Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-fietsryers op pad na Wêreldstudentekampioenskap
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 17/07/2018

Twee lede van die Maties-fietsryklub – Max Sullivan (Meestersgraad: Publieke administrasie) en Jacques Lloyd (BRek) – sal Universiteitesport Suid-Afrika (USSA) by die Wêrelduniversiteite-fietsrykampioenskap in Portugal verteenwoordig.

Aksie begin op 31 Julie. Die ander lede van die Suid-Afrikaanse span is Jacques Horn en Elmari de Wet van UP-Tuks. Die kampioenskap bestaan uit 'n padwedren en tydtoets.

Die onlangse USSA-kampioenskap in Pretoria het 'n groot rol in Sullivan en Lloyd se voorbereiding gespeel. Maties het die kampioenskap gewen en Maties-fietsryer Gert Heyns het die algemene klassifikasie gewen. Lloyd het die groen trui as beste renjaer gewen en het ook algeheel tweede geëindig. Dit was die vierde jaar agtereenvolgens dat Maties die spankompetisie gewen het en 'n derde individuele titel vir Heyns. Ben Fish het die “King of the Mountain"-titel verower.

Maties was tweede in die vrouekompetisie en Linda Hitchings het algeheel tweede geëindig.

Sullivan en Lloyd is albei opgewonde en oorgehaal, nie net vir 'n fantastiese ervaring in Europa nie, maar ook om goeie vertonings vir Maties en Suid-Afrika te lewer.

“Maties het twee jaar gelede drie fietsryers na die Filippyne gestuur waar Suid-Afrika 'n 13de plek in die kriterium en 'n 6de plek in die padresies verower het. Ons hoop om hierdie jaar met soortgelyke resultate terug te keer," het Sullivan gesê.

“Ons sal in SA kleure ry, maar ook Maties se naam hoog hou," het hy bygevoeg.

  • Heyns het die afgelope naweek die SA Marathonkampioenskap in Grabouw gewen. “Die SA Marathonkampioenskap was my hooffokus van die jaar en om my doelwit suksesvol te kon behaal, is fantasties. Ek sal die SA strepe met trots dra vir die volgende jaar," het Heyns gesê.