Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Moenie dat iemand jou vertel jy kan nie
Outeur: Alumni Relations Office
Gepubliseer: 17/10/2018

Reeds in Graad 9 het die 15-jarige Jenny Pienaar besluit dat sy 'n prokureur wil wees. Toe sy egter vind dat sy nie Privaatreg 1 kon slaag toe sy vir 'n BA Regte-graad studeer het by Maties nie, het sy gedoen wat slegs 'n student met blinde vasberadenheid sou doen  – sy het geweier om na haar dosent te luister.

“Ek het gesukkel om Privaatreg 1 te slaag en het twee keer binne twee jaar dit gedruip. Toe ek aan my dosent sê dat ek ʼn regsloopbaan wil hê, het hy reguit aan my gesê: 'Jy sal nooit 'n prokureur word nie', vertel Jenny.

“Ek het geweet dat ek ʼn ander pad na die regsprofessie moes vind. Toe doen ek ʼn BA graad in Klassieke Kultuur en Politieke Wetenskap, kry my graad en gaan na die Universiteit Kaapstad waar ek my LLB oor drie jaar gedoen het omdat ek nie regsvakke gehad het nie," sê Jenny, wat die graad LLB aan die UK behaal het in 1991.

Vandag is Jenny ʼn gekwalifiseerde handelsmerk-prokureur, ʼn vennoot en mede-voorsitter van die handelsmerk-afdeling, en waarnemende voorsitter van die handelmerklitigasie-afdeling van die bekende regsfirma Adams & Adams. Sy praktiseer in handelsmerklitigasie, domeinnaamregistrasie, verkry domeine van onwettige eienaars, doen litigasie verwant aan kopiereg, wanvoorstelling, onwettige kompetisie en maatskappynaambesware. Sy het ook ondervinding van advertensiereg en wetlike voldoening.

Adams & Adams verteenwoordig 240 van die Forbes 500 maatskappye in die Verenigde State sowel as ander lande, met ʼn wye verskeidenheid kliënte in die vinnig-bewegende Verbruikersgoedere (FCMG), tot die bankbedryf en farmaseutiese bedryf sektore.

Op 24 Oktober sal Jenny studente meer vertel oor hoe sy die beperkinge wat ander op haar gestel het, oorkom het, om die prokureur te word waarvan sy altyd gedroom het. Hierdie TedTalk-styl geleentheid, bekend as die Loopbaankafee, vind plaas tussen 13:00 en 14:00 in Kamer 230 op die tweede verdieping van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe op die hoek van Merriman- en Ryneveldstraat en is oop vir alle studente.

Die Loopbaankafee-reeks is in 2016 geloods deur die Alumni-betrekkinge Kantoor om ʼn platform te verskaf waar alumni met die universiteit betrokke kan raak deur hul tyd en vaardighede aan te bied om huidige studente voor te berei vir die loopbane wat hulle verlang. Deur hierdie interaksie is huidige studente in staat om te leer uit die werklike ondervindings van Matie-graduandi in die korporatiewe wêreld en om boonop te baat by hul raad en wenke. Ander loopbaan-ontwikkelingsgeleenthede op kampus word ook by hierdie geleentheid bevorder, om studente aan te moedig om hul werkgereedheid verder te verbeter.

As jy hierdie gratis praatjie wil bywoon, kan jy hier RSVP vir die Loopbaankafee.