Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Jy moet die kaarte speel wat aan jou gedeel is'
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 19/10/2018

“Jy moet die kaarte speel wat aan jou gedeel is."

Dit was een van die wenke wat Philip Parrock, Matie-alumnus en Tegniese Span-leier by Amazon Web Services, gedeel het met die studentegehoor van sowat 350 by die tweede Loopbaankafee aangebied deur die Alumni-betrekkinge Kantoor aan die Universiteit Stellenbosch (US).

​Philip, wat gediagnoseer is met Nie-Hodgkins Limfoon (kanker wat ontwikkel in die limfstelsel) in Februarie 2018, het gepraat, nie net oor hoe hy hierdie nuus, wat vir enigeen verwoestende nuus sou wees nie, omskep het in ʼn leergeleentheid, en ook ander belangrike wenke met die studente gedeel.

“Wees eerlik oor jou vaardighede en vermoëns. Stel en bestuur jou spertye en begryp hoeveel werk jy kan doen. Probeer om te dink aan sukses op die lang termyn, nie die kort termyn nie. As jy belaglike ure moet werk om ʼn projek te voltooi mag jy uiteindelik kwaliteit moet opoffer en dit sal swak reflekteer op jou. In die meeste gevalle is ʼn goed uitgevoerde projek, afgehandel binne ʼn redelike tyd, meer werd as ʼn afgejaagde, lae kwaliteit projek," het hy gesê.

Die Loopbaankafee is in 2016 geloods deur die kantoor om ʼn platform te bied waar alumni kan betrokke raak by die universiteit deur hul tyd en vaardighede aan te bied om huidige studente te help voorberei vir hul toekomstige beroepe. Deur hierdie interaksie is huidige studente in staat om te leer by die werklike ondervindinge van Matie-graduandi in die korporatiewe wêreld en kan hulle ook baat by hul advies en wenke. Ander loopbaanontwikkelingsgeleenthede op kampus word ook bevorder deur hierdie geleentheid om studente aan te moedig om hul werkgereedheid verder te verbeter.

Philip se reis aan US het in 2010 begin nadat hy teruggekeer het van Engeland waar hy in die gasvryheidsbedryf gewerk het.

Nadat hy meer as 13 000 kilometer gereis het van Suid-Afrika na Engeland om die wêreld te sien, het die ongemak wat hy ervaar het hom genoop om ses maande later terug te keer na Kaapstad. Terug in Kaapstad het hy ʼn voltydse werk aanvaar as sorg-assistent by ʼn plaaslike aftreeoord.

“Ek het heelwat tyd oor naweke op Stellenbosch spandeer omdat  ʼn paar van my vriende uit Pretoria hier studeer het. Dit is toe ek vir die eerste keer daaraan gedink het om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.

“Ek het eintlik baie laat aansoek gedoen, op 28 Augustus, met slegs twee dae oor voordat die aansoeke vir graadprogramme op 30 Augustus gesluit het," vertel hy, en lag.

Philip het ingeskryf vir ʼn BA in Internasionale Studies in 2010 en by voltooiing van daardie graad het hy ook 'n honneurs en ʼn meestersgraad in Politieke Wetenskap aan die universiteit behaal. As student wat in private akkommodasie weg van die kampus gewoon het, het hy aangesluit by die private studente-organisasie (PSO), Pieke, in sy eerste jaar van studie.

PSO's is studentehuiskomitee-strukture gevorm vir private studente. Hulle is soortgelyk aan die huiskomitees (ook bekend as HK's by Maties) van koshuise en word gewoonlik gegroepeer met koshuise en ander PSO's in klusters wat saamwerk om studente se sosiale, kulturele en akademiese aktiwiteite te koördineer, studente te verteenwoordig in kwessies op kampus en om ʼn verenigde stem te verskaf aan diegene wat buite die meer tradisionele universiteitstrukture val.

As student het hy sowel rugby as sokker gespeel in sy tweede jaar.

“Ek was nie gefokus daarop om betrokke te raak by studentebeheerstrukture op kampus nie," sê hy.

​Maar teen sy tweede jaar het sy interaksie met manstudente van Pieke sy nuuskierigheid geprikkel oor hierdie strukture.

Aan die einde van sy eerste jaar het hy vrywillig aangebied om in Pieke se Tweedejaarskomitee te dien en in 2012 het hy ʼn lid geword van Pieke se HK gefokus op sosiale aktiwiteite vir studente. 'n Jaar later is hy verkies as Pieke se Primarius.

“Deur te werk binne universiteitstrukture en blootgestel te wees aan verskillende mense met uiteenlopende agtergronde het aan my die eerste smaak van burokrasie verskaf, wat tot my voordeel gestrek het toe ek later vir ʼn massiewe multi-nasionale maatskappy gewerk het."

