Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Passie is fundamenteel tot die bou van 'n loopbaan wat jy geniet… en geluk ook
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 21/08/2018

“Ek dink nie studente, of selfs meer ervare professionele persone en volwassenes, besef aldag nie dat die goue draad wat deur enige loopbaan loop 'n passie is vir wat jy doen. Vir my is dit fundamenteel dat jy passievol moet wees oor dít wat jy doen; jy moet wakker word en so opgewonde wees dat jy nie kan wag om dít wat die dag mag oplewer, aan te pak nie."

Dit is die beginsel waarop sakevrou en Matie-alumnus Adéle Smith ʼn loopbaan gebou het van meer as 20 jaar in diverse bedrywe waar sy verskeie poste beklee het, soos Operasionele Bestuurder en Direkteur, MH Direkteur, Menslike Kapitaal Bestuurder, hoof van Menslike Hulpbronne en Hoof van Korporatiewe Maatskaplike Belegging (CSI) vir groot multinasionale en korporatiewe maatskappye soos Lufthansa Lugdiens, Dialogue Groep, Ackermans Groep, en mees onlangs, die Foschini Groep.

Op 29 Augustus sal Adéle haar reis en loopbaan-avonture deel met studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) by die Alumni-betrekkinge Loopbaankafee. Die TedTalk-styl geleentheid sal plaasvind in Kamer 230 op die tweede vloer van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe op die hoek van Merriman- en Ryneveldstraat wat oop is vir alle studente.

Adéle het ʼn BA-graad behaal met Sielkunde en Duits as hoofvakke aan die US in 1997. Sy het ook verskeie korporatiewe programme voltooi deur die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) en Duke University Corporate Education.

Sedertdien het sy daarin geslaag om haar passie vir tale, kommunikasie, besigheid en mense en hul ontwikkeling te omskep in ʼn handelsmerk wat haar gehelp het om die verskillende paaie wat sy moes reis oor die jare met selfvertroue te loop en die verskillende hoede wat sy moes dra met gemak te dra.

Adéle, die ma van twee dogters, Zoë (9) en Mia (13), besit ook The Daily Coffee Café in Kuilsrivier saam met haar man (van die afgelope 17 jaar) en sakevennoot, Nate. Die Smith-egpaar is ook direkteurs van Accelerating the Business Case for Change, oftewel, ABC² Consulting, hul besigheidstrategie- en menslike hulpbron-agentskap wat in 2017 gestig is. Daarbenewens is sy ook ʼn Assosiaat by Legitimate Leadership, 'n Johannesburg-gebaseerde onderneming en leierskapsadviseur wat saamwerk met sakeleiers wêreldwyd deur werkwinkels en ʼn wye reeks intervensies te fasiliteer wat spanne en organisasiekultuur transformeer.

Die Loopbaankafee-reeks is in 2016 geloods deur die kantoor van Alumni-betrekkinge om ʼn platform te verskaf waar alumni kan skakel met die universiteit op ʼn ander manier, deur hul tyd en vaardighede aan te bied om huidige studente voor te berei vir die loopbane wat hulle wil hê. Vanjaar het die BA Studentekomitee (BASK) saamgewerk met Alumni-betrekkinge as deel van hul missie om huidige studente bloot te stel aan gevestigde Matie-beroepslui, om hulle te help voorberei vir hul toekomstige loopbane.

Shaun Stuart, bestuurder van Alumni-betrekkinge, sê dat, terwyl die US se graadprogramme wêreldbekend is en graduandi toerus met die relevante vaardighede en kennis om die take wat van hul vereis word uit te voer as hulle die arbeidsmark betree, het studies getoon dat graduandi oor die wêreld heen nie daarin slaag om hul loopbane te bou, of die beroepsleer suksesvol bestyg nie, omdat hulle sagte vaardighede kort.

  • Vir meer inligting oor die Loopbaankafee, volg die Alumni-betrekkings Facebook-blad by www.facebook.com/stellenboschalumni en die US Facebook-blad www.facebook.com/stellenboschuniversity. Twee studente kan ook ʼn sitplek wen aan die eettafel met Adéle die aand van die Loopbaankafee deur in te skryf vir die Loopbaankafee se Facebook-kompetisie wat geadverteer sal word op die Stellenbosch Alumni bladsy.