In ʼn verkragtingskultuur het geweld teen vroue die nuwe 'normaal' geword.
Só het prof Julie Claassens van die Dissiplinegroep Ou en Nuwe Testament in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) op Maandag (4 April 2016) gesê. Sy was die spreker by 'n kollokwium wat deur die US se Departement Sielkunde aangebied is.
Claassens het gesê verkragting is die uiterse manifestasie van ʼn baie patriargale en gewelddadige konteks.
Claassens het Suid-Afrika se verkragtingstatistieke uitgelig en gesê na raming word daar elke 17 sekondes 'n vrou in die land verkrag. Sy meen dit het daartoe bygedra dat Suid-Afrika as die verkragtingshoofstad van die wêreld gesien word.
"Wat hierdie statistieke egter nie wys nie, is die vernietigende gevolge van verkragting nie net op individuele slagoffers nie, maar ook op vroue in gemeenskappe regoor die wêreld. Verkragting is nie net ʼn aanval op die liggaam nie, maar bedreig ook die mens in sy diepste wese."
In refleksie op die voortslepende realiteit van verkragting, het Claassens meer vertel oor die Bybelse verhaal van Tamar (2 Sam 13) en die storie van Susannah in die Apokriewe byvoeging van Daniël. Tamar is deur haar halfbroer Amnon verkrag, terwyl Susannah die toenadering van twee regters verwerp het en byna haar lewe as gevolg hiervan verloor het.
Claassens het gesê die stories van Tamar en Susannah weerspieël nie net die komplekse werklikheid van verkragting nie, maar wys ook die dapper reaksie van slagoffers wat weier om die normalisering van verkragting te aanvaar en dit op elke moontlike manier teen te staan.
"Vir beide lesers wat slagoffers van verkragting en seksuele aanranding was, sowel as vroue en mans wat in solidariteit is met diegene wat op sodanige wyse geskend is, bied hierdie verhale ʼn vrugbare ruimte om te besin oor wat dit van individue en gemeenskappe as geheel sal verg om die geweld van verkragting teen te staan en in geringe mate 'n verkragtingskultuur te verander."
Hierdie stories "help ons om die geweld van verkragting wat sistemies van aard en ʼn refleksie van 'n veel groter probleem is ʼn naam te gee. Hulle gee uiting aan vroulike vermoë - die tekens van vroulike weerstand - selfs al mag dit gering, gedemp of beperk wees in die lig van die oorweldigende vertoon van manlike krag. Dit help ons om vroue nie verder tot 'n toestand van magteloosheid te relegeer nie".
Claassens het gesê die stories van Tamar en Susannah kan ʼn belangrike rol speel om groter bewustheid te kweek oor die werklikheid van verkragting wat tot vandag toe voortduur.
- Foto: Prof Julie Claassens aan die woord by die kollokwium.
- Fotograaf: Justin Alberts