Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PRONTAK 2018 (Professionele Onderrigontwikkeling vir Akademici)
Outeur: Claudia Swart
Gepubliseer: 03/08/2018

Die program Professionele Onderrigontwikkeling vir Akademici (PRONTAK) word jaarliks vir pas aangestelde akademici aan die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied. Die herontwerpte program vir 2018 bestaan uit vier fases wat sowel gesentraliseerde as fakulteitsgebaseerde aktiwiteite kombineer.

FASE 1: Informele sessies oor onderrig in die verskillende fakulteite, en formele bekendstelling

In die informele sessies het raadgewers van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) reeds vroeg in die jaar die nuwe akademici in hulle onderskeie fakulteite van die PRONTAK-program vertel.

Daarna is PRONTAK 2018 op 21 Mei formeel by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) bekend gestel. Altesaam 87 akademici en 59 PRONTAK-deelnemers het die geleentheid met die tema “Wat is goeie onderrig aan die Universiteit Stellenbosch?" bygewoon.

Ná 'n verwelkomingsrede is die eerste gespreksonderwerp – “Die onderrig- en leerkonteks by die Universiteit Stellenbosch" – bekend gestel. Hiervoor het deelnemers deur middel van 'n legkaartaktiwiteit verskillende institusionele beleidsdokumente bestudeer.

Later die oggend het deelnemers ook die belang van nadenkende praktyk bespreek, en veral ook die gebruik van terugvoering as 'n instrument om oor jou eie onderrigpraktyk te besin.

Die verskillende fakulteite het ná middagete in wegbreeksessies met hulle PRONTAK-deelnemers geskakel.

FASE 2: 'n Vier dae lange, diepgaande sessie

Vir fase 2 het die 60 PRONTAK-deelnemers uit die nege fakulteite van 17 tot 20 Julie 2018 'n vier dae lange sessie by die Goudini-konferensiesentrum bygewoon. Die program het die Dinsdagaand met 'n amptelike verwelkoming deur die Senior Direkteur: Afdeling Leer- en Onderrigverryking, dr Antoinette van der Merwe, begin. Prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, het ook die deelnemers toegespreek, hulle verseker dat die Universiteit sy akademici waardeer, en veral klem gelê op hulle onderrigrol en professionele leer.

Op die Woensdag is 'n sessie getiteld “Toegang tot kennis: Onderrig in jou dissipline en die beplanning van 'n module" aangebied, wat spesifiek op die formulering van uitkomste gekonsentreer het. Gesprekke, aktiwiteite en terugvoering in die groot groep het interaktiwiteit verseker in kleiner groepe, waar die deelnemers hierdie onderwerpe en die relevansie daarvan in hulle spesifieke omgewings ondersoek het.

Die deelnemers het op die Donderdag en Vrydag in drie klustergroepe gewerk om hulle onderskeie modules te ontleed. Een groep het die fakulteite Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Krygskunde sowel as Teologie verteenwoordig. 'n Ander het uit verteenwoordigers van die fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe, Regsgeleerdheid sowel as Ekonomiese en Bestuurswetenskappe bestaan, en die derde groep uit personeellede van die fakulteite AgriWetenskappe, Natuurwetenskappe en Ingenieurswese.

Fase 3 van PRONTAK is teen die einde van die program by Goudini aan deelnemers bekend gestel. Gedurende dié fase sal deelnemers 'n leergeleentheid vir die studente in hulle modules moet ontwerp en in werking stel, en terugvoering daaroor moet bekom. Die deelnemers sal dan in klein fakulteitsgroepe oor hulle ervarings gesels en op een leergeleentheid besluit wat hulle sal gebruik om 'n plakkaataanbieding vir die jaarlikse konferensie oor die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) op 31 Oktober (synde fase 4) te ontwerp.

As deel van nadenkende praktyk sal die deelnemers ook aangemoedig word om ewekniewaarnemings te onderneem. Hiervoor sal hulle die klasse van ervare dosente bywoon en met onderrig- en leerkampvegters in hulle fakulteite gesels.

Deelnemers het darem méér gedoen as net gewerk. Daar was volop geleentheid om met mekaar te gesels en in 'n ontspanne atmosfeer verhoudings met kollegas van hulle eie en die ander fakulteite te bou.

Die deelnemers het Goudini die Vrydag verlaat met 'n konseptuele raamwerk om oor hulle onderrig, leer en assessering te besin en hulle eie onderrigpraktyke te beplan en te versterk. Die konseptuele raamwerk is gegrond op prof Gilly Salmon se Carpe Diem-proses, wat spesiaal vir die US aangepas is as die DeLTA-model, oftewel “Designing Learning, Teaching and Assessment".

Twee van die deelnemers het die volgende terugvoering gebied:

“Fase 2 van PRONTAK het 'n mens net weer laat besef waaroor onderrig nou eintlik gaan. Dit het my 'n vars perspektief gegee en my gehelp om my onderrigstyl, -inhoud en -voorbereiding te bevraagteken."

“Ondanks my ses jaar onderrigervaring kon ek steeds heelwat leer om verder te ontwikkel. Dit sal beslis ook 'n positiewe verskil in my studente se leerervaring maak."

'n Toekomsblik op PRONTAK 2019

SOL werk reeds aan die PRONTAK-program vir 2019 op grond van deelnemerterugvoering en sy eie navorsing en waarnemings.

Vir enige verdere inligting of kommentaar, kontak Claudia Swart gerus by claudias2@sun.ac.za.