Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Enkele dae oor om aansoek te doen vir studie by die Universiteit Stellenbosch
Outeur: Centre for Student Recruitment and Career Advice / Sentrum vir Studentwerwing en Loopbaanadvies
Gepubliseer: 25/06/2018


Voornemende Maties het net tot 30 Junie 2018 om aansoek te doen om aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer. 30 Junie is ook die sperdatum om aansoek te doen vir verblyf in die US se koshuise.

Die US word gereeld as een van die top drie universiteite in Suid-Afrika beskou volgens verskeie internasionale universiteitsranglyste. Die Universiteit het ook een van die hoogste eerstejaardeurvloeikoerse in Suid-Afrika, met meer as 85% van ons studente wat jaarliks na hul tweede jaar van studie vorder.

“Ons is baie opgewonde oor die toename in die hoeveelheid aansoeke vir 2019, wat bewys dat die US ʼn voorkeur-universiteit vir baie is. Ons is egter besorg oor die meer as 8000 aansoeke wat nie oorweeg kan word nie omdat hulle onvolledig is," sê Dr. Celeste Nel, Direkteur: Sentrum vir Toelating en Koshuisplasings.

“Voornemende studente word versoek om hul aansoeke eerder vroeër as later in te dien, om hulself genoeg tyd te gun om die aansoek – wat insluit die oplaai van die noodsaaklike dokumente, en die aanbring van nodige veranderinge – te voltooi."

Nel voeg by dat dit belangrik is dat aansoekers nie net weet wat die minimum vereistes vir ʼn program is nie, maar dat hulle ook die fakulteit se keuringsriglyne deurlees, insluitend watter punte nodig is vir keuring. Dit verskil dikwels van die minimum vereistes.

Finansiële hulp
Aansoekers kan ook begin om vir finansiële hulp aansoek te doen. Hier is die sperdatum 31 Augustus 2018. Die Universiteit bestuur meer as 19 000 voor- en nagraadse beurse en lenings namens maatskappye, individue en instellings.

Hulp en bystand tydens aansoek

Aansoeke kan aanlyn gedoen word by www.maties.com.

 

Voornemende studente word uitgenooi om ons professionele en vriendelike konsultante te kontak deur ons of te skakel by 021 808 9111, e-pos te stuur na info@sun.ac.za of aanlyn te gesels by www.maties.com (kliek op die 'Let's Talk'-opsie).