Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
100 maniere om impak te maak – Maties vier Mandela se nalatenskap
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 16/07/2018

Studente en personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) sal weer Nelson Mandela Internasionale Dag met verskeie projekte en inisiatiewe vier. Aktiwiteite skop af in die week van 18 Julie, maar die meeste vind plaas in die week van 27 Julie wanneer studente terug is op kampus. Onder meer sal die kampusgemeenskap poog om 10 000 toebroodjies vir minderbevoorregtes in en om Stellenbosch te maak.

  • Aktiwiteite op die Stellenbosch-kampus sluit in 'n veldtog om geriefs- en kospakkies vir studente in te samel (18 Julie tot 3 Augustus), ʼn kollokwium met die tema “After Mandela" met paneellede uit onder meer Harvard (18 Julie); 'n brei-inisiatief om teddiebere vir die Tygerberg-hospitaal te maak (verskillende datums); ʼn Kamermusiek Gemeenskapskonsert by die Laerskool Rietenbosch in Cloetesville (15 Julie) en Maties Sport wat ʼn sportdag by Laerskool Devon Valley aanbied (18 Julie).
  • Op die Tygerberg-kampus word onder meer ʼn Pretloop / Stap aangebied om toiletware en nie-bederfbare voedsel in te samel (18 Julie) ʼn opruiming onder die brug naby die ingang van die kampus sowel as die kanaal aangrensend tot die spoorlyn langs die kampus (17 Julie).

Aktiwiteite bereik ʼn hoogtepunt met ʼn gesamentlike gemeenskapsgeleentheid in die Kylemore-omgewing op 25 Julie. ʼn “WOW Debatfees", ʼn bewusmakingsgeleentheid oor gesondheid, ʼn sportdag aangebied deur Maties Sport en  ʼn “Amazing Reading Race" – ʼn prettige program met die oog op bewusmaking vir die belangrikheid van lees met spoed en begrip – is op die spyskaart.

Op 18 Julie 2018 sou Nelson Mandela 100 jaar oud geword het. Terselfdertyd is 2018 ook die Eeufeesjaar van die Universiteit Stellenbosch (US). Die Eeufeesvieringe, met die tema 100 jaar van leer, groei en saam vorentoe beweeg, verteenwoordig ʼn nuwe begin vir die US, wat goed saamgevat word in die slagspreuk saam vorentoe | forward together | masiye phambili.

“Die viering van Madiba se nalatenskap maak sedert die begin van 2018 deel uit van die US se Eeufeesaktiwiteite," sê dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie. “Daar was al ʼn hele paar formele en informele gesprekke en geleenthede op die US-kampusse om ons besinning oor die lewe en nalatenskap van die ontslape vader van ons nasie sinvol te rig. Die Mandelaweekvieringe sal dus die hoogtepunt wees van voortgesette aktiwiteite om aan Madiba hulde te bring.

“Dit is belangrik om onsself aanhoudend daaraan te herinner om terug te gee, en om dit doelbewus en met oorleg te doen. Madiba se nalatenskap stel ons nie net in staat om juis dít te doen nie, maar help ons ook nederig bly."

Die US het in 1996 ʼn eredoktorsgraad aan Nelson Mandela toegeken as “simbool van bemagtiging deur leer, ʼn ikoon van vrede en versoening deur middel van onderhandeling en ʼn beliggaming van geregtigheid en mensdom".

“Dit is ʼn nalatenskap wat ons aan die US eerbiedig, en een wat ons goed sal dien as ons die tweede eeu van ons bestaan betree. Ons deel Madiba se oortuiging dat 'Onderwys die magtigste wapen is wat jy kan gebruik om die wêreld te verander'", sê prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier.

Volgens me Renee Hector-Kannemeyer, Adjunkdirekteur: Sosiale Impak sowel as hoof van Matie Gemeenskapsdiens (MGD), strook die tema '100 maniere om 'n impak te hê' met die US se Eeufeesvieringe. “Boonop sluit dit aan by die #SendMe-tema wat ontstaan het uit president Cyril Ramaphosa se uitnodiging en aangrypende aanhaling van wyle Hugh Masekela in vanjaar se staatsrede. En dit is wat ons doen met Mandeladag wat ʼn geleentheid vir studente en personeellede skep om via verskeie inisiatiewe hulle 67 minute by te dra."

“Die Universiteit is daartoe verbind om aktief tot die welstand van die samelewing by te dra. Deur hierdie wonderlike leier se lewe te vier, kry ons ook ʼn geleentheid om in sy voetspore te volg en ons aktiewe burgerskap op tasbare maniere uit te leef," voeg dr Antoinette Smith-Tolken, Direkteur: Sosiale Impak, by.

Toasties for Tummies-inisiatief

ʼn Ankerprojek van die Mandelaweekvieringe is die Toasties for Tummies-inisiatief, waarvoor ʼn allemintige 10 000 toebroodjies vir verskillende organisasies in en om Stellenbosch gemaak word. Die Stellenbosse afdeling van die Golden Key-vereniging bied jaarliks die projek in samewerking met MGD aan.

“Die US gebruik Mandeladag om geleenthede te skep wat tot voortgesette, volgehoue vrywilligerwerk vir studente en personeel kan lei," verduidelik me Michelle Pietersen, senior programbestuurder by MGD. “Toasties for Tummies, wat ʼn bewustheid skep van die voedselsekerheidsuitdagings waarvoor die Stellenbosse gemeenskap te staan kom, is ʼn ideale lanseerplatform vir personeel en studente in hierdie verband."

Afgesien van die Toasties for Tummies-inisiatief, vind 'n wye verskeidenheid ander geleenthede ook op Stellenbosch- sowel as Tygerbergkampus plaas. Dit wissel van onderwys-, kuns- en sportaktiwiteite tot gesondheidsbevordering, gesprekke, leeskompetisies en skenkingsveldtogte. Sodoende snoer fakulteite en professionele steundiensomgewings kragte saam om Madiba gedurende Mandelaweek te vereer.

Aktiwiteite bereik ʼn hoogtepunt op 25 Julie met ʼn gesamentlike gemeenskapsgeleentheid in die Kylemore-omgewing.

  • Klik hier vir inligting oor vrywilligergeleenthede gedurende Julie 2018 en om uit te vind hoe jy betrokke kan raak.​