Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Webnavorsing wek internasionale belangstelling
Outeur: Riaan Rudman
Gepubliseer: 30/10/2018

​Ouditprofessor Riaan Rudman van die Skool vir  Rekeningkunde het onlangs aan die eeufeeskonferensie van die Nasionale Biblioteek van Estland deelgeneem.

Die biblioteek – wat in dieselfde jaar as die Republiek van Estland sy beslag gekry het, nl. in 2018 – dien as die parlementêre biblioteek van die land. Die konferensie met die titel Imagine a National Library, was deel van die amptelike eeufeesvierings van die Republiek van Estland.

Na afloop van die openingstoesprake deur die president van die Estlandse parlement, mnr Eiki Nestor, en die president van die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings en -instellings, me Gloria Perez Salmeron, het prof Rudman sy toespraak gemaak. Sy onderwerp was die impak van  die evolusie van die internet en veranderings in aanlyn-gebruikersgedrag op biblioteke.

“Ek voel geëerd dat ek as die enigste geoktrooieerde rekenmeester teenwoordig gevra is om by 'n biblioteekkonferensie te praat. Dit plaas nie net die relevansie van my navorsing oor web-evolusie in die kollig nie, maar ook die feit dat Suid-Afrikaanse navorsing internasionaal erken word," het prof Rudman gesê.

Ander sprekers van Swede, Noorweë, Kanada en Nederland het die uitdagings bespreek wat biblioteke in die digitale era in die gesig staar, asook die funksies van nasionale biblioteke en hul dienste in die toekoms. Die sprekers het die volgende ingesluit: dr Janis Kreslins (Koninklike Biblioteek van Swede), mnr Aslak Sira Myhre (direkteur van die Nasionale Biblioteek van Noorweë), dr Guy Berthiaume (direkteur van die Nasionale Biblioteek en Argief van Kanada), mnr Roly Keating (uitvoerende hoof van die Britse Biblioteek), asook die rektor van die Estlandse Akademie vir Kuns, prof Mart Kalm. ​

Prof Rudman (ver links op die foto hier onder) het ook, in samewerking met die Estlandse Ministerie van Kultuur, openbare lesings vir die publiek en personeel van die Nasionale Biblioteek aangebied oor sosiale media risiko's en aanvaarbare aanlyn-gedrag.

  • Vir 'n tekenprent-weergawe van prof Rudman se toespraak, kliek hier.

RiaanRudman_Estland.jpg