Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Huldeblyk – Prof Bongani Mayosi
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 30/07/2018

Ons spreek met groot hartseer ons diepste medelye uit met Prof Bongani Mawethu Mayosi se familie, vriende en kollegas. Prof Mayosi is Vrydag 27 Julie oorlede. Hy was vir baie mense, insluitened studente en personeel van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, 'n vriend, medewerker, mentor, hoogs gerespekteerde eweknie en 'n inspirasie. 

Prof Mayosi was passievol oor die bevordering van gesondheidnavorsing in Suid-Afrika, en het self aan die stuur gestaan van grensverskuiwende navorsing oor hartsiektes wat die armes raak, insluitend rumatiese hartsiekte, hartversaking en hartvliesontsteking veroorsaak deur tuberkulose. Hy was toegewyd tot die verbetering van die gehalte van sorg in die openbare gesondheidsektor, en ook bekommerd oor die uitdagings wat tersiêre onderriginstellings in die gesig staar in terme van transformasie. 

Prof Mayosi was 'n A-gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting met 'n pioniersgees. Die Orde van Mapungubwe, Suid-Afrika se hoogste eerbetoon, is in 2009 aan hom toegeken. Hy het in 1992 by die Universiteit Kaapstad (UK) aangestuit en is in 2006 as die hoof van die Departement Gesondheid aan die UK en Groote Schuur-hospitaal aangewys. In 2016 is hy aangestel as die Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde. In 2017 is hy verkies as 'n lid van die Nasionale Akademie van Geneeskunde van Amerika.

Toe Prof Mayosi twee jaar gelede, tydens ons fakulteit se 60ste jaarlikse Akademiese Jaardag, die hoofrede gelewer het, het hy beklemtoon hoe belangrik dit is dat daar op navorsingsvlak samewerking is tussen wetenskaplike dissiplines en tussen instansies. Hy het ons aangemoedig om aktief geleethede te ondersoek vir navorsingsamewerking in Afrika. Uit eerbetoon vir sy nalatenskap sal ons daarna streef om die waardes wat hy uitgestraal het, te laat voortleef. 

In die afgelope paar jaar was Prof Mayosi in 'n stryd met depressie gewikkel, en hy het eindelik daaraan beswyk. Ons as gesondheidsorgwerkers is besorg oor die toenemende voorkoms van psigiatriese siektes onder ons student, kollegas en leiers. Prof Mayosi se ontydige dood is weereens 'n herinnering dat ons steeds harder moet werk om geestesgesondheid te bevorder, psigiatriese siektes te destigmatiseer en te sorg dat voldoende hulp en ondersteuning beskikbaar is en gebruik word. 

Prof Mayosi sal onthou word vir sy nederigheid, integriteit, briljantheid, goedgeefsheid, toeganklike ingesteldheid en sy toewyding tot sy werk en die verbetering van ander mense se lewenskwaliteit. Ons is diep bedroef oor sy afsterwe.

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Universiteit Stellenbosch