Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘100 Artefakte’ vertel US se storie oor 100 jaar
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie (Martin Viljoen)
Gepubliseer: 31/10/2018

ʼn Uitstalling om op ʼn kreatiewe wyse stories van die Universiteit Stellenbosch (US) van die afgelope 100 jaar te vertel, open môreaand (Woensdag 31 Oktober 2018) in die Eikestad.

Die US Museum se uitstalling “ʼn Honderd artefakte vir ʼn honderd jaar" vorm deel van die US se Eeufeesjaar en open om 18:00 in die Universiteitsmuseum in Ryneveldstraat in Stellenbosch

Prof Matilda Burden, Senior Kurator: Museumnavorsing, sê die items wat besigtig kan word het elk hul unieke storie en is direk aan die US verbind. “Dit vertel dalk nie een deurlopende storie van die Universiteit nie, maar het elk ʼn storie wat bygedra het tot hoe ons die Universiteit vandag ken."

Magic Lantern-projektor

Onder die items is ʼn Magic Lantern-projektor, waarskynlik uit die dertigerjare of selfs vroeër, wat deur die befaamde 'Oom Pietie le Roux' van die Stellenbosch Boerorkes gebruik is. Le Roux het die orkes in 1933 gestig met lede wat hy onder US-studente gewerf het.

Daar is ook ʼn Feldmeyer-strykyster wat vermoedelik met ʼn tipe brandspiritus gewerk het. Dit is toentertyd in die Departement Huishoudkunde gebruik. Die Department was later bekend as die Departement Verbruikerstudie, maar is mettertyd uitgefaseer.

Ook deel van die uitstalling is ʼn 1940 Remington tikmasjien wat vir “administratiewe doeleindes" gebruik is.

Dit is egter nie net artefakte en interessante items uit vervloë dae wat deel vorm van die uitstalling nie, maar ook items uit die jongste verlede. Dit sluit in ʼn besemstokperd van Simonsberg se Met, een van die rugbyballe waarmee Maties in 2018 die Varsitybeker gewen het en ʼn 3D-gedrukte model van ʼn voëlmummie van die Departement Antieke Studie.

Die oudste voorwerp is ʼn staanhorlosie uit 1780 en die jongste die eeufeesvlag van 2018. Die kleinste voorwerp is ʼn seëlring van die Fakulteit Krygskunde en die grootste is die raadstafel waarby eers die raad van die Victoria Kollege, en later die raad van die universiteit vergader het.

Die uitstalling, wat deur die US-Rektor, prof Wim de Villiers, geopen word, sal tot Junie 2020 vir die publiek oop wees.

  • Skakel met prof Matilda Burden by tel 021 808 2002 of per e-pos by mb4@sun.ac.za vir meer inligting en sien www.sun.ac.za/100 vir meer oor die US se Eeufees.