Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrika dalk uiteindelik op pad na oplossings vir seksuele geweld
Outeur: Prof Amanda Gouws
Gepubliseer: 22/08/2018

​Die aanvang van Vrouemaand (Augustus) in Suid-Afrika vanjaar was verfrissend anders as ander jare. Die #TheTotalShutdown-vroueoptogte het die land die jaarlikse afgesaagde toesprake oor vrouebemagtiging deur politici gespaar.

Die optogte het Suid-Afrikaners herinner aan die protesaksie deur vroue gedurende die land se oorgangstydperk tussen 1992 en 1994 onder die vaandel van die Nasionale Vrouekoalisie. Destyds het vroue daarop aangedring om by die onderhandelingsproses en die ontwerp van die nuwe demokrasie ingesluit te word.

In die dekade daarná was aktivisme oor vrouekwessies beperk tot kleiner veldtogte, soos Shukumisa oor die Wet op Seksuele Misdrywe, of One in Nine, wat aanvoer dat slegs een uit nege verkragtings aangemeld word. Daar was ook aktivisme in die nieregeringsektor.

En toe gebeur die gruwelike moord op Anene Booysen vyf jaar gelede. Op die andersins vreedsame Bredasdorp in die Wes-Kaap het bendelede dié 17-jarige herhaaldelik verkrag, haar ingewande uitgehaal en haar vir dood agtergelaat. Die wreedheid van die aanval het die land geruk en tot nasionale protes gelei wat die koerantvoorblaaie gehaal het.

Die veldtog was van korte duur, maar het die soeklig gewerp op die behoefte aan staatsintervensie, wat jammerlik ontbreek. Drie jaar later, in 2016, het studente by universiteite landwyd die strate uit protes teen geslagsgebaseerde geweld ingevaar. Die #EndRapeCulture-optogte is deur vroue by universiteite gelei, en was myns insiens Suid-Afrika se #Metoo-beweging nog lank voordat #Metoo die res van die wêreld getref het.

Die #EndRapeCulture-beweging het die sluwe aard van seksuele geweld, mans se eiegeregtigheid en vroue se konstante vrees vir verkragting of seksuele aanranding blootgelê. Dit het weerstand gebied teen die normalisering van geslagsgebaseerde geweld.

Daarna het die kwessie weer vir 'n ruk uit die openbare domein verdwyn – tot onlangs toe vroue vir die #TheTotalShutdown-optogte begin mobiliseer. Dít was die eerste keer wat aktivisme op 'n nasionale vlak gekonsentreer het op geslagsgebaseerde geweld teen nie net vroue nie, maar ook teen lede van die LGBTIQ-gemeenskappe.

Dit was lankal meer as tyd vir hierdie aktivisme. Die optogte het nie net seksuele geweld op die voorgrond gestel nie, maar ook die binêre siening van geslag as 'man' en 'vrou' probeer verander.

Die eise

Die #TheTotalShutdown-memorandum stel 24 eise. Nie een daarvan is werklik nuut nie, maar is 'n herhaling van versoeke wat al oor en oor gerig is in die hoop dat iets dié keer sal verander.

Die belangrikste eise is:

  • 'n hersiening van vorige nasionale aksieplanne oor geslagsgebaseerde geweld, en die ontwikkeling van 'n nuwe nasionale aksieplan;
  • die hervestiging van die Gesamentlike Moniteringskomitee oor die Lewensgehalte en Status van Vroue, wat onder leiding van feminis en menseregteaktivis Pregs Govender in Suid-Afrika se eerste demokratiese parlement uitmuntende werk gedoen het om staatsdepartemente te moniteer;
  • 'n groter rol vir die land se hoofstuk 9-liggame, soos die Kommissie vir Geslagsgelykheid, in die monitering van geslagsgebaseerde geweld;
  • die voorkoming van sekondêre viktimisasie, en konsekwente vonnisse vir plegers van seksuele geweld; en
  • psigososiale steun en meer hulpbronne vir die Thuthuzela-sorgsentrums, wat as eenstopfasiliteite vir die aanmelding van verkragting by polisiestasies dien[U1] .

Wat volgende?

Vroue vra reeds langer as 'n dekade vir die meeste van die items op dié lys.

So, waarom het daar nog niks gebeur nie?

Daar is duidelik 'n tekort aan politieke wil om seksuele geweld te hanteer. Dit begin by staatsagentskappe soos die polisie, wat dikwels vroue se aanmelding van verkragting as onbelangrik afmaak, traag is om verkragting te ondersoek, en in baie gevalle self aandadig is aan verkragting. Dít moet verander.

Suid-Afrikaners moet weet hoe die polisie opgelei word om slagoffers van seksuele geweld by te staan.

Die groot getal vroue wat aan die #TheTotalShutDown-optogte deelgeneem het, toon dat vroue nie net slagoffers is nie. Hulle het ook 'n sterk wil. Die doelbewuste besluit om mans van die optogte uit te sluit was sodat vroue kon standpunt ínneem sonder dat mans óórneem. Mans kan hulle solidariteit toon deur saam met ander mans te werk, en deur mans wat geweld pleeg daaroor aan te spreek.

Die #TheTotalShutDown-deelnemers eis 365 dae van aksie teen geslagsgebaseerde geweld. Tog moet kragtiger maniere gevind word om rekenskap van die regering te eis. Die stryd teen geslagsgebaseerde geweld moet oor méér gaan as om oortreders agter tralies te plaas, soos die ANC-vroueliga se mantra “Rapists should rot in jail" te kenne gee.

Geweld moenie net hanteer word nadat dit gebeur het nie, maar behoort ook voorkom te word. Hoeveel méér vroue moet nog verkrag of vermoor word voordat Suid-Afrika met oplossings vorendag kom wat nie die verantwoordelikheid op vroue se skouers plaas nie?

Artikel deur prof Amanda Gouws, professor in Politieke Wetenskap en bekleër van die SARChi-navorsingsleerstoel in genderpolitiek

Hierdie artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn.