Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kubaans Opgeleide Mediese Dokters Gradeplegtigheid: 'Mandela en Castro sou trots op julle gewees het'
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 17/07/2018

Altesame 57 graduandi van die Universiteit van Villa Clara in Kuba het vandag (17 Julie 2018) hul mediese grade ontvang by die 9de gradeplegtigheidseremonie van mediese dokters wat in Kuba opgelei is. Die geleentheid is deur die Nasionale Departement van Gesondheid aangebied en het by die Endler, Konservatorium (Conservatoire of Music) by die Universiteit Stellenbosch (US) plaasgevind.

Hierdie gegradueerdes is deel van meer as 800 studente wat gebaat het by die Nelson Mandela / Fidel Castro Mediese Samewerkingsprogram tussen Suid-Afrika en Kuba wat in 1997 begin het. Die doel van die program is om die tekort aan mediese praktisyns in histories-benadeelde gebiede aan te spreek, asook om meer menslike hulpbronne op te lewer en die gesondheidsorgstelsel in Suid-Afrika te versterk.

Onder die hooggeplaastes by die gradeplegtigheid was die Kubaanse Adjunkminister van Gesondheid, Dr Alfredo Gonzales Lorenzo,  die Adjunkminister van Gesondheid, Dr Joe Phaahla, wat die hoofrede gelewer het, die Visekanselier van die Universiteit van Villa Clara, Prof Ida Santana Perez, en provinsiale LUR'e vir Gesondheid soos Dr Gwen Ramokgopa van Gauteng.

Prof Stan du Plessis, die US se waarnemende Rektor, het in sy verwelkomingstoespraak sy dank uitgespreek teenoor die regerings van Suid-Afrika en Kuba vir hul ondersteuning aan die program. Hy het ook die mense van Kuba bedank omdat hulle studente uit Suid-Afrika gehuisves het.

“Vir die afgelope 14 jaar is studente van hierdie program by die US se MB, ChB-program geïntegreer. Ons is trots om ons rol as 'n nasionale bate in vennootskap met die Departement van Gesondheid te vervul," het Du Plessis gesê.

“Vandag is natuurlik 'n baie spesiale geleentheid omdat die deelnemende studente gaan gradueer. Maar dit is ook belangrik vir 'n ander rede: die wêreld vier Nelson Mandela se 100ste verjaardag."

“Die US het in 1996 'n eredoktorsgraad aan president Mandela toegeken omdat hy 'n simbool van bemagtiging deur leer; 'n ikoon van vrede en versoening deur onderhandeling en 'n beliggaming van geregtigheid en menslikheid was. Ons sal voortgaan om hierdie nalatenskap te respekteer," het Du Plessis gesê.

“In verantwoordelikheid aan die huidige en toekomstige geslagte, verbind ons ons nou tot die ideaal van 'n inklusiewe wêreldklas-universiteit in en vir Afrika. Dit is ons droom, want ons deel die oortuiging van voormalige president Mandela dat 'Onderwys die kragtigste enjin van persoonlike ontwikkeling is'. Ons is geëerd om vanjaar ook die US se ontstaan 100 jaar gelede te herdenk."

In sy hoofrede het Phaahla aan die graduandi gesê dat  hulle goeie ambassadeurs vir Suid-Afrika was. “Die stigters van die program sou baie trots op julle gewees het," het hy bygevoeg.

​Die US se Brass Ensemble onder leiding van Pamela Kierman, en die African Music Ensemble onder leiding van Ncebakazi Mnukwana het gaste met  'n verskeie Afrika en populêre musiek vermaak.  Voorsanger Wendy-Joy Crowley het die Suid-Afrikaanse en Kubaanse nasionale volksliedere gelei.​

Die Ambassadeur van Kuba in Suid-Afrika, Mnr Rodolfo Benitez Verson, het in 'n boodskap aan die graduandi wat in die gradeprogram gedruk is, gesê: “Om 'n dokter te wees, is 'n groot verantwoordelikheid. Jou beroep is nie bloot 'n beroep nie; dit is 'n roeping en lewe van diens aan ander. Jy het 'n pad gekies wat jou vermoëns tot die uiterste sal beproef, maar jou ook die grootste bevrediging sal bring. Jy sal elke dag geleenthede hê om 'n positiewe verskil in jou land en die lewens van jou pasiënte en hul gesinne te maak. Jy sal in staat wees om mense se lewens te raak wanneer hulle op hulle mees kwesbaarste is." 

CubaMedicalGrad-35.jpgCubaMedicalGrad-15.jpg