Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroue is besig om Ingenieurswese te verander ... ten goede!
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 18/09/2018

"Vroue is besig om Ingenieurswese te verander ... ten goede!" sê prof Deborah Blaine, medeprofessor in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese. Sy was een van die sprekers by die jaarlikse Vroue in Ingenieurswese-middag wat op 12 September 2018 deur die Fakulteit Ingenieurswese, Universiteit Stellenbosch (US), aangebied is.

Ongeveer 160 Graad 10 tot 12-skoolmeisies (van die Kaapse Skiereiland, Boland en Swartland) wat in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe presteer, het vanjaar se funksie bygewoon.

In 2003 het August Engelbrecht (die destydse fakulteitsbeampte) 'n Vroue in Ingenieurswese-middag ingestel om Ingenieurswese as 'n loopbaan onder vroue te bevorder. Mnr Engelbrecht, wat nou verantwoordelik is vir studentewerwing en -retensie by die Fakulteit, sê: "Vanaf die aanvang van hierdie inisiatief het ons rolmodelle in die ingenieursgemeenskap - industrie, akademie en huidige studente - genooi om hul ervaring en die redes te deel waarom hulle dink ingenieurswese bied 'n uitstekende loopbaan vir vroue."

Die meisies is bekoor deur die entoesiasme van die vier sprekers. Dr Magreth Tadie, dosent in die Departement Prosesingenieurswese, het die tafel gedek met die volgende woorde: "Dit is nie 'n voorlesing of 'n les nie. Kom ons praat oor Ingenieurswese."

Finalejaar Siviele Ingenieurstudent, Lauren October, uittredende voorsitter van die US-Ingenieurstudenteraad, het 'n paar gedagtes gedeel: "Ek wil suksesvol wees. Ingenieurswese het my soveel vertroue gegee en Stellenbosch het my die geleentheid gebied om met sterk vroue te werk. Ingenieurswese sal jou oplei op maniere wat jy nooit kon dink moontlik is nie. "

Prof Blaine het gesê dat die dosente aan die US se Fakulteit Ingenieurswese die beste moontlike ruimte vir studente wil skep om die allerbeste te word wat hulle kan wees. Sy het opgemerk: "Jy hoef nie 'een van die manne' te wees nie. Jy het jou eie ruimte in Ingenieurswese. Vroue verstaan mense beter en het meer geduld. Daarom speel vroue ingenieurs 'n baie belangrike rol in hul beroep. Vroue verander Ingenieurswese ten goede."

Prof Blaine het die wenke gedeel wat top vroulike ingenieurs aan studente gee om 'n suksesvolle loopbaan ná hul studie te hê: 

1. Soek vir jou rolmodelle en mentors uit.

2. Moenie die waarde van kommunikasie en vaardigheid om met mense te werk in jou werk as ingenieur onderskat nie.

3. Vroue ingenieurs hoef nie 'mans te probeer na-aap' nie.

4. Straal vertroue by die werk uit.

(Sien targetjobs.co.uk)

Sy het beklemtoon dat dit moontlik is om ingenieur, vrou én ma te wees, aangesien sy daarin slaag om al drie rolle te vervul (met 'n bietjie hulp, natuurlik!).

Robyn Goff, 'n Matie bedryfsingenieur met ses jaar bedryfservaring, het haar praatjie afgeskop deur aan die gehoor te vertel dat sy nooit eintlik 'n loopbaan in ingenieurswese oorweeg het nie. "Allawêreld, wat 'n goeie fout was dit nie!" het sy daaroor geskerts. Sy het die afgelope ses jaar haar loopbaan as bedryfsingenieur geskets. Dit sluit posisies in die bakkerybedryf, in die korporatiewe wêreld sowel as in die mynbedryf in. Dit was duidelik dat sy haar werk terdeë geniet en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. "Om 'n ingenieur te wees, is 'n voorreg," het sy aan die jong dames in die gehoor gesê.

Me Goff het afgesluit met 'n paar lesse wat sy geleer het:

1. Vind jou eie stem.

2. Werk hard en werk slim.

3. Jy hoef dit nie alleen te doen nie.

4. Nie almal gaan van jou hou nie. En dis in die haak.

5. Neem tyd af en koester jouself.

Die Vroue in Ingenieurswese-inisiatief het oor die afgelope 15 jaar baie vrugte afgewerp. Mnr Engelbrecht verduidelik: "Baie van die meisies wat die funksie bygewoon het, het besluit om die uitdaging aan te pak om Ingenieurswese te studeer. Deur hierdie geleentheid het ons die mites uit die weg geruim dat Ingenieurswese 'n loopbaan 'slegs vir mans' is, dat dit 'vuil werk vir bleeksiele' is, óf dat dit te 'moeilik vir meisies' is."

Tans is ongeveer 25% van Matie BIng-studente vroue. Daarbenewens het vier vroulike ingenieurstudente van hierdie Fakulteit sedert 2003 die gesogte Kanseliersmedalje gewen, wat jaarliks toegeken word aan 'n finalejaar- of nagraadse student wat uitnemend presteer het. Dit is die hoogste eerbewys wat die Universiteit Stellenbosch aan 'n student kan verleen. 

Hoofffoto:

Die sprekers is van links Lauren October, Robyn Goff, prof Deborah Blaine en dr Margreth Tadie.​

​Van Schaik Boekhandel in die Neelsie het geskenke vir almal wat bygewoon het, geborg.​