Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US help om ʼn 'lekker tuiste' in Kayamandi te skep
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie (Martin Viljoen)
Gepubliseer: 19/07/2018

​Meer as 120 personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Fasiliteitsbestuur, sy kontrakteurs en personeel van die Afdeling Aankope en Voorsieningsdienste het hierdie week as deel van Mandela Dag-feesvieringe op Kuyasa Horizon Development, 'n gemeenskapsprojek in Kayamandi in Stellenbosch, toegesak.

Onder meer het die vrywilligers die groentetuin en heinings opgegradeer, rommel verwyder, verskeie loodgieterswerk en reënwatertenk instandhouding gedoen, bome geplant, dakke herstel, verfwerk en elektriese herstelwerk gedoen, ʼn brandontruimingsplan opgestel en brandopleiding aan werknemers verskaf en rekenaars aan die rekenaaropleidingsentrum verskaf.

Die direkteur van Kuyasa, pastoor Nkosinathi Sixabayi, het gesê dat Kayamandi weens armoede en misdaad nie altyd die “sweet home" (oftewel lekker tuiste) ervaring het nie. (Kayamandi beteken “sweet home"). “Ons wil seker maak dat die volgende generasie kinders ʼn lekker tuiste ervaar. Ek wil dus graag die Universiteit en sy diensverskaffers hartlik bedank vir die wonderlike werk wat hierdie week en eintlik al in 2017 gedoen is. Wat vandag hier in terme van geld en hulpbronne verrig is, is waarskynlik meer as R300 000 werd. Dit help ons baie omdat die meeste van ons hulpbronne gebruik word om in die behoeftes van die kinders te voordien. Dit is regtig iets spesiaals vir ons."

Hy het ook melding gemaak van Nelson Mandela wat gesê het hy nie die eer moet ontvang nie, maar die kinders. “En ons het vandag daardie ervaring - swart, wit en bruin."

Me Aloma Fourie, Beplande Instandhoudingsbestuurder aan die US en organiseerder van Fasiliteitsbestuur se Mandela-Dag projek, sê dat hulle “baie dankbaar en geseënd is om saam met ʼn span te werk wat die afgelope paar weke nie net finansieel bygedra het nie, maar hul waardevolle tyd en energie opgeoffer het om herstelwerk by Kuyasa Horizon Development in Kayamandi te doen. Ons glo werklik in die werk wat hierdie sentrum in die gemeenskap doen en die impak daarvan in die gemeenskap. Dit was ʼn uitstekende geleentheid vir US-personeel en kontrakteurs om in die ware gees van Madiba se nalatenskap te verenig. Dankie aan elkeen!"

Kuyasa, wat “dagbreek" in isiXhosa beteken, het ten doel om die gemeenskap op te hef deur die jeug te bemagtig. Programme sluit in ʼn kinder-ondersteuningsprogram, ʼn voedingskema, ʼn leersentrum, ʼn uitvoerende kunste-program en sport- en leierskapontwikkeling.

Personeel en studente van die Universiteit Stellenbosch (US) vier Internasionale Mandela-dag met verskeie projekte en inisiatiewe. Aktiwiteite het op 17 Julie afgeskop, maar die meerderheid hiervan vind plaas in die week van 27 Julie wanneer studente terug op die kampus is.

• Kliek hier vir meer inligting.