Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die USB stel nuwe aanlyn-sakekennisplatform bekend
Outeur: Amber Kriel
Gepubliseer: 31/07/2018

Die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool (USB) het onlangs sy nuwe aanlyn-platform, USB Management Review, met sakekennis-artikels wat op navorsing deur fakulteit, studente en navorsingsentrums gebaseer is, bekendgestel.

Die platform bied ook toegang tot opiniestukke, aktuele verslae en waardevolle insig tot die navorsingsproses. Die onderwerpe sluit aan by die USB se kundigheidsareas - leierskap, finansies, toekomsstudies, bestuursafrigting en strategiese bestuur.

Prof Piet Naudé, direkteur van die USB, sê: “Akademiese navorsing is belangrik, maar daar is ook 'n behoefte aan kennis wat op werklike besigheidsprobleme toegepas kan word.

“Dit vereis die omskakeling van teorie tot wat in die praktyk toegepas kan word; dit vereis 'n ander genre as suiwer akademiese taal om wyer toeganklikheid te verseker. Dít is waaroor USB Management Review gaan."

Redaksionele direkteur van USB Management Review en navorsingshoof by die USB, Prof Mias de Klerk, sê met hierdie aanlyn-platform wil hulle deur USB-navorsing 'n impak op die besigheidswêreld maak. “Die kernfokus van ons eerste uitgawe is leierskapintegriteit. Wat binne organisasies gebeur, is grootliks 'n uitkoms of gebrek aan die integriteit van leierskap.

“Leierskapintegriteit is een van die vele konstrukte wat deel vorm van verantwoordelike leierskap, wat 'n kernfokus van die USB se navorsing is. Verantwoordelike leierskap beskryf 'n generiese kwaliteit van alle leierskap wat gemik is om op 'n morele verantwoordelike wyse op belanghebbendes se bekommernisse te reageer," sê hy.

USB Management Review sal elke jaar in Junie en Oktober gepubliseer word om sigbaarheid tussen relevante belangegroepe te verseker. Dit kan verkry word via die navorsings tab op die USB se webtuiste. Kliek hier om die artikels wat in die eerste uitgawe verskyn het, te lees: https://www.usb.ac.za/management-review-main-page/