Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe US-Raadslede en amptenare verkies
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 21/06/2018

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het mnr Ainsley Moos Maandag (18 Junie 2018) by sy tweede geskeduleerde vergadering tot ondervoorsitter verkies. Hy volg prof PW van der Walt op, wie se termyn vroeër vanjaar verstryk het.

Moos, ʼn US-alumnus, is lid van die uitvoerende span van die finansiële dienstemaatskappye, African Rainbow Capital. Hy is ʼn lid van die Raad sedert 2014.

Mnr George Steyn, ʼn direkteur van maatskappye, is as voorsitter herkies. Hy is reeds sedert 2010 'n lid van die Raad (deur skenkers verkies) en sedert 2012 die voorsitter.

Prof Joan Hambidge en mnr Johan Theron (albei deur die Konvokasie verkies) sowel as me Khungeka Njobe (deur die Raad verkies) is weer in die Raad aangestel, terwyl proff Amanda Gouws en Usuf Chikte (albei deur die Senaat verkies) reeds by die vorige Raadsvergadering, op 26 Maart, weer aangestel is.

Hambidge is 'n professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad. Theron is 'n prokureur wat as kommersiële litigant praktiseer en Njobe is 'n stigter van die beleggingsonderneming, die Kay Ann-groep, en direkteur en lid van verskeie maatskappye en direksies. Gouws is ʼn uitgelese professor in Politieke Wetenskappe en Chikte is Hoof van die Departement Globale Gesondheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe – beide aan die US.

Daarbenewens het die Raad ʼn aantal nuwe lede verwelkom – mnr Hubert Brody (deur skenkers verkies), mnr Charl Cillié en adv Jean Meiring (albei deur die Konvokasie verkies) en mnr Wayde Davidse (deur permanente nie-akademiese personeellede verkies).

Brody is 'n direkteur van maatskappye, Cillié, 'n digitale projekbestuurder, Meiring, 'n advokaat van die Johannesburgse Balie en Davidse, 'n senior aankoper in die Universiteit se aankope- en voorsieningsafdeling.

By sy vorige vergadering het die Raad mnr Lwando Nkamisa, voorsitter van die Studenteraad, en mnr Euwen Etson, voorsitter van die Akademiese Belangeraad, as verteenwoordigers van die studenteliggaam verwelkom.

Die US Raad het ʼn toesighoudende verantwoordelikheid vir akademiese en bedryfsake, sowel as institusionele beleid en strategie by die instelling. Onder meer beheer die Raad die Universiteit se bates, dit is oorhoofs verantwoordelik vir die aanstelling van personeel en bepaal die instansie se toelatings- en taalbeleid