Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe Nike se hijab-sportdrag Islamofobie en patriargie die stryd aansê
Outeur: Prof Nuraan Davids
Gepubliseer: 06/08/2018

​Toe die sportvervaardiger Nike sy “Pro Hijab" in Maart 2017 bekend stel, was dit vanselfsprekend 'n deurdagte sakebesluit. Maar wat Nike – moontlik per ongeluk – gedoen het, is om die hijab in twee geheel en al verskillende narratiewe te erken.

Een is in reaksie op vyandige liberale demokrasieë wat daarop aandring om Moslemvroue te moderniseer deur hulle van die hijab te ontneem. Die ander is in antwoord op sekere vertolkings van Islam wat Moslemvroue se tradisionele drag en rol as onverenigbaar met die moderne sportwêreld beskou.

Eerstens, wat die standpunt van liberale demokrasieë betref, impliseer Nike se optrede dat indien dit ons geval dat Moslemvroue die hijab gedurende sportdeelname dra, dit tog nie so verkeerd kan wees om dit ook in ander kontekste te dra nie. Deur die “Pro Hijab" bekend te stel, maak Nike dit nie net aanvaarbaar om die hijab op die sportveld te dra nie; hulle maak dit aanvaarbaar om die hijab in 'n openbare ruimte te dra.

Liberale demokrasieë se beheptheid daarmee om Moslemvroue se dragkode in te perk en te reguleer, soos om die hijab uit openbare plekke te verban, maak dié vroue net meer kwesbaar. Wat liberale demokrasieë van hulle verwag, is om die sluier af te haal sodat hulle aanvaarbaar in die openbare domein kan wees.

In dié lande is die hijab 'n simbool en uitbeelding van onderdrukking en agterlikheid. In haar boek Heroines of sport: The politics of difference and identity (2000) skryf Jennifer Hargreaves: “Die sluier is 'n simbool van kultuurverskille. Vir nie-Moslems versinnebeeld dit Westerse vroue se bevryding teenoor Moslemvroue se onderdrukking. Die sluier verteenwoordig die 'andersheid' van Islam en word in die Weste veroordeel as 'n beperkende kledingstuk, 'n vorm van sosiale beheer, en 'n godsdienstige bekragtiging van vroue se onsigbaarheid en ondergeskikte sosiopolitieke status."

Wat Nike tweedens reggekry het, is om teenstand te bied teen die Moslempatriargie se regverdiging daarvoor om hulle vroue tot die privaat ruimte te verban. Volgens die patriarge bring vroue se deelname aan die openbare domein noodwendig hulle eerbaarheid en waardes in die gedrang. Deur Moslemvroue se deelname aan sport te erken, het die “Nike Pro Hijab" dus die simboliese rol van die Moslemvrou se liggaam in die openbare sfeer geplaas.

Sport ken immers geen geografiese of politieke grense nie. Dit beskik oor sowel die middele as die doel om verskillende maniere van dink, leef en meeding byeen te bring. Meer as enige ander bedryf, steek sport kultuur-, godsdiens- en taalgrense oor.

Moslemvroue en die openbare diskoers

Luukse ontwerpers soos Oscar de la Renta, Dolce & Gabbana, Versace en DKNY ontsluit geruime tyd reeds die voorheen onontginde mark van Moslemgeld, waarvan die welvaart in die Golfstreek die toonbeeld is. In dié verband word Nike se jongste klerebykomstigheid as gewoon opportunisties afgemaak.

Sommige – meestal Moslemvroue – het die “Pro Hijab" verwelkom. Maar dit het ook felle kritiek ontlok as 'n onderskrywing van vroueonderdrukking. Kritiek op sosiale media het spoedig tot ontstelde twiets onder die hutsmerk #BoycottNike gelei.

In die storm van ontevredenheid verloor ons egter drie beduidende feite en faktore uit die oog. Eerstens is Moslemvroue se deelname aan sport nie nuut nie. Tweedens het Moslemvroue wat aan sport deelneem en dit in Islam-drag wil doen – soos deur die hijab te dra – dit rééds gedoen. Derdens is dit 'n misplaaste opvatting dat Nike die eerste is om 'n hijab vir atlete te bemark.

Tog was die eerste persoon wat 'n “atleet-hijab" bemark het die Nederlandse ontwerper Cindy van den Bremen, wat dit in 1999 reeds gedoen het. Deesdae verkoop kleiner maatskappye wêreldwyd, soos Van den Bremen se Capsters, die Kanadese ResportOn, sowel as verskeie maatskappye in Moslembesit, die sport-hijab. Trouens, 'n spesifieke soort hijab van ResportOn was een van die redes waarom die Internasionale Federasie vir Tae Kwon Do toegelaat het dat Moslemvroue aan erkende toernooie deelneem.

 Capster sowel as ResportOn het prototipes voorgelê aan die Internasionale Voetbalverenigingraad (Ifab), wat in 2014 amptelik die Fédération Internationale de Football Association (Fifa) se verbod op die hijab opgehef het. Hierdie maatskappye het vir Moslemvroue 'n ruimte geskep toe hulle sportdeelname in gedrang was. Nike se bekendstelling van die “Pro Hijab" is daarom allermins baanbrekerswerk – al sê hulle veldtog wat.

Wat Nike wél met die bemarking van sy “Pro Hijab" vermag, is dat 'n internasionaal erkende handelsmerk 'n oënskynlik onderdrukkende en gemarginaliseerde kledingstuk na die hoofstroom bring. Teen die agtergrond van toenemende Islamofobie, wat ook al hoe meer teen Moslemvroue gerig word, is dit ondenkbaar dat Nike nié die onafwendbare politieke en sosiale nadraai verwag het nie. Inderwaarheid is die voortslepende polemiek waarskynlik die heel beste reklame vir hulle jongste produk.

Artikel deur prof Nuraan Davids, Medeprofessor in die Filosofie van Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch.

*Hierdie artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn.