Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Terapiehonde op Universiteit Stellenbosch se kampus!
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 18/06/2018

​​Benewens onvoorwaardelike aanvaarding en liefde, het mens-dier-interaksie verskeie voordele wat betref ons gesondheid en ons sielkundige, sosiale en emosionele welsyn. So sê dr Marieanna le Roux, dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Sielkunde en lid van die bestuur van Pets as Therapy (PAT), 'n organisasie sonder winsbejag.

PAT organiseer vrywillige besoeke deur troeteldiereienaars en hulle honde aan ouetehuise, sorgfasiliteite vir verswaktes, spesiale skole, residensiëlesorgsentrums, en die afgelope tyd ook aan die studente van US. Tans word vyf verskillende honde gebruik. Volgens Le Roux bied hierdie besoeke geselskap, ondersteuning, vertroosting, plesier, stresverligting en ook stimulasie aan mense wat siek, afgesonder of op die een of ander manier onder druk is.

Die meeste studente wat elke Dinsdag die sessies by die Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling (SSVO) van die US bywoon, woon op kampus en verlang na hulle eie honde tuis. “Hierdie sessies bied studente die geleentheid om die honde in 'n informele omgewing te vertroetel en met hulle te speel. Vir ʼn kort tydjie kan hulle spontaan met die honde omgaan en vergeet van eksamenspanning of van enige ander ongelukkige omstandighede in hulle lewens. Dit is een van die wyses waarop die SSVO poog om ʼn verskeidenheid dienste aan studente te bied om hul welwees te bevorder.

Navorsing oor interaksie tussen mens en dier toon die waarde van troeteldiere vir mense. “Hoewel dit nie terapie as sodanig is nie, gebeur daar beslis iets in 'n mens gedurende interaksie met 'n hond. Om op universiteit te wees, stel vele eise aan studente en hierdie besoeke help hulle om hul stres te verlig.

PAT is in 2001 gestig en het meer as 94 geregistreerde eienaar/hond-spanne wat vrywillig meer as 75 instellings landwyd besoek. Die organisasie het takke in Kaapstad, die Helderberg-omgewing, Hermanus, George, Polokwane, Worcester en Port Elizabeth.

Vir meer oor PAT, gaan na https://www.pat.org.za/ of kontak dr Marieanna le Roux by mclr@sun.ac.za. Vir meer inligting oor die dienste wat die SSVO bied besoek gerus www.sun.ac.za/ssvo of kontak dr Munita Dunn-Coetzee by mdunn@sun.ac.za

IMG_0090_edited.jpg