Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie werp lig op SA verbruikers se houding jeens vonkelwyn
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 13/11/2018

Al meer van Suid-Afrika se “M​illenniërs” of verbruikers in die Generasie Y-groep verkies vonkelwyn as hul voorkeurdrank.

Dit blyk uit bevindings van Tshepo Mokonotela wat die beskouiings van Suid-Afrikaanse verbruikers oor vonkelwyn bestudeer. Mokonotela, ’n boorling van Rustenburg, is besig met sy MSc (in wynbiotegnologie) in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit van AgriWetenskappe.

 

Mokonotela se studie is die eerste studie in sy soort waarop daar gefokus word op die veranderende verbruikerslandskap wat vonkelwyn en Méthode Cap Classique, of MCC, op eie bodem betref. MCC verwys na vonkelwyn wat volgens die Franse metode van bottelfermentasie gemaak word. Dit behels dat ’n tweede fermentasieproses in die bottel plaasvind wat die gesogte borrels daarin oplewer.

 

Onlangse navorsing oor verbruikergedrag het talle insigte opgelewer wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf help om nuwe bemarkingsplanne vir sy produkte te ontwikkel. Dit is egter nog nie die geval wat die vonkelwynbedryf betref nie, sê Mokonotela. “Ongelukkig skiet navorsing oor verbruikersvoorkeure en -ervarings wat vonkelwyn betref nog te​kort. Dit is veral die geval wat opkomende en die groeiende aantal statusverbruikers betref. Hierdie verbruikersegment word beskou as ’n onontginde mark wat die wynbedryf nog sukkel om aansluiting by te vind,” sê hy.

 

Hierdie groep verbruikers neem dikwels besluite oor handelsname en hul aankope wat status- en voorkomsgedrewe is. “Verbruikers in die Generasie Y-groep koop dikwels MCC om hul welvaart en inkomstestatus te vertoon,” sê Mokonotela. “Dit is veral die geval onder jong swart verbruikers in Gauteng wat van vonkelwyn hou en dit kan bekostig om ’n premie daarvoor te betaal.”

 

Mokonotela se navorsing fokus op vonkelwyndrinkers jonger as 35 jaar. Hy wil bepaal watter MCC-wynstyle meer gewild is by dié verbruikersegment en of daar verskille is tussen mans en vroue wat voorkeurwynstyle betref. “Ons fokus op hierdie groep om vas te stel hoe hulle verskil van tradisionele vonkelwynverbruikers,” verduidelik Mokonotela. “Hoewel hulle jonk en sommige nog afhanklik van hul ouers is, doen hierdie jongmense hul eie ding. Hulle gee die toon aan, is invloedryk en ook steeds die ou (of meisie) van langsaan wat almal graag wil ken en soos wie hulle wil wees.”

 

Generasie Y-verbruiker (gebore tussen 1981 en 1995) spog graag met hul suksesse in die lewe, blyk uit navorsing hieroor. “Hierdie verbruikers geniet gewoonlik prettige en sensoriese ondervindings wat vonkelwynprodukte hul bied. Hulle is ook baie bewus van hul persoonlike beeld en spog graag met hul materiële sukses,” sê hy.

 

Dit kom voor asof die statusverbruik van vonkelwyn grootliks deur interpersoonlike invloede beïnvloed word. “Statusverbruikers beskou handelsname as belangrik om hul identiteit en ’n gevoel van (persoonlike) prestasie te skep. Daar is al hoe meer nuwe MCC-drinkers wat toetree tot die wynmark danksy die opkoms van sosiale media en kriptogeldeenhede.”

 

Mokonotela se navorsing dui daarop dat Suid-Afrikaanse verbruikers in die Generasie Y-groep MCC as ’n leefstylproduk beskou en nie as ’n luukseproduk wat net dan en wan op spesiale geleenthede geniet kan word nie. “Hierdie verbruikers het nie ’n spesiale geleentheid nodig om vonkelwyn oop te maak nie. Verbruikers in dié groep beskou MCC toenemend as hul alkoholiese voorkeurdrankie, veral wanneer hulle saam met vriende kuier.”

 

Mokonotela stel ook ondersoek in na die sensoriese ruimte van MCC in sy navorsing. Hiervoor span hy datamyn- en masjienleer-tegnieke in. Laasgenoemde verwys na ’n metode om data-ontledings met outomaties analitiese modellering toe te pas. Hy gebruik die John Platter Wyngids van Suid-Afrikaanse Wyne as databron van sensoriese beskrywings hiervoor.


Sy studie is deel van ’n navorsinggroep van Dr Hélène Nieuwoudt, ’n senior navorser verbonde aan die Instituut vir Wynbiotegnologie (IWBT). Die groep bekyk veral verbruikers se sienings oor wyn. Verskeie nagraadse studente is deel van dié program, en gegradueerdes wat daarby betrokke was, werk reeds in die wynbedryf.


Die sakewêreld het volgens Nieuwoudt reeds kennis geneem daarvan dat hulle verbruikers se sienings oor produkte, dienste en dies meer in aanmerking  moet neem. “Wanneer ons op wynverbruik fokus, besef produsente dat ’n paradigmaskuif nodig is om oor wyn met verbruikers te kommunikeer,” sê Nieuwoudt. “Dit is nie meer genoeg om net op wynproewers se sensoriese beskrywings van wynsmake staat te maak nie. Ons moet eerder begryp hoe, wanneer, waar en saam met wie hierdie verbruikers besluit om wyn te drink. Dit is veral belangrik wat vonkelwyn betref wat verbruikers in verband bring met feesvierings, spesiale geleenthede en om te geniet saam met familie en vriende.”


Suid-Afrika het per capita baie lae wynverbruik vergeleke met ander wynproduserende lande. Die plaaslike wynmark het oor die afgelope twee dekades ook verander en kry stewige kompetisie van ander alkoholiese drank, hoofsaaklik bier. Die wynbedryf is nou daarop gerig om meer verbruikergedrewe te wees om wynverbruik te verhoog.


Hoewel die plaaslike per capita-vonkelwynverbruik laag is vergeleke met wyn (0,16 liter vergeleke met 8,08 liter per persoon in 2017), stel die wynbedryf veral belang daarin om te verstaan hoekom verbruikers vonkelwyn kies en watter emosionele en genotswaarde hulle daaraan heg.


Die MCC-bedryf groei die afgelope dekade bestendig wat betref die aantal nuwe produsente wat tot die mark toetree, asook jaarlikse verkope op eie bodem. Vonkelwynuitvoere het in 2015 altesame 8% van die land se totale wynuitvoere uitgemaak. Die aantal MCC-produsente in Suid-Afrika het toegeneem vanaf 99 in 2008 tot 249 in 2017.


Winetech en IBWT finansier Mokonotela se navorsingsprojek.

 

Medianavrae:

Tshepo Mokonotela

Kontak: 0718850503 of tshepom@sun.ac.za

 

Dr Hélène Nieuwoudt

Kontak: 021-808-2748 of hhn@sun.ac.za