Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel eerste aanlyn-loopbaneportaal bekend vir landbou in SA
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 03/10/2018

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe stel Donderdag 4 Oktober die eerste loopbaneportaal bekend in Suid-Afrika wat net fokus op die landbou- en voedselsektor.

Dié portaal is die eerste in sy soort vir 'n spesifieke fakulteit op kampus en is die geesteskind van prof. Danie Brink, dekaan van die fakulteit.

Die portaal is 'n instrument waarby die landbousektor nader sal kan beweeg aan studente – studente sal as werksoekers kan registreer en maatskappye kan toegang kry tot kandidate deur poste, internskappe, vakansiewerk en selfs beurse op die portaal te adverteer. Só sê Monika Basson, die fakulteit se koördineerder van voorgraadse werwing en bemarking. “Die einddoel is om 'n effektiewe aanlyn-loopbaneplatform te skep waarby beide studente en die bedryf kan baat."

Die Fakulteit AgriWetenskappe het aanvangsbefondsing bewillig vir die ontwikkeling van die portaal. Die diens sal ook uitgebrei word na ander universiteite en tersiêre opleidinginstansies in Suid-Afrika, asook moontlik na internasionale en privaat universiteite.

Die daarstel van hierdie loopbaneportaal vervul in 'n groot bedryfsbehoefte hiervoor, verduidelik Marianne van der Laarse, besturende direkteur van Agrijob. Sy is 'n werwingspesialis in die landbousektor en betrokke by die fakulteit se projek vir loopbaanontwikkeling. “Ons is opgewonde oor hierdie interaktiewe en omvattende platform wat voorsiening maak vir landbouverwante werksgeleenthede in Suid-Afrika. Vanuit my ervaring van meer as 25 jaar in die landboubedryf, is ek oortuig hierdie platform gaan 'n leemte in die sektor aanspreek en oplossings bied."

US vier tans sy eeufeesjaar met 'n hernude fokus daarop om die universiteit te posisioneer as 'n internasionaal erkende akademiese instelling, ingebed in Afrika. Hierdie inisiatief strook met die fakulteit se oogmerk om sy werk en impak in Afrika te verbreed met behulp van samewerking en uiteenlopende vennootskappe. US is tans die voorste fakulteit vir landbouwetenskappe in Afrika en is daarom ideaal geposisioneer om hierdie inisiatief te vestig, meen Prof. Brink.

Die bekendstelling vind plaas om 13:00 in die JH Neethling-gebou op kampus.

Besoek www.agrijob.co.za vir meer inligting. Kontak Marianne van der Laarse per epos by marianne@agrijob.co.za of skakel 0823881000.