Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Denkleier in menslikehulpbron- bestuur ontvang eredoktorsgraad
Outeur: M Meyer & R Beukes
Gepubliseer: 19/09/2018

Marius Meyer van die Departement Bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch het 'n eredoktorsgraad van die Vaaldriehoek Universiteit van Tegnologie (VUT) ontvang. Die graad is by die Fakulteit Bestuurswetenskappe se lente- gradeplegtigheid op 11 September op die VUT-kampus in Vanderbijlpark aan hom toegeken.

Dr Meyer, 'n bekende denkleier op die gebied van menslikehulpbronontwikkeling, het die afgelope 24 jaar onder meer as menslikehulpbronontwikkelingspraktisyn, konsultant, akademikus en bestuurder gewerk. As voormalige uitvoerende hoof van die professionele vereniging vir menslikehulpbronpraktisyns, die SA Raad vir Mensepraktyke (SABPP), was hy verantwoordleik vir die gehalteversekering van 82 opleidingsverskaffers, sowel as die menslikehulpbronakkreditasie van alle universiteite in Suid-Afrika.

“Leierskap, strategie, korporatiewe en veranderingsbestuur, asook die ontwikkeling van mense is my passie," het dr Meyer gesê. Hy het onlangs 'n toekenning ter erkenning van sy lewenslange bydrae van die Raad vir Mensepraktyke ontvang, en tree op as die Raad se denkleier op die gebied van menslikehulpbronstandaarde. 

Dr Meyer het voorheen klasgegee aan die Universiteite van Suid-Afrika en Johannesburg en is steeds betrokke by Noordwes-Universiteit en die Midrand Bestuursinstituut. Hy was 'n adviserende lid van die Afrika Vereniging vir Talentontwikkeling se direksie en is 'n stigterslid van Talent Talks, die eerste talentbestuursplatform en -tydskrif in Suid-Afrika. Hy het ook opleidings- en konsultasie-intervensies vir meer as 200 maatskappye gefasiliteer.

Sy mees onlangse werk is die eerste nasionale menslikehulpbronbestuursraamwerk in Suid-Afrika. Daarby ingesluit is die eerste nasionale stel kwantitatiewe maatstawwe vir mensekapitaal in maatskappye. Die raamwerk dien as 'n bloudruk vir menslikehulpbrondirekteure sodat hulle waarde kan toevoeg tot direksies, rade en beheerliggame van organisasies.