Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoeveel vroue het ’n mens nodig?
Outeur: Prof Thuli Madonsela
Gepubliseer: 15/08/2018

Mans wat poligamie beoefen, is narsiste, en vroue wat daarmee vir lief neem, is touopgooiers wat gewoon aanvaar dat mans meer as een vrou in 'n verhouding verdien. Dít was my indrukke van die argumente wat aangevoer is in 'n onlangse SABC2-program getiteld Dare To Change, waarop ek heel per ongeluk afgekom het.

Ek was net terug van 'n besoek aan Mauritius, waar ek met 'n aangename paartjie wat ek pas ontmoet het oor poligamie gesels het. Hulle het my toevallig vertel dat 'n ou universiteitsvriend, wat ek altyd gedink het een van die mees onkreukbare mense is wat ek ken, 'n tweede keer getrou het, hoewel sy eerste huwelik nog bestaan. Ek was heimlik oortuig ons praat nie van dieselfde persoon nie, totdat 'n gemeenskaplike vriend met wie ek kontak behou het die storie bevestig het. Ek was geskok. Die keuse, is ek meegedeel, is om hetsy die eerste huwelik te laat ontbind of die man toe te laat om 'n tweede vrou te kry.

Sal dit ooit 'n aanvaarbare oplossing wees vir die vrou om 'n tweede man te neem as die huwelik die wind van voor kry?

Dit is byna 20 jaar sedert die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike uitgevaardig is, en 18 jaar sedert dit in werking getree het. Poligame huwelike uit die tyd voor die wet word erken. Poligame huwelike ná die wet word ook erken, mits dit aan bepaalde vereistes voldoen. Wat veral belangrik is, is dat 'n bestaande vrou of vroue hulle toestemming moet verleen, en dat die gemeenskaplike boedel vóór die nuwe huwelik onderverdeel moet word.

Die wet het poligamie gewettig, selfs al het die meerderheid vroue wat in sodanige verhoudings is of in poligame huishoudings grootgeword het dit ten sterkste verwerp. Daar is aangevoer dat poligamie op onbillike diskriminasie teen vroue neerkom omdat dit mans onbillik bevoordeel. Daar is gesê dit onthef mans van hulle maatskaplike, ekonomiese en emosionele verpligtinge in die gesin, en plaas die ouerlike verantwoordelikheid hoofsaaklik op vroue.

Poligamie is boonop daarvan beskuldig dat dit vroue en kinders blootstel aan 'n omgewing van toksiese wedywering om die man en pa se goedkeuring, en ook op vele ander maniere patriargie versterk.

Die paar vroue ten gunste van poligamie wou hoofsaaklik die regte beskerm van vroue wat reeds in poligame huwelike was. En soos een vrou op die Dare To Change-program, het sommige selfs geargumenteer dat poligamie verhoed dat mans skelm verhoudings aanknoop. Volgens haar is sy, in haar poligame huwelik, altyd gerus oor waar haar man is, en beskerm dit haar ook teen gevare soos MIV. Maar ís dit die geval?

Dat poligamie patriargie versterk, is onaanvegbaar. Maar waarom dit floreer, en waarom veral vroue dit verdedig, is duister. Die Dare To Change-argumente het my met 'n baie duidelike indruk gelaat dat sowel mans as vroue poligamie as 'n kulturele reg van mans beskou. Maar hoe kan 'n reg eensydig wees ingevolge 'n Grondwet wat vroue én mans se reg op gelykheid waarborg – 'n reg wat volgens die hof in Pretoria Municipality vs Walker onder meer behels om met “gelyke sorg en agting" hanteer te word. Die hof in daardie saak het ook gesê die verbod op onbillike diskriminasie in die Grondwet bied 'n “skans teen indringings wat onder meer menswaardigheid aantas".

Poligamie word onder meer geregverdig op grond van artikel 211 in die Grondwet, wat die gewoontereg en verbandhoudende wetgewing erken. Tog is dit belangrik om daarop te let dat artikel 211 spesifiek sê dit word “behoudens die Grondwet" erken.

Toe die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike geskryf is, moes ons die reg op die beoefening van poligamie met betrekking tot bestaande huwelike behou, want nie-erkenning sou hoofsaaklik vroue en kinders skade doen. Die wet was nodig omdat gebruiklike huwelike nie ten volle erken is nie, en 'n daaropvolgende siviele huwelik voorrang bo 'n voorafbestaande gebruiklike huwelik geniet het. In wese het dit vroue wat ingevolge die gewoontereg getroud is, sowel as hulle kinders, sonder 'n heenkome gelaat.

Dat dít onbillik en onregverdig was, kan nie betwis word nie.

Maar wat was die regverdiging vir toekomstige poligame huwelike? Die argument was destyds, en is steeds, kulturele keuse. Daar is aangevoer dat persone wat in kultuur en gebruike glo, nie verhoed behoort te word om dit te beoefen nie, mits dit niemand skade doen nie. Maar is poligamie werklik onskadelik? Wat van die eerste vroue? Wat as 'n vrou die huwelik betree en 'n lewe van wedersydse liefde, emosionele steun, ouerskap sowel as fisiese, emosionele en sosio-ekonomiese beskikbaarheid vir mekaar verwag? Wat gebeur as daar 'n derde en 'n vierde persoon is aan wie die man daardie selfde verantwoordelikhede verskuldig is? Kan hy werklik sy kant van die ooreenkoms met sy eerste vrou nakom?

Wat van die kinders? Kinders het meer as finansiële ondersteuning van ouers nodig. Hulle soek fisiese ondersteuning, emosionele ondersteuning, en selfs beskikbaarheid om met take soos huiswerk te help. Kan 'n pa met verskeie huishoudings wat sy aandag opeis sulke verantwoordelikhede nakom?

Sommige voorstanders van poligamie sê dit verhoed dat die vrou seksuele omgang met haar man hoef te hê as sy nie wil nie. Maar wat as haar seksuele behoeftes saamval met die ander vrou s'n? Skep dít nie die toksiese wedywerende omgewing waarteen vroue gedurende oorlegpleging oor die wet, en selfs veel vroeër in die dae van die Landelike Vrouebeweging en die tweede Vrouehandvesproses, gewaarsku het nie?

'n Probleem wat selde aangeroer word, is die las wat poligame staatsamptenare op belastingbetalers plaas. In plaas daarvan dat die staat en, uiteindelik, die belastingbetaler die koste van slegs een huweliksmaat dek, moet hulle nou 'n verdere een of meer finansier. Is dít billik en regverdig? Die verweer is dat dit die betrokke staatsamptenare se reg is om poligamie te beoefen. Tog het die belastingbetalers eweneens die reg om nie oorbelas te word om vir staatsamptenare te sorg nie.

Artikel 237 van die Grondwet vereis dat grondwetlike verpligtinge voorrang kry. Die finansiering van sulke verpligtinge kom egter duidelik in die gedrang indien sekere staatsamptenare deur onder meer poligamie op die leeueaandeel van die staatskas aanspraak maak. Dit is veral betwisbaar waarom 'n bykomende vrou met wie die amptenaar gedurende sy ampstermyn trou, deur die staat gefinansier moet word indien die betrokke funksionaris dit nooit goedgedink het om belastingbetalers in die saak te ken voordat hy die uitgawe namens hulle aangegaan het nie.

Uiteindelik moet ons onsself afvra of die lewe deesdae beter is vir vroue in poligame huwelike. Om aan te neem vroue het gelyke bedingingsmag is om jou blind te hou vir die ongelyke genderverhoudings wat uit patriargie spruit. Anekdotiese bewyse dui daarop dat baie mans nie eens toestemming vra nie, en dat dit ander nie 'n bloue duit skeel nie. Nietemin moet ons erken dat 'n afhanklike vrou beter daaraan toe is in 'n poligame huwelik as op straat.

Hou poligamiste op rondkyk? Die bewyse sê nee. Dalk is die pad vorentoe nie om die wet te verander nie, maar om seuns empatie te leer. Hulle moet weet dat vroue nie bestaan om hulle te bedien nie. Vroue is deelgenote met hulle eie fisiese, emosionele en sosio-ekonomiese behoeftes. Seuns moet weet dat om kinders groot te maak 'n voltydse verantwoordelikheid is vir mans én vroue, en veral ook dat 'n beter wêreld 'n maatskaplik regverdiger een is.

Twintig jaar later is dit tyd om die uitwerking van die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike op te weeg teen die destydse aannames oor poligamie toe die wet uitgevaardig is. Vir my gaan poligamie gewoon daaroor om narsistiese mans te behaag. Die antwoord lê daarin om mans te bevry van sulke narsisme, en vroue van die oortuiging dat daar geen ander uitweg is nie.

- Prof Thuli Madonsela is 'n professor en bekleër van die leerstoel in maatskaplike geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch, sowel as stigter van die ThuMa-stigting.

Artikel het aanvanklik in City Press verskyn

https://www.news24.com/Columnists/GuestColumn/how-many-wives-does-one-need-20180720