Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroueskoolhoofde in Suid-Afrika: die dinamiek wat sukses belemmer
Outeur: Prof Nuraan Davids
Gepubliseer: 13/08/2018

​Navorsing oor vroueskoolhoofde en onderwysleierskap draai om twee dominante narratiewe. Die een handel oor vroue se stryd om toegang tot leiersposte te bekom – sowel intern as ekstern. Die ander gaan oor die uitdagings waarmee vroue te kampe het om hierdie poste te behou.

Dié narratiewe het 'n gemeenskaplike tema: dat leiersposte in skole deur mans oorheers word. Wat ontbreek, is vroueskoolhoofde se identiteit as leiers wat ras, kultuur, etnisiteit, godsdiens, klas en seksualiteit betref.

Vroue is onderverteenwoordig in skoolleiersposte – dít ondanks 'n beduidende verskuiwing na geslagsgelykheid oor die afgelope twee dekades. Vroueonderwysers maak sowat 68% van die land se opvoedermag uit. Tog is slegs 36% van skoolhoofde vroue.

Ek het in my studie doelbewus die lewenservarings en -verhale van vroueskoolhoofde probeer verstaan en verken, in plaas daarvan om net op hulle veronderstelde hindernisse en uitdagings te konsentreer.

My bevindinge toon dat vroueskoolhoofde in Suid-Afrika uiteenlopende roetes volg om uiteindelik leiersposte te beklee. Hulle eie identiteite as leiers word sowel gerig as gestrem deur 'n verskeidenheid komplekse, onderling verwante faktore. Om die kwessies waarmee hulle te doen het te hanteer, vereis veranderinge op beleidsvlak. Boonop moet vroueonderwysleiers sélf ook die grense versit en denke verruim – nie net in verband met voorafbestaande, tradisionele, patriargale norme nie, maar ook oor hulle eie outonomie en vrye wil.

'n Leierskapsidentiteit

Die studie het op ses vroueskoolhoofde gekonsentreer. Almal is al vir minstens 20 jaar onderwysers. Hulle het by dieselfde skole klas gegee as waar hulle later as hoofde aangestel is. Nie een van hulle het al ooit vantevore vir 'n vroueskoolhoof gewerk nie.

Ál die vroue het al voorheen leiersverantwoordelikhede gehad voordat hulle hoof geword het. En almal is dit eens dat hulle nie vir hulle poste oorweeg sou geword het as dit nie vir hulle manlike voorgangers se goedkeuring was nie.

Straks die beduidendste bevinding is dat ál die skoolhoofde met wie ek gesels het hoë vlakke van selfvertwyfeling ervaar. Hulle beskou hulself as meer as bekwaam vir die pos, én die amp waardig. En hulle voel gemaklik daarmee om akademiese en administratiewe aangeleenthede te hanteer.

Tog deins almal sedert hulle aanstelling terug van sekere dele van hulle werk. Hulle vermy byvoorbeeld konflikbestuur onder personeel. Hulle delegeer dissiplinêre verantwoordelikhede aan mansonderwysers. Hulle kies om nié die leiding met skoolfinansies te neem nie. Dit is onduidelik of hierdie praktyk ewe algemeen in ander beroepe voorkom. Wat ons wél weet, is dat skole diepgewortel is in hulle omringende gemeenskappe en dikwels dieselfde normatiewe praktyke as daardie gemeenskappe onderskryf en beoefen.

Dít kan aan vele komplekse redes toegeskryf word. Een daarvan is dat dit onmoontlik is om leierskappraktyke van konteks, maatskaplike strukture en magsverhoudinge – onder meer vasgelegde geslagsverwante norme en funksies – los te maak.

Die meeste van die skoolhoofde beleef spanning en 'n gevoel van ontworteling – 'n ontuisheid en onsekerheid – in hulle poste sowel as in hulle verhoudings met mans- én vrouekollegas. Twee se verhoudings met hulle vrouekollegas is veral swak, en drie het my vertel hulle dink daaraan om te bedank. Dít strook met bestaande navorsing oor die groot getal vroue wat onderwysleiersposte voortydig verlaat.

Interne faktore

Navorsing dui gewoonlik op 'n aantal eksterne faktore wat keer dat vroue leiersposte beklee. Dít sluit in gesins- en huishoudelike verantwoordelikhede, werksomstandighede en geslagsdiskriminasie, sowel as 'n gebrek aan steun van familie en kollegas.

Tog, soos my studie toon, moet die invloed van interne faktore soos gebrekkige selfvertroue nie onderskat word nie.

Nie een van die ses vroue ervaar blykbaar 'n tekort aan steun of trots van hulle gesinne nie. Nietemin praat almal van hulle skuldgevoelens omdat hulle “nie genoeg tyd vir hulle gesinne maak nie".

Hierdie bevindinge stem ooreen met ander internasionale studies oor onderwysleierskap wat aanvoer dat vroueskoolhoofde se onderverteenwoordiging minder met eksterne hindernisse en diskriminasie as met vroue se selfbeskouing te doen het.

So, dit is moontlik 'n tekort aan leierskapsidentiteit eerder as spesifieke hindernisse wat vroue terughou. Dít beteken dat hoewel hulle dalk in ander se oë tradisioneel manlike ruimtes “ontwrig", hulle (nog) nie oor 'n leierskapsidentiteit beskik wat hulle in hulle eie vermoëns as leiers laat glo en hulself as leiers laat geld nie.

Om dít te verander, sal beleide gewysig moet word. Geen beleid oor skoolhoofde in Suid-Afrika skenk aandag aan die kompleksiteit van die uitdagings waarvoor ons te staan kom nie. In plaas daarvan word leierskap eerder as 'n stel voorafbepaalde kernprestasieaanwysers benader. Beleid moet so ontwerp word dat vroue hulle ervarings daarin kan herken.

Ook vroue het hier 'n rol te speel. Hulle is die enigstes wat grense kan verskuif en denke kan verruim. Dít geld met betrekking tot voorafbestaande, tradisionele, patriargale norme sowel as hulle eie outonomie en vrye wil. Hoewel eksterne hindernisse wél bestaan en uit die weg geruim moet word, moet vroueskoolhoofde ook begin gló dat hulle mans se gelykes is. Hulle verdien om leiersposte te beklee. Hulle het niemand se toestemming nodig nie.

Artikel deur:  Prof Nuraan Davids

Medeprofessor in die Filosofie van Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch

Hierdie artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn.​