beskou as 'n toonaangewende familiekelder. Die Retief-familie is sedert 1937 gemoeid met wynmaak op dié plaas. Die Retiefs is trotse rentmeesters van 'n era en benut die geleenthede wat wynmaak hul bied - tradisie, kennis en passie (vir wynmaak) word oorgedra van geslag tot geslag. Dit sluit in hul noue bande met SU in, waar Wynand, Hennie en Philip Retief hul universiteitsgrade verwerf het.

 

Van Loveren het meer as 15 suksesvolle handelsmerke, insluitende Van Loveren, Christina, Tangled Tree, Rhino Run en die gewilde Four Cousins. Hulle bly op hoogte van en voorspel verbruikerstendense wat produkontwikkeling dryf. Die mees onlangse voorbeelde hiervan is die bekendstelling van hul Almost Zero 'wyn' en Perlé de Jean. Laasgenoemde is die enigste Pinot Grigio Rosé in die perlé-wynstyl in Suid-Afrika.

 

Die wenspan was van departement Landbou-Ekonomie, Prof Mohammad Karaan, Burhan Karaan, Dikeledi Mosime en Ronald Ramabulana.