Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#VrouevanUS: Navorsingsprojek oor bariatriese chirurgie op dreef
Outeur: Marguerite van Wyk
Gepubliseer: 16/08/2018

Die samelewing het nie veel simpatie met oorgewig mense nie...

“Selfs in mediese geledere glo mense soms verkeerdelik oorgewig mense moet bloot minder eet, hulle is lui en hou nie by hul oefen- en dieetplan nie," sê dr Jeanne Lubbe, 'n spesialis konsultant aan die Afdeling Chirurgie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Die realiteit is veel meer kompleks...

Lubbe is besig met 'n navorsingsprojek oor die voordele, koste en nadele van bariatriese (metaboliese) chirurgie by Tygerberghospitaal, die enigste staatshospitaal in die land wat dit bied. Dié operasie help nie net met gewigsverlies nie, maar behandel ook diabetes en hoë bloeddruk en 'n reeks simptome wat met obesiteit verband hou.

Daar word wêreldwyd twee tipes bariatriese operasies op oorgewig pasiënte uitgevoer en albei word by Tygerberg-hospitaal aangebied.

Die eerste een is 'n gedeeltelike gastrektomie, waar die grootste deel van die maag verwyder word en 'n dun buis die kos van die slukpyp na die dunderm neem. Minder kos word dus op 'n slag ingeneem.

Die tweede prosedure is 'n maagomleiding, wat uit twee komponente bestaan. Die maag word eerstens omskep in 'n kompartement sowat 'n tiende van sy oorspronklike grootte. Pasiënte kan dus minder kos op 'n slag inneem. Tweedens kan 'n dunderm-omleiding ook gedoen word, sodat kos wat ingeneem word nie deur die hele dunderm beweeg nie, en minder kos deur die liggaam geabsorbeer word.

Narkose vir albei prosedures duur sowat drie uur en pyn word doeltreffend beheer. Volgens Lubbe word die operasie laparoskopies (met 'n kamera) gedoen, wat pyn help verminder. “Pasiënte staan sowat twee uur ná die operasie op en word binne twee of drie dae ontslaan. Die eerste twee weke drink hulle vloeistowwe, waarna hulle verpulpte en dan gewone kos eet."

Lubbe sê oorgewig mense plaas enorme ekonomiese druk op die staat. Altesame 30% van Suid-Afrikaanse mans en 60% van vroue is oorgewig. “Dié pasiënte stroom na diabetes-, ortopedie-, kardiologie- en vaskulêre klinieke."

Bariatriese chirurgie is nie altyd 'n prioriteit vir die staat nie, weens die groot getalle pasiënte wat 'n verskeidenheid van alle soort chirurgieë nodig het. “Geldelike tekorte in die gesondheidsorgstelsel veroorsaak dat oorgewig pasiënte hul beurt geduldig moet afwag. Ons hoop om dié operasies gereeld, maar op beperkte skaal uit te voer," sê Lubbe.

Mense met 'n LMI (liggaamsmassa-indeks) bo 40, of bo 35 met diabetes, kwalifiseer daarvoor. LMI word bereken deur die liggaamsgewig (kg) te deel deur die kwadraat van die lengte (in m) – dus kg/m2.

Geen wonderwerk nie

Die operasie is geen “wonderwerk" nie en behels 'n intense leefstylverandering. Pasiënte wat kwalifiseer, word deel van 'n dieet- en ondersteuningsgroep en raadpleeg 'n kliniese sielkundige en/of endokrinoloog.

Lubbe verduidelik: “Ons het 'n omvattende metaboliese program. Die nabye familie moet die pad saam met hul geliefdes stap en die vereiste dieetaanpassings en oefenprogram vóór die chirurgie verstaan. Pasiënte moet ook bewys dat hulle by 'n nuwe leefwyse kan aanpas voor hulle die chirurgie ondergaan."

Soos wat pasiënte maerder word, verminder (of verdwyn) die meeste simptome wat met vetsug verband hou. Die beste voorbeeld is diabetes, wat omtrent altyd verbeter. “Die chirurgie werk veel beter as medikasie of insulieninspuitings," sê Lubbe.

Verlgeleke met ander abdominale prosedures is die sterftesyfer weens bariatriese chirurgie laag – slegs 0,5%.

“Maar as pasiënte nie daarna 'n gebalanseerde dieet volg nie, kan hulle weer gewig aansit. En as hulle nie hul vitamienaanvullings neem nie, kan hulle ondervoed raak," waarsku Lubbe.

Volgens haar sien meer vroue as mans kans vir dié chirurgie en word dit nie sommer op groeiende kinders uitgevoer nie.

Twee jaar ná die operasie toon tussen 60% en 70% van die pasiënte 'n afname in oorgewig, 80% se diabetes verbeter en 25% se kanse om vroeg te sterf weens siektes wat verband hou met vetsug, verminder.

Metaboliese chirurgie is tot op hede dikwels verbind met glansvroue soos Sharon Osbourne en die aktrise Roseanne Barr. Binnekort sal dit moontlik ook binne bereik wees van uitgesoekte pasiënte, ook dié sonder rolprentsterre se bankbalans

Onderskrif: Dr Jeanne Lubbe.

Foto: Damien Schumann