Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
STIAS sluit by gesogte internasionale groep aan
Outeur: STIAS/Corporate Communication Division
Gepubliseer: 13/09/2018

​Die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) is genooi om by 'n uitgelese groep internasionale institute vir gevorderde navorsing aan te sluit wat die akroniem SIAS (Some Institutes for Advanced Study) gebruik.

Dit maak STIAS die eerste instituut in die suidelike halfrond én die eerste in Afrika wat aansluit by hierdie konsortium, waaronder die Princeton-instituut vir gevorderde navorsing, die sentrum vir gevorderde navorsing in die gedragswetenskappe by Stanford, die nasionale geesteswetenskappesentrum in Noord-Carolina, die Radcliffe-instituut vir gevorderde navorsing by Harvard, die Nederlandse instituut vir gevorderde navorsing, die Sweedse collegium vir gevorderde navorsing, die Berlynse instituut vir gevorderde navorsing, die Israeliese instituut vir gevorderde navorsing, en die Nantes-instituut vir gevorderde navorsing.

STIAS Builing  (24).jpg"Die uitnodiging is 'n teken van erkenning en waardering vir die gehalte van die STIAS-program," het prof Hendrik Geyer, direkteur van STIAS, vroeër vandeesweek in ʼn verklaring gesê (11 September 2018).

“Ek dink dit is ook 'n duidelike aanduiding dat internasionale institute vir gevorderde navorsing toenemend by die akademiese en navorsingswêreld in Afrika betrokke raak."

STIAS is in 1999 deur die Universiteit Stellenbosch (US) gestig om 'n genootskapprogram te bied wat kruis-dissiplinêre navorsing op die hoogste vlak bevorder in die soeke na oplossings vir dringende kwessies wat die wêreld, en veral Suid-Afrika en die res van die Afrikavasteland, in die gesig staar. Die Instituut het aanvanklik as deel van die US-struktuur gefunksioneer, maar in 2007 het dit 'n artikel 21-maatskappy sonder winsoogmerk geword. Die US is steeds 'n lid van die maatskappy, maar STIAS word deur sy eie direksie bestuur.

“Ons doel bly om wetenskap en vakkundigheid oor dissiplines heen in die land en op die vasteland te bevorder, om op Afrika te fokus, en om 'n ruimte te skep waarbinne kreatiewe denke kan plaasvind," het Geyer gesê.

RNvisit-1.jpg

“Ons het vroeg reeds die voorbeeld van bestaande institute vir gevorderde navorsing gevolg, waarvan sommiges bestaande lede van die SIAS-groep is. Ons wou die beeld van 'n ivoortoring vermy en eerder tasbare probleme takel. Dit gaan oor die fasilitering en ontginning van Afrika se potensiaal as 'n toonaangewende bydraer tot wêreldwye navorsing en as 'n vervaardiger van nuwe kennis."

Hierdie eienskappe reflekteer dié van die SIAS-konsortium en die tersaaklike voorwaardes waaraan enige voornemende lid moet voldoen, naamlik 'n verbintenis tot die hoogste standaarde van vakkundigheid, 'n mededingende genootskapprogram, volhoubare befondsing, en onafhanklikheid van sowel universiteit- as regeringstrukture.

“Onafhanklikheid van universiteit- en staatstrukture is gebiedend noodsaaklik. Dit onderskei lede van hierdie groep van ander institute met soortgelyke name wat dikwels noue bande met universiteitsprogramme het en direk as deel van universiteite bedryf word," het Geyer gesê.

Die SIAS-groep vergader gereeld om sake van gemeenskaplike belang te bespreek en potensiële vennootskappe en medewerking te ondersoek. Die SIAS-uitnodiging aan STIAS spruit voort uit voortgesette interaksie met en amptelike besoeke deur direkteure van ander institute oor verskeie jare.

“Om geassosieer te word met sulke bekende en gerespekteerde wêreldwye institute soos hierdie, beteken 'n kwaliteitstempel wat ons vertrou na al STIAS se aktiwiteite uitgebrei sal word, en ons oogmerke en doelwitte verder sal versterk," het Geyer gesê.

Die US het die toelating van STIAS tot die SIAS-groepering verwelkom.

“Ons is trots daarop dat STIAS meer internasionale erkenning geniet – wat goed is vir ons Universiteit, land en vasteland," het mnr George Steyn, voorsitter van die US Raad, gesê.

STIAS bied die geleentheid vir hoëvlaknavorsing en intellektuele ontwikkeling op die Universiteit se eie drumpel. Dit lok sommige van die wêreld se voorste denkers, maar bied ook jong navorsers van die Afrika-vasteland vroeë loopbaanondersteuning deur middel van die Iso Lomso-program.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het gesê: “Die US baat in vele opsigte uit sy verhouding met STIAS. Die Instituut bied ʼn aantal PhD-beurse aan US-studente aan en dra regstreeks by tot die Universiteit se navorsingsuitsette, wat ʼn positiewe impak op die US se posisie in wêreldranglyste het."

​* Onderskrif vir foto hierbo: Die Direkteur van die Nasionale Geesteswetenskappesentrum in die VSA, dr Robert D. Newman (middel), saam met lede van STIAS se Navorsings- en Genootskapprogram-komitee, van links, proff Bernard Lategan, Jannie Hofmeyr, Hendrik Geyer, Louise Viljoen, Francis Nyamnjoh en Louis Jonker. Dr Newman het die SIAS-konsortium tydens 'n besoek aan STIAS in Augustus 2018 verteenwoordig. Foto: Dr Christoff Pauw​