“Teen die einde van 2014 het ek gewerk aan die laaste konsep van my Meesters en het begin uitkyk vir permanente werk. Ek het 60 CV's uitgestuur aan ʼn hele aantal maatskappye in Suid-Afrika, maar het geen reaksie van enige van hulle ontvang nie. Dit is op hierdie stadium dat jy besef jy het nie die ondervinding om mee te ding met ander aansoekers nie, en dat jy dit op een of ander manier moet verkry."

Toe hy ʼn seisoenale pos geadverteer sien deur Amazon Web Services, wat besit word deur Amazon, het hy ʼn CV ingedien, onseker waarheen dit sou lei. AWS is die enkele grootste wolkrekenaarmaatskappy in die wêreld, met ʼn 41% markaandeel in die publieke wolkrekenaarmark en is groter as sy volgende 10 mededingers tesame.

“Nadat ek gehoor het van seisoenale poste by Amazon Web Series het ek aansoek gedoen en is ingeroep vir ʼn onderhoud. Maar tydens die onderhoud is ek ʼn permanente pos aangebied as Tegniese Kliëntediens-assosiaat in hul globale kliëntediensafdeling betrokke by die opleiding van nuwe personeel wat gewerf is vir die maatskappy."

In daardie tyd het Amazon Web Servies ook sy kliëntediensbasis in Kaapstad uitgebrei. Toe Philip begin het by die maatskappy in 2015 was daar sowat 50 mense in die afdeling. Dit sou groei tot 169 in 2016 en tot meer as 300 mense vandag.

Agttien maande later is hy aangewys as Spanleier vir nuwe Kliëntediensassosiate met toesig oor ʼn span van 15 mense.

“Skielik was daar bykomende verantwoordelikhede, afgesien van die oorkoepelende prestasiebestuur en administratiewe take waarvoor ek verantwoordelik was. Nou het ek MH sake gehad om aan aandag te gee, daar is van my verwag om te verstaan hoe om arbeidsreg toe te pas, personeelwelvaart te oorsien asook verskeie byvoordele."

Die lewe was ʼn lied. Maar in Februarie 2018 is wat as pyn in sy heup begin het teen die einde van 2017 en tot ʼn heupvervanging gelei het, gediagnoseer as kanker.

“ʼn MRI-skandering het getoon daar was letsels op my femur tot in my rug en dat daardie letsels van binne gekom het. Die kanker het begin om my femur weg te vreet."

Twee weke later het Philip gesit in die onkologiesaal by Kuilsrivier Netcare vir sy eerste ronde chemoterapie.

“Ek was buite aksie vir sewe maande en het chemo vir vyf dae op ʼn keer ontvang."

Minder as ʼn maand nadat hy ingelig is hy is in remissie, was hy terug by die werk. In September is hy bevorder en is nou leier van die Tegniese Span.

“Dit demonstreer my derde wenk – berei jouself voor vir die werk wat jy verlang, sodat jy gereed is wanneer die geleentheid opduik. So, terwyl dit dalk nie lyk soos die regte ding om te doen nie, as daar bevordering is wat jy verlang, of  ʼn ander posisie is wat jy wil vul, moenie daaraan dink as  ʼn geleentheid om jouself te bewys nie, dink daaraan as beloning dat jy jouself reeds bewys het. In die besigheidswêreld is dit baie moeilik om ʼn kans te kry; gaan liewer uit en skep jou eie geleentheid: bewys dat jy die werk kan doen sodat, wanneer dit tyd is vir bevordering of  ʼn werksonderhoud, die onderhoudvoerder so oortuig is van jou vermoëns dat die onderhoud slegs ʼn formaliteit is."

“In die tyd wat ek by Amazon Web Services is, het ek geleer dat die basis van kennis en ondervinding wat jy aan die universiteit opdoen nuttig is, maar om werklik suksesvol te wees, moet jy meer lewer as wat verwag word, indien jy op die lang termyn wil slaag."

  • ​Foto: Matie-alumnus en Loopbaankafee-spreker, Philip Parrock (naasregs), by die studente wat die geleentheid losgeslaan het om saam met hom te kuier en meer te leer oor die sagte vaardighede wat benodig word om ʼn loopbaan te ontwikkel. Van links is Phathiswa Hohlo, Marvin Koopman, Koördineerder van die Alumni-betrekkinge Kantoor, Thandeka Mwakipesile, Olona Ndzuzo, Philip en sy vrou Lisa, wat ook ʼn Matie-alumnus is. (Lynne Rippenaar-Moses)