Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Primaatbewaring in Afrika kan aan kortste ent trek in oliepalmverbouing
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 13/09/2018

'n Studie deur 'n groep internasionale navorsers, waaronder die Universiteit Stellenbosch se dr Zoltan Szantoi, het bevind dat hoewel winste uit oliepalmverbouing 'n belangrike inkomstebron vir menige tropiese lande, ook in Afrika, is, die toekomstige uitbreiding van die bedryf 'n verwoestende uitwerking op die primaatbevolking van Afrika sal hê. 

Die navorsers is verbonde aan die Europese Kommissie se gesamentlike navorsingsentrum (EU-JRC), die Franse Landbounavorsingsentrum vir Internasionale Ontwikkeling (CIRAD), die Liverpool John Moores Universiteit en ETH Zürich. Hulle studiebevindinge het onlangs in die vaktydskrif Proceedings of the National Academy of Sciences of the United States of America(PNAS) verskyn.

Volgens PNAS was die navorsers op soek na “kompromisgebiede – met ander woorde plekke wat uiters geskik is vir oliepalmverbouing dog 'n lae bedreiging vir primate inhou – sodat nuwe oliepalmplantasies voortaan dáár aangeplant en die nadelige impak op primaatbevolkings terselfdertyd verlaag kan word".

Tog dui die navorsing op weinig sulke moontlike kompromisgebiede op die Afrikavasteland. Szantoi, 'n navorsingsgenoot van die Departement Geografie en Omgewingstudie aan die US én by die EU-JRC, sê: “'n Skrale 0,13 Mha Afrikagrond is hoogs geskik vir oliepalmverbouing en hou terselfdertyd 'n lae bedreiging vir primate in. Dít is 'n oppervlakte kleiner as die Addo-olifantpark in Suid-Afrika. Wanneer grond met die absolute minimum vereistes vir oliepalmverbouing ingesluit word, verhoog dit tot slegs 3,3 Mha."

“Die vraag na palmolie," verduidelik Szantoi, “sal na verwagting teen 2050 verdubbel, wat beteken dat ongeveer 53 Mha bykomende grond in oliepalmplantasies omskep sal moet word. Volgens ons bevindinge is daar tans slegs 3,3 Mha beskikbare grond in Afrika waar dié plantasies 'n lae impak op primate sal hê, wat 'n geweldige klein oppervlakte is vergeleke met die algehele landmassa van Afrika (3 037 Mha)."

Die studie het aan die lig gebring dat “populasies van verskeie primaatspesies aan die kwyn is weens menslike bedrywighede soos landbou, wat oliepalmverbouing insluit, sowel as bosbou en mynbou".

“Afrikaprimate is reeds bedreig: Sowat 37% van die spesies op die vasteland self en 87% van die spesies op Madagaskar word deur uitsterwing in die gesig gestaar. Daarbenewens is primate 'n goeie barometer van algehele biodiversiteit. Hulle vervul 'n belangrike rol as saadverspreiders om die samestelling van bos-ekosisteme in stand te hou, en daarom dien enige veranderinge in hulle populasie ook as 'n aanwyser en voorspeller van die welstand van ander spesies."

Daar is voorts geen teken dat die vraag na oliepalm in die toekoms sal afneem nie. Die olie word vir ongeveer 30% van die wêreld se groenteolieproduksie gebruik, en word boonop al hoe belangriker as 'n bron van biobrandstof. Dit lewer ook 'n reusebydrae tot ekonomiese groei in die lande waar dit ontgin word. 

Die navorsers het hulle bevindinge gemaak deur eers die beskikbare inligting oor die verspreiding van 193 Afrikaprimaatspesies en hulle bedreigingstatus saam te voeg om 'n kaart van kumulatiewe primaatkwesbaarheid saam te stel. Daarna is dié kaart met 'n onlangse kaart van oliepalmgeskikte gebiede vergelyk. Die twee kaarte het opvallende ooreenkomste in die hele Afrikastreek suid van die Sahara getoon, waar gebiede met hoë primaatkwesbaarheid en oliepalmgeskiktheid in 'n groot mate oorvleuel. Dít dui op 'n tekort aan grond waar oliepalm op minimum geskiktheidsvlakke verbou kan word sonder om primaathabitat te vernietig. Trouens, die beskikbare grond maak slegs 6,2% uit van die grond wat nodig is om teen 2050 in die vraag na oliepalm te voorsien (53 Mha), en verminder verder tot net 0,2% indien die ontleding slegs uiters geskikte grond in ag neem.  

Volgens Ghislain Vieilledent, 'n navorsingsekoloog van CIRAD/EU-JRC en mede-outeur van die studie, sou 'n moontlike temperingstrategie wees “om alternatiewe planne vir landbou-uitbreiding aan die hand van die 'SMART'-maatstawwe te ondersoek [dit wil sêplanne met spesifieke,meetbare, haalbare (“attainable"), resultaatgerigte en tydgebonde doelwitte, oogmerke en strategieë] en om primaatgebiedsverlies so ver moontlik teen te werk".

Die navorsers het bevind dat die scenario wat op maksimum oliepalmgeskiktheid berus tot die grootste algehele primaathabitatverlies lei. Die primaatkwesbaarheidscenario, daarteenoor, maak dit moontlik om die getal primaatspesies wat beduidend deur oliepalmuitbreiding geraak word betreklik laag te hou. 

“Maar selfs in hierdie 'optimale' scenario sal meer as vyf spesies steeds gemiddeld 1 000 ha van hulle gebied verloor vir elke 1 000 ha grond wat in plantasies omskep word. 'n Toename in die vraag na palmolie vir biodiesel sal die vraag na grondomskakeling selfs verder die hoogte laat inskiet, wat die belang van toekomstige beleide oor vervoeruitlaatvrystellings onderstreep," sê hulle. 

Szantoi voeg by: “Natuurlik is daar maatreëls wat produsente, regerings sowel as die algemene publiek kan tref om die uitwerking van oliepalmplantasies te bestry of teen te werk. Beter bestuurspraktyke van bestaande plantasies is 'n beginpunt. Dít sluit in die ontwikkeling van variëteite wat groter oeste lewer, behoorlike spasiëring, die gebruik van organiese bemesting sowel as beter oesgereedskap en naoestegnieke."

“Regerings kan ook die verryking (oftewel verbetering van grondgehalte) van gebiede met lae produksieaanwysers bevorder, en die produkte van bestaande eerder as nuwe gebiede ondersteun deur die plaaslike bevolking belastingkrediete te bied. Dit sal ook help as die algemene publiek beter ingelig word oor die gebruik van kookolie, veral in ontwikkelende lande waar die meeste kookolie 'n palmoliebasis het. Daarom is algemene openbare opvoeding 'n moet."

Die hoofouteur, Giovanni Strona van die EU-JRC, benadruk wat Szantoi sê: “Dit is belangrik dat alle segmente van die samelewing bewus is van die impak wat ons verbruik op kwesbare ekosisteme het. Ons hoop dat ons bevindinge hierdie bewustheid sal aanhelp en beter praktyke met 'n kleiner impak op primate en ander biodiversiteit tot gevolg sal hê."

Foto's voorsien deur Serge Wich, Henry Camara, Tatyana Humle, Ghislain Vieilledent en Andreas Brink