Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel nuwe Visie en Strategiese Raamwerk bekend
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 24/07/2018

“Ons visie is om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitstekend, inklusief en innoverend erken word, en waar ons kennis in diens van die samelewing bevorder."

Só het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), vandag (Dinsdag 24 Julie 2018) gesê. Hy het gepraat by 'n personeelbyeenkoms op die Stellenbosch-kampus waartydens die US se nuwe Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2024​ bekendgestel is.

De Villiers het in sy toespraak gesê die bekendstelling van hierdie nuwe rigtinggewende dokument, wat die US se bestaande Institusionele Voorneme en Strategie 2013-2018 vervang, is 'n baie opwindende oomblik vir die Universiteit.​

“Met ons nuwe Visie en Strategiese Raamwerk toon die Universiteit Stellenbosch sy verbintenis om relevant te wees vir ons konteks en tot diens aan ons land en kontinent – 'n inklusiewe wêreldklas-universiteit in en vir Afrika."

 
  • ​​Selfoongebruikers klik hier vir video.

“Dit is ons generasie se bydrae tot die ontvouende verhaal van ons Universiteit; ons nalatenskap vir toekomstige geslagte."

“In die jaar van ons Eeufees – soos ons terugkyk op 100 jaar se geskiedenis – kyk ons ook na die toekoms, bepaal ons waarheen ons as 'n instelling wil gaan, en beraam ons planne om ons daar te kry."

De Villiers het daarop gewys dat die nuwe Visie en Strategiese Raamwerk ontwikkel teen die agtergrond van Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan, die Afrika-unie se Visie 2063 en die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte. Dit is die resultaat van 'n inklusiewe konsultasieproses waarby verskeie belanghebbendes dwarsoor die Universiteit betrokke was – van personeel en studente tot Raadslede.VisionLaunchEndler-27.jpg
Om sy nuwe visie te verwesenlik, sal die US die volgende ses kern strategiese temas nastreef: om ʼn transformerende studente-ervaring te bied, om genetwerkte en samewerkende onderrig en leer te voorsien, om navorsing vir impak te onderneem, om aan doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke deel te neem, om 'n voorkeurwerkgewer in die hoëronderwyssektor te word, en om die US in die geheel 'n florerende organisasie te maak.

Die nuwe Visie en Strategiese Raamwerk sal in drie fases geïmplementeer word. Fase 1 het gefokus op die ontwikkelingsproses wat tot die bekendstelling gelei het. In Fase 2 sal die klem val op universiteitswye integrasie van die Visie en Strategiese Raamwerk en in Fase 3 sal bestaande beleide, prosesse en prosedures daarmee belyn word.

De Villiers het gesê die US wil nie lippediens aan sy nuwe Visie en Strategiese Raamwerk bewys nie, maar wil hê dat nie net vir die instelling nie, maar ook vir die breër samelewing ʼn verskil maak.

In die verband het hy die hele universiteitsgemeenskap aangemoedig om dit te help verwesenlik.

“Ons moet nou hierdie dokument vat en in ons verskillende omgewings daarmee omgaan. Om dit meer inhoud en betekenis te gee. Om dit 'n lewende dokument te maak – met elke personeellid en student wat daad by die woord voeg."

De Villiers het sy dank uitgespreek teenoor prof Hester Klopper​, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, wat die proses bestuur het. Klopper het ook 'n aanbieding oor die nuwe Visie en Strategiese Raamwerk gedoen en gesê​ die uitdaging vir die universiteitsgemeenskap sal wees om te bepaal wat ons nodig het om te verander en te belyn​ ten einde 'n ​meer behendige​, aanpasbare​ en reagerend​e instelling te word.

De Villiers het ook hulde gebring aan sy voorgangers, proff Andreas van Wyk, Chris Brink en Russel Botman wat deur middel van hul eie institusionele raamwerke die US gehelp het om 'n toonaangewende universiteit te word wat 'n beduidende impak op die samelewing het.

  • Hooffoto: Prof Wim de Villiers praat met personeellede by die byeenkoms
  • Foto 1: Van die personeellede wat die geleentheid bygewoon het.
  • Fotograaf: Stefan Els