Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Allan Boesak bied nuwe insig oor vroue se rol in teologie
Outeur: Corporate Communications/Korporatiewe Kommunikasie (Rozanne Engel)
Gepubliseer: 18/09/2018


Die rol van vroue in die Bybel en teologiese onderrig was vir lank 'n voortgesette onderwerp van bespreking en debat tussen teoloë en die samelewing.

Dít was een van die gevolgtrekkings van die internasionaal bekende teoloog en voormalige anti-apartheidsaktivis Prof Allan Boesak op Dinsdag (18 September 2018). Hy het die tweejaarlikse Dawid W. de Villiers-gedenklesing by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie gelewer.  Dié lesing word aangebied ter ere van wyle prof Dawid de Villiers, n voormalige dosent aan die fakulteit wat 'n leidende rol in die kerklewe en teologiese opleiding aan die US gespeel het.

Boesak het in sy lesing getiteld Learning, Unlearning, and Re-Reading: Black Liberation Theology and Lessons from the Women nuwe insig gebied oor die rol van vroue in teologie wat volgens hom tot baie misinterpretasies en die wêreld se patriargale tradisies van vandag gelei het.

 

Hy het grootliks gefokus op die ontleding van Ou Testamentiese tekste waar die vrou Miriam die patriargale tradisies en die leierskap van Moses, een van die Bybel se mees ikoniese vroeë profete, uitgedaag het.

Boesak het ook die patriargale rolle uitgedaag en aangevoer dat baie tradisionele teologiese leerstellings gebruik is om ander te onderdruk en 'n God uit te beeld wat nie vir die hele mensdom is nie.

"Totdat ons weet watter soort God ons aanbid, kan ons nie begryp watter soort mense ons behoort te wees nie. Tensy ons almal die waarde van ons gemeenskaplike mensheid leer en die bande wat ons saambind, in al ons aksies koester en die kreet van die veldtog teen geslagsgebaseerde geweld omhels, wat sê: "Dit eindig nou!" Elke keer as ons hierdie dinge sê, skep dit 'n nuwe leuen en elke keer as 'n leuen geskep word, bied ons voorlopige regverdiging vir die volgende moord, die volgende verkragting en die volgende rassistiese daad. Daar was nog altyd die gedagte dat God net aan en deur mans praat, wat vroue uitgesluit het, maar die verhaal van Miriam in die Bybel moet ons uitdaag om  anders daaroor te dink," het Boesak gesê.

_________________________________________________________________________________

MEER OOR PROF ALLAN BOESAK

Prof Allan Boesak het op 22-jarige ouderdom Teologie by die Teologiese Seminarium van die destydse NG Sendingkerk (vandag die Verenigende Gereformeerde Kerk) gestudeer . Hy het sy studies aan die Teologiese Universiteit in Kampen in Nederland voortgesit, waar hy in Junie 1976 'n doktorsgraad in Teologie ontvang het, 'n week voor die Soweto-opstand.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika, het hy die kerk in verskeie ekumeniese posisies bedien, insluitend as Moderator , Senior Vise-President van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, en President van die Wêreld-alliansie van Gereformeerde Kerke.

Boesak se betrokkenheid in die openbare lewe en Suid-Afrika se vryheidstryd het in 1976 begin. In 1983 het hy gevra vir die totstandkoming van die Verenigde Demokratiese Front (United Democratic Front), wat tot die grootste, nie-gewelddadige, nie-rassige anti-apartheidsorganisasie in die geskiedenis van die stryd sou groei. Hy het tuis en in die buiteland die organisasie se mees sigbare leier geword. Hy het  metNelson Mandela, Aartsbiskop Desmond Tutu, Eerwaarde Frank Chikane en verskeie wêreldleiers saamgewerk om apartheid te beëindig.

Boesak is die ontvanger van dertien eredoktorsgrade en verskeie ander toekennings, waaronder  die Robert Kennedy Menseregte-toekenning en die Martin Luther King Jr. Vredesprys. Hy is  onlangs in die Martin Luther King Jr. Internasionale Raad van Predikers by Morehouse College ingelyf. Hy is ook die outeur van 22 boeke en onderrig oor die hele wêreld. Boesak onderrig en preek steeds, en is  aktief  betrokke in die globale stryd vir menseregte.​

Foto: Stefan Els