Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onsigbaarheid van swart vroue in SA
Outeur: Dr Azille Coetzee
Gepubliseer: 27/08/2018

Die afgelope twee dekades sien ons golwe van xenofobiese geweld waarin die onderskeid tussen Suid-Afrikaanse burgers en nieburgers op onmenslike wyse gehandhaaf, versterk en verdedig word, 'n grens wat diegene met 'n aanspraak op Suid-Afrikaanse hulpbronne en beskerming skei van dié wat nie 'n reg daarop het nie.

Immigrasiediskoerse hou egter nie rekening met die feit dat die skeidslyn tussen burgers en nieburgers in die daaglikse lewe in Suid-Afrika op sy beste vaag is nie. Navorsing toon die land se vroue het steeds nie toegang tot hul burgerregte in gelyke mate as wat mans het nie. Reeds in 1999 skryf 'n regskenner van die Universiteit Stellenbosch, Sandra Liebenberg “[n]a die mate waartoe arm swart vroue van effektiewe toegang tot maatskaplike dienste, ekonomiese hulpbronne en geleenthede uitgesluit is, het ons gefaal om volle burgerskap vir almal in Suid-Afrika te bewerkstellig".

Vandag, meer as twintig jaar sedert die oorgang tot 'n demokrasie, het daar weinig verander. Swart vroue bly die armste groep in Suid-Afrika. Arm swart vroue word die meeste aan die wisselvalligheid van die laaggeskoolde arbeidsmark blootgestel, disproporsioneel deur MIV-infeksie geraak en op ongelyke wyse met die versorging van kinders, siekes en bejaardes belas, wat hulle dikwels in nog groter armoede dompel, of jongmeisies van onderwysgeleenthede ontneem. Dié dinge maak dat swart vroue minder in staat is om hulle regte op te eis en te realiseer, en deelnemende burgers te word.

Hierdie uitsluiting is opvallend in die politieke immigrasiediskoers in Suid-Afrika. “Hulle steel ons werk en ons vroue," is die regverdigende narratief wat algemeen in xenofobiese aanvalle gebruik word. Dié narratief reduseer (swart) Suid-Afrikaanse vroue tot besittings of kommoditeite wat vir Suid-Afrikaanse mans gereserveer word, en verskraal vrouetrekarbeiders tot die besittings of bagasie van manlike trekarbeiders. Hierdie diskoers sê duidelik iets oor burgerskap in die nuwe Suid-Afrika: dit bly 'n manlike aangeleentheid.

'n Kritiese manifestering van Suid-Afrikaanse vroue se tweederangse burgerskap is die epidemie van volgehoue seksuele geweld wat grotendeels deur die media verswyg word, deur die regstelsel ongestraf gelaat word, en deur politici en landsburgers geïgnoreer word.

In haar boek Rape: A South African Nightmare (2015) ondersoek Pumla Gqola Suid-Afrika se koloniale geskiedenis in 'n poging om te verklaar waarom die nuwe Suid-Afrikaanse nasie se reaksie op die probleem van seksuele geweld so jammerlik ontoereikend is. Sy voer aan dat, oor die land se hele geskiedenis van slawerny, kolonialisme en apartheid heen, die verkragting van swart vroue wetlik, moreel en sosiaal toegelaat is. Volgens haar is dit omdat die liggame van swart vroue as die besittings van slawe-eienaars beskou is, of, selfs wanneer hulle nie slawe was nie, dikwels as primitief hiperseksueel uitgebeeld is, sodat geen seksuele misdryf teen hulle as niekonsensueel gekwalifiseer kon word nie. Gqola voer aan dat só 'n 'verkragtingsregister' geïnspireer is deur die stereotipe van die “onverkragbare swart vrou" wat deur slawerny in die Suid-Afrikaanse samelewing gevestig is, deur koloniale verowering daarin veranker is, en verder deur apartheid versterk is.

Tot vandag toe is ons nie in staat om hierdie koloniale paradigma af te breek wat menslike subjektiwiteit op die lees van (wit) manlikheid skoei en die swart vrou, vanweë haar verskil van hierdie standaard, polities nie as volwaardig mens beskou nie en ontken dat haar liggaam ten volle aan haar behoort.

Gqola se konsep van die “onverkragbare swart vrou" kan verklaar word na aanleiding van die Amerikaanse filosoof Judith Butler se konsep van onbetreurenswaardigheid. Butler tref 'n onderskeid tussen 'n betreurenswaardige en onbetreurenswaardige lewe. Sy voer aan ons neem die wêreld binne polities-versadigde raamwerke waar, raamwerke wat slegs sekere lewens as volwaardig mens reken of registreer. Wat ons as 'n menselewe kan waarneem, word gevolglik beperk deur die heersende politieke paradigma en openbare diskoerse wat die kulturele voorwaardes vir 'n volwaardige menselewe stel. Die geweld teen diegene wat nie as volwaardig mens gereken word nie, kan nie daardie lewens benadeel of negeer nie, dit laat 'n merk wat nie 'n merk is nie, want dié lewens “was" nooit werklik nie. Die skade aan dié lewens word nie openlik betreur nie. Dit beteken nie sulke mense bestaan nie en ly nie geweldig skade of lewensverlies nie, dit beteken gewoon die skade aan dié lewens word nie as sodanig in die samelewing erken nie, want die lewe waaroor dit gaan, word nie as 'n volwaardig mens gereken nie.

Gqola se argument kan volgens Butler se beskouing herformuleer word: die skade wat aan die liggaam en lewe van swart vroue in Suid-Afrika aangerig word, veroorsaak geen betreurenswaardige verlies of skade nie. Dit laat 'n merk wat nie 'n merk is nie, want die politieke raamwerk waarbinne ons die wêreld waarneem, is steeds versadig aan die koloniale logika en slawegeskiedenis wat wit mans sentraal stel en swart vroue buite die kulturele kontoere van volwaardige menswees met volle politieke agentskap plaas. Die voortslepende seksuelegeweld-krisis in Suid-Afrika, en die volgehoue tweedeklasburgerskap van veral arm swart vroue, weerspieël ons versuim om die nalatenskap van die koloniale moderniteit af te breek wat swart vroue se mensheid dubbel ontken (synde swart en vroulik), en beteken dat die skade wat hulle ly nie in die openbaar as betreurenswaardige letsels registreer nie.

Butler redeneer die openbare roubeklag oor 'n lewe is in wese 'n daad van nasiebou. Die lewens wat in ons samelewing as betreurenswaardig erken word, is 'n openbare aanduiding van watter lewens vir erkenning in aanmerking kom, lewens wat die moeite werd is om van kennis geneem te word, gewaardeer word, en beskermingswaardig is vir die nasie wat daarmee gemoeid is. Sover dit die kulturele voorwaardes vir volwaardige menswees weerspieël, verwoord die lewens wat ons betreur, asook dié wat ons nie betreur nie, iets fundamenteels oor ons selfbegrip as mense en burgers.

Telkens wanneer ons nalaat om die skade wat swart vroue ly in die openbaar en gesamentlik te betreur, neem ons deel aan nasiebou in 'n bose koloniale paradigma wat voortgaan om manlikheid en/of witheid as voorvereistes vir volle burgerskap en volwaardige mensheid te stel.

*Dr Azille Coetzee is 'n postdoktorale genoot by die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief in Genderpolitiek aan die Universiteit Stellenbosch.

Hierdie artikel het aanvanklik in die Cape Times verskyn.