Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Blinker toekoms verseker deur Tomorrow Trust
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 08/08/2018

​Die toekoms lyk blink vir ses Matiestudente wat beurse ontvang het van die Tomorrow Trust, ’n ruimhartige skenker van die Universiteit Stellenbosch (US) en ’n organisasie sonder winsbejag wat in 2005 gestig is. Die Trust verleen steun aan besonder behoeftige kinders met groot potensiaal vir die volle duur van hulle opvoedkundige reis.​

Met dié beurse kry die ontvangers kans om hulle volle potensiaal as selfonderhoudende en proaktiewe lede van die samelewing te bereik. Hierdie studente, wat in geneeskundige, ekonomiese en landboukundige rigtings uitblink, sou vanweë finansiële beperkings andersins nie ’n universiteit kon bywoon nie.

“Vir ons is opvoeding die medium wat verandering in individue se lewe aandryf, op só ’n wyse dat hulle hul omstandighede, gesinslewe en gemeenskappe verbeter, en terselfdertyd ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie op ’n makrovlak lewer,” sê die Hoof van die Departement Post-sekondêre Onderrig en Voorligtingsielkundige by die Tomorrow Trust, Stacey Rontiris.

“Die benadering tot opvoeding wat ons volg is nie alleen akademies van aard nie, maar is eerder gemik op holistiese steun aan studente om hulle in selfonderhoudende, onafhanklike individue te laat ontwikkel. Dit word op verskeie maniere deur ons verskillende programme gedoen, maar ons uiteindelik doel is altyd om ons studente te help om die beste weergawe van hulself te wees. Ons volg nie ’n ‘een-skoen-pas-almal’-beleid nie, maar verskaf individueel aangepaste en doelgemaakte steun vir elke leerder,” vervolg Rontiris.

Volgens Rontiris ondersteun die Tomorrow Trust sedert 2013 ’n klein aantal studente aan die US, terwyl hulle vanjaar besluit het om steun na ’n groter groepering uit te brei.

Sy meld dat hulle dié besluit geneem het op grond van die inspirerende rigting wat die Universiteit die afgelope jare inslaan, asook die kaliber Matiestudente met wie die Trust te doen kry. “Deur ons medewerking was ons veral beïndruk deur die konsekwente en volgehoue steun wat die studente ontvang, sowel as die betrokkenheid en toewyding van die personeel met wie ons tot dusver saam gewerk het. Al hierdie faktore in geheel beskou het dit vir ons maklik gemaak om te besluit dat ons meer op die Universiteit Stellenbosch wil fokus, en ons sien uit daarna om ons verhouding oor die volgende paar jaar verder uit te bou.”

Sy sê hulle hoop die groepering studente vir wie hulle vanjaar beurse aanbied, sal die grondslag van hulle basis in die Wes-Kaap vorm. “Ons beurse is vir die volle duur van ’n student se studietydperk en word outomaties elke jaar hernu solank as wat die student slaag en aan sekere ander vereistes voldoen,” verduidelik sy.

Volgens Rontiris hanteer hulle beursaansoeke op ’n geval-tot-geval-grondslag. “Alhoewel ons aansoekvorm sekere kriteria bevat, benader ons elke aansoeker as ’n individu en daarom neem ons al die faktore in ag wat die student se lewe beïnvloed voordat ons ’n besluit neem. Ons sluit nie outomaties aansoeke uit op grond van akademiese prestasie of gesinsinkomste nie. Ons volg ’n meer mensgerigte benadering en is gewoonlik op die uitkyk vir besonder behoeftige studente met groot potensiaal.”

Die beursontvangers kry ook die geleentheid om iets terug te ploeg sodra hulle hul volle potensiaal bereik het. “Alle studente wat via die Tomorrow Trust se Departement Post-sekondêre Onderrig gradueer, sluit by ons alumni-program aan. Ons alumni is verbind daartoe om op die een of ander manier in ons bestaande studente te belê, maak nie saak of dit finansieel of deur mentorskap en tutorgeleenthede aan ander studente is nie,” sê Rontiris.

Sy beklemtoon dat hulle graag met studente werk wat nie alleen gemotiveer en vasberade is om hulself en hulle omstandighede te verbeter nie, maar ook gretig is om te leer en al die geleenthede aan te gryp wat na hulle kant toe kom. “Ons model het oor die jare heen bewys dat wanneer studente by die program aansluit, ongeag hulle huidige akademiese prestasie, en oop is vir geleenthede vir groei, die groei op akademiese sowel as persoonlike vlak plaasvind.”