Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US beklemtoon solidariteit met die veldtog teen geslagsgeweld
Outeur: Corporate Communications Division/Equality Unit
Gepubliseer: 31/07/2018


In die aanloop tot Vrouemaand wil die Universiteit Stellenbosch (US) sy solidariteit met vroue en mans beklemtoon wat dwarsoor die land in die veldtog teen geslagsgeweld sal deelneem.

“Ons doen 'n beroep op alle Maties – personeel en studente – om ons ondersteuning visueel te illustreer deur 'n oranje kledingstuk of item op Woensdag 1 Augustus 2018 te dra. Oranje is die kleur van die veldtog om geweld teen vroue (UNiTE to End Violence against Women Campaign) te beëindig. Ons moedig ons kampusgemeenskap ook aan om môre van 13:00 tot 13:30 in 'n oomblik van solidariteit ons werk opsy te skuif," het Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier aan die US, in 'n verklaring aan studente en personeel gesê.

“Ons Eenheid vir Gelykwaardigheid (EvG) by die Sentrum vir Studentevoorligting en –ontwikkeling (SSVO) in die Afdeling Studentesake is verantwoordelik vir die koördinering van bewusmakingsveldtogte en die monitering van geslagsgeweld aan die US. Die Universiteit het oor talle jare 'n benadering van zero-verdraagsaamheid teenoor geslagsgeweld aanvaar. Ons is verbind tot 'n omgewing sonder geslagsgeweld, en tot die bevordering van gelyke regte vir almal. Opvoeding is die enkele belangrikste bydraende faktor tot die bevordering van gelykheid, tot die sosiale mobiliteit van vroue, en tot vroue- en genderregte.

“Geslagsgeweld is 'n diepgaande en verreikende probleem in ons gemeenskappe en universiteite wat bykans elke aspek van mense se lewens raak. Kom ons staan saam teen geslagsgeweld," het De Villiers gesê 

Om dié kritiese kwessie aan te spreek, het die Universiteit onlangs aangekondig dat 'n portefuelje vir die reaksie teen geslagsgeweld geskep sal word om bewusmakingsveldtogte te koördineer en geslagsgeweld te moniteer. Die besluit volg op die US se Verslag oor die Beëindiging van 'n Verkragtingskultuur (EndRapeCulture), wat in 2017 bekendgemaak is.

Volgens 'n uittreksel van die mees onlangse US Senaatsverslag “gaan die EvG voort met sy omvattende institutionele vigsreaksieplan en ander aksieplanne teen onregverdige diskriminasie en  seksuele teistering teen personeellede en studente. Die EvG het ook 'n verkragtingskultuur-opleidingshandleiding vir studente en personellede opgestel. Die eerste studente-klimaatsopname oor geslagsgeweld is ook reeds opgestel.

Mr Jaco Greeff Brink, Hoof van die EvG, het gesê in samewerking met die Menslike Hubronne se Diensbillikheid en die Eenheid vir Gestremdhede, is 'n aanlyn-sosiale geregtigheidskursus  vir alle US personeellede ontwikkel. Een van die ses modules fokus juis op sake wat met geslagsgeweld verband hou.

 “As alles volgens plan verloop, sal die kursus in teen die einde van jaar  kan afskop," het Greeff Brink gesê.

Hy het ook gesê die Universiteit het deur middel van die EvG noemenswaardige bydraes tot die Nasionale Beleidsraamwerk oor Geslaggebaseerde Geweld by hoëronderwysinstellings gemaak.


 

Ander inhoud oor geslaggebaseerde geweld:

http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=3688

http://www.sun.ac.za/english/Documents/Gender%20based%20violence%20must%20stop!%20Universities%20SA%20states.docx.pdf#search=gender%20based%20violence

http://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=5629

http://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=5196

http://www.sun.ac.za/english/Documents/Stellenbosch%20University%20EndRapeCulture%20Report%202017.pdf#search=gender%20based%20violence