Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Hokkie-mans wen sesde agtereenvolgende ligatitel
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 11/09/2018

​Maties Hokkie se mansspan het 'n op-en-af-seisoen op 'n hoë noot afgesluit met 'n sesde agtereenvolgende Westelike Provinsie Grootuitdaag-ligatitel.

Maties het die jaar begin met 'n plek in die finaal van die Varsity Sport-hokkietoernooi en dit opgevolg met 'n verskyning in die finaal van die USSA-toernooi. Albei finale het in nederlae geëindig en Keenan Horne en sy spanmaats wou die jaar graag afsluit met 'n oorwinning in die liga, soos hulle die afgelope vyf jaar gedoen het.

Vanjaar het hulle die liga met 'n oorwinning oor Langa beklink, maar daar was nog een wedstryd oor. In 2017 het Maties die liga gewen, maar die seisoen afgesluit met 'n nederlaag teen WPCC. Hierdie jaar wou hulle die bordjies verhang.

Hulle het toe wel die wedstryd teen WPCC gewen en die seisoen op 'n hoë noot geëindig. Dit was ook die laaste verskyning van drie Maties wat saam langer as twee dekades vir Maties gespeel het. Horne (8 jaar), Jordan Turnbull (7) en Dayne Samboer (6) het al drie hul laaste wedstryd vir Maties gespeel.

"Nadat ons hierdie jaar in twee finale verloor het, was daar baie druk om die liga te wen," het Horne gesê. "Om die titel te wen en die seisoen met 'n oorwinning te eindig, was net wat ons nodig gehad het en wou hê."

Maties het in die 2018-seisoen 28 wedstryde gespeel, met 21 oorwinnings en 4 gelykopuitslae. Die span het 87 doele aangeteken en 33 afgestaan. Samboer was die topdoelskieter met 16 doele, gevolg deur Reece Arendse (12) en​​ Luke Schooling (10).