Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US gee plaaslike ekonomie groot hupstoot - studie
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie & BER/BEO
Gepubliseer: 13/09/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn beduidende impak op die ekonomie van die Stellenbosch-streek.

Dit is een van die vernaamste bevindings van ʼn onlangse studie deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) aan die US. (Klik hier vir interessante statistiek en feite).

Die doel van die studie was om ʼn geloofwaardige evaluering en meting van die ekonomiese bydrae van die Universiteit tot die ekonomie van die Stellenbosse Munisipale gebied te gee. ʼn Ekonomiese Impakstudie (EIS**) is gedoen deur gebruik te maak van die Universiteit se bedryfs- en kapitaaluitgawes sowel as uitgawes deur personeel en studente as 'n beraming van die US se aanvanklike impak.

ʼn Beskrywende analise van afwentelmaatskappye en besighede en die US se rol as ankerinstelling is ook voorsien om ʼn aanduiding te gee van die nie-kwantifiseerbare ekonomiese voordele van die instelling.

“Die US is ʼn integrale deel van Stellenbosch en dit sal moeilik wees om die streek sonder die Universiteit voor te stel," sê prof Johann Kirsten, direkteur van die BER. “Om die waarheid te sê, die studie het bevind dat die ekonomiese impak van die Universiteit in terme van uitset na beraming R5 112 miljoen in 2016 beloop het." (R5 644 miljoen* in 2018.)

Studentebesteding

Hy verduidelik dat hierdie syfer alle verkope en transaksies insluit wat uit die aanvanklike inspuiting van uitgawes gevloei het. “Die grootste deel hiervan kom uit studentebesteding (61%), gevolg deur personeeluitgawes (23%), en die US se krediteurebetalings (14%) en diverse betalings (2.5%). Die teenwoordigheid van die US genereer ook R1 108 miljoen in arbeidsvergoeding (wat neerkom op die skep van meer as 21% van die formele werkgeleenthede en 8,7% van die informele geleenthede) terwyl die US  13 406 werksgeleenthede (of voltydse werksekwivalente) in die plaaslike ekonomie onderhou."

Om die omvang van die US se impak in perspektief te plaas, meer as 15,5% van die produksie (of uitset) en meer as 18% van die bruto toegevoegde waarde in die munisipaliteit is deur die teenwoordigheid van die instelling gestimuleer. In wese kan dus bykans een vyfde van die ekonomiese aktiwiteit in die streek na die aktiwiteite van die Universiteit en sy mense teruggevoer word.

“Die meer as 13 000 werksgeleenthede (of voltydse werksekwivalente) in die omgewing wat deur die Universiteit ondersteun word, is meer as 17% van die totale plaaslike indiensneming (oftewel inkomste wat deur die werk gegenereer word), sê Kirsten. “Hierdie beramings is egter nie ʼn getroue weergawe van die US se totale impak nie, aangesien dit slegs betrekking het op die plaaslike voordele. Die US het noue bande met die res van die provinsie en die land. Byvoorbeeld, slegs ʼn gedeelte van die krediteurebetalings deur die US is aan plaaslike maatskappye gemaak, terwyl die res tot groot ekonomiese voordele buite die streek lei  ̶  wat doelbewus nie deur hierdie studie vasgelê is nie."

Hy voeg by dat dit op geen manier beteken dat die US nie plaaslike verskaffers bevoordeel nie, eerder dat daar baie nasionale maatskappye is wat slegs 'n beperkte teenwoordigheid op die dorp het en dit dus nie  moontlik is om te vas te stel waar die geld heen vloei nie (byvoorbeeld, Telkom of ʼn nasionale bank).

Hierdie werkgeleenthede sluit in dié direk by die Universiteit (die meer as 3500 personeellede ingesluit), maar ook dié wat byvoorbeeld verband hou met besteding by plaaslike besighede, as gevolg van die verhoogde aktiwiteit.

“Hoe dit ook al sy, op plaaslike vlak, is dit ʼn baie beduidende voordeel om ʼn instelling soos die US in Stellenbosch te hê en strek verder as die direkte ekonomiese voordele en verhef en verbeter die Stellenbosch-gemeenskap aansienlik," voeg Kirsten by.

Ankerinstelling

Hoewel dit nie in geldelike terme gekwantifiseer kan word nie, kan die US ook as 'n sogenaamde ankerinstelling beskryf word, wat addisionele voordele in die streek inhou. Voorbeelde hiervan is die navorsingsentrum STIAS, die Universiteit se tegnologie-oordragmaatskappy Innovus, Maties Sport en die US Woordfees. Die waarde van sulke instellings kan nie voldoende in die korttermyn-ekonomiese terme uitgedruk word nie. Hul waarde versprei veel verder in die breër gemeenskap en beïnvloed die aard van die omgewing en mense se lewens.

“Daar is aansienlike ontasbare voordele om 'n universiteit teenwoordig te hê, soos die bevordering van afwentel-maatskappye asook ander kulturele en sosio-ekonomiese voordele. Oor die algemeen strek die ekonomiese voordele van ʼn universiteit wyer as die primêre rol van kennissentrum en dryfveer van innovasie binne ʼn streek," sê Kirsten.

In aansluiting hierby, voeg prof Stan du Plessis, Uitvoerende Bedryshoof van die Universiteit Stellenbosch by: “Dit is duidelik dat dit uiters voordelig is om ʼn instelling soos die US in Stellenbosch te hê en dat dit verder strek as die direkte ekonomiese voordele en die Stellenbosse gemeenskap aansienlik ophef en verbeter. Nie net is die Universiteit arbeidsintensief nie in die sin dat dit meer welvaart as sy relatiewe grootte skep nie, maar dit dien as katalisator om beleggers, entrepreneurs en sakeleiers te lok, terwyl dit ook aktief bydra tot Stellenbosch as Kundigheidsgebied.

Wat egter net so belangrik is, is dat die studie toon dat die Universiteit inderdaad die soort universiteit is waarna die US streef: Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit wat wêreldwyd as inklusief en innoverend erken word, waar ons kennis in diens van die samelewing bevorder.

Meer inligting

*Die navorsing is in 2017 gedoen en die werklike waardes van 2016 is gebruik. Om die randwaardes vir 2018 te bepaal, is 2017 se verbruikersprysindeks (VPI) tesame met BEO se beraamde VPI vir 2018 gebruik.

**Meer oor die Ekonomiese Impakstudie

ʼn Ekonomiese Impakstudie  is 'n kwantitatiewe instrument om die ekonomie-wye voordeel van die US te bepaal, aangesien die aanvanklike uitgawes deur die instelling net die oortjies van die seekoei is. Die sogenaamde ekonomie-wye impak (of totale ekonomiese impak) van 'n instelling sluit in die direkte, indirekte en geïnduseerde impakte wat vloei uit die aanvanklike besteding van die instelling.

Vir personeel en studente is opnames gebruik om die totale uitgawes te bepaal en om die deel van die uitgawes binne die Stellenbosch-streek vir beide plaaslike inwoners sowel as personeel en studente wat buite die streek woon te beraam. Vir universiteitsuitgawes moes die plek van die verskaffer ook bepaal word om verskaffers van buite die streek uit te sluit